Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Gemarineerde sampioene met tamatie & bocconcini

Mar 2, 2018 | Salad as a side, Sides & salads

So geurig
Die natuurlike en neuterige geur van sampioene pas by ’n wye verskeidenheid geurmiddels – van suurlemoen en vars kruie tot brandrissie, gemmer en ’n verskeidenheid speserye. Sampioene se uitstekende vermoë om ander geure te absorbeer, maak dit die ideale bestanddeel om te marineer. Hierdie gemarineerde sampioene is boonop veelsydig, want dit kan as deel van ’n slaai of net so as bygereg gebruik word. Sny dit kleiner en gebruik in koeskoes of op ’n peuselbord. Of verander ’n gewone groen slaai daarmee in ’n gourmet-slaai.

Kampioen-wenke vir sampioene:
– koop sampioene so vars as moontlik, sonder enige merke en onthou om dit liefs in kombuispapier of ’n bruinpapiersak in die yskas te hou. Dit verhoed dat die sampioene maklik sweet, muf en dan sleg word.
– moet nooit sampioene was nie – hulle is soos sponsies. Vee dit net met kombuispapier af. Die groeimedium waarin sampioene geplant word, is heeltemal skoon en steriel.
– moenie sampioene afskil nie, want die meeste van die voedingswaarde is in en net onder die skil
– soteer of braai sampioene oor ’n matige tot hoë hitte – die sampioene moet ‘n ‘piep’ geluid maak, dan is die pan net die regte temperatuur.
– moenie te veel olie gebruik nie, dan absorbeer die sampioene dit net.
– panbraai sampioene in sarsies – te veel in die pan op een slag, verlaag die pan se temperatuur en dan stoot die sampioene vog uit en begin kook, in plaas daarvan om te soteer.
– sampioene het ’n hoë persentasie water, wat verklaar waarom dit soveel krimp as dit gaar word – wees dus versigtig om dit oorgaar te maak. ,
– wilde sampioene word ook al hoe meer gewild, maar weet dat jy beslis ’n kenner moet wees as jy dit in die veld wil pluk!

Resep

Gemarineerde sampioene met tamatie & bocconcini

Lewer 4 – 6

Bestanddele

Gemarineerde sampioene

90 ml (6 e) olyf- of avokado olie

60 ml (¼ k) balsamiese- of rooiwynasyn

30 ml (2 e) suurlemoensap

10 ml (2 t) korrelmosterd

20 ml (4 t) elk gekapte vars basiliekruid en Italiaanse pietersielie

swartpeper na smaak

250 g heel babasampioene of knopiesampioene, in kwarte gesny

 

Slaaibestanddele

400 g verskillende klein tamaties, heel of gehalveer

150 g boccocini-kaas (mozzarella-balletjies), grof geskeur of fetakaas

’n handvol mikrokruie

Metode
  1. Sampioene: Meng al die marinadebestanddele saam en geur na smaak met peper. Meng dit met die sampioene en laat marineer vir tenminste 30-60 minute.
  2. Slaai: Skep die sampioene, tamaties en kaas op ’n bord en strooi die mikrokruie oor. Sit met van die marinade as slaaisous voor, indien verkies. Dis ewe lekker as bygereg, slaai of selfs ligte voorgereg.

Wenke

1. Enige orige sampioene kan in ander slaaie, op toebroodjies of iets soos koeskoes gebruik word. Dis ook heerlik as bykomstigheid met ’n stukkie vleis of hoender.

2. Hou die orige gemarineerde sampioene in ’n glasfles in die yskas.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This