Omelet-rolletjies met twee vulsels
Leef gesond: vir party mense is dit net eenvoudig ’n makliker ding om reg te kry as vir ander. Dalk is dit te danke aan die manier waarop jy groot geword het en hoe julle by die huis geëet het. Soms is mense net so gedissiplineerd, dat hulle kan hou by die besluit om gesonder te leef. Vir ander was daar dalk ’n spesifieke rede wat hul net laat besluit: ‘dis tyd om gesonder te leef en eet’ of dalk het jou dokter jou aangespreek en nou is dit jou nuwe manier van doen. Hoe dit ook al sy, die beginsels vir ’n gesonde leefstyl is nie baie ingewikkeld of moeilik om te volg nie. As jy kan onthou om matigheid voor oë te hou, ’n groot verskeidenheid kossoorte in te sluit en so vars en onverfynd of ongeprosesserd as moontlik te probeer eet en gereeld oefening te kry, is jy reeds op die regte spoor. Met matige porsies, kan jy amper eet net waarvan jy wil, maar dan moet die balans mooi gehou word met kos wat regtig voedsaam is. Om ’n gesonde leefstyl te volg, hoef nie duur te wees nie. Met alledaagse bestanddele kan jy interessante etes voorberei en elke dag heerlik eet. Dit verg dalk so bietjie beplanning om seker te maak die regte bestanddele is op jou inkopielys en as jou week se spyskaarte so bietjie vooruit beplan is, maak dit dinge net soveel makliker – nie net vir aandetes nie, maar beslis ook vir daardie kosblikke wat gepak moet word.
Ek is dol oor eiers – vir verskeie redes. Dis ’n baie bekostigbare bestanddeel, veral in ag genome hoeveel voedingswaarde daar in een eierdop opgesluit is. Dis ook nie net die proteïen in eier wat belangrik is nie, dis ook ’n goeie bron van ander noodsaaklike vitamiene, minerale en gesonde olies. Eiers is ongelooflik veelsydig, meer as baie ander bestanddele waaraan ek kan dink. En die veelsydigheid is nie net die feit dat dit vir van soetgebak tot ’n maaltyd gebruik kan word nie, maar het jy al gedink by hoeveel ander bestanddele eiers pas? Dit is juis wat hierdie een-eier omelette so perfek maak, want ’n wye verskeidenheid bestanddele kan as vulsel gebruik word. Kyk na die wenke onderaan die resep vir nog idees. Dalk hou jou kinders nie van kruie in die omelet nie, maar dan kan jy vir hulle dalk kaas gebruik? Dis letterlik een eier en een eetlepel water wat saam geklits word om, soos ’n pannekoek, as omelet te bak. Bak een of twee omelette vir elke kind en dalk selfs drie vir ’n grootmens. As die omelet gevul is en in skyfies gesny word, noem ek dit sommer ‘eier-sushi’.
Saam met die omelette kan jy enige vars bestanddele inpak om seker te maak die kosblik is gebalanseerd. Hierdie tyd van die jaar word die verskeidenheid vars vrugte en groente ook meer, so daar is baie om uit te kies. Probeer om die kosblik (of ete) so kleurvol as moontlik te maak, dan weet jy reeds dat jy ’n verskeidenheid voedingstowwe ingesluit het. Probeer beslis ook om nie alles gaar te maak nie, maar pak bv. sommer rou wortels, sampioene en klein tamaties in. Elke ete moet ook gesonde olies insluit, so saam met dit wat in die eiers is, is iets soos ’n bakkie neute of sade perfek. Dit kan selfs as peuselhappie later in die dag geëet word.
1 Nulaid ekstra-groot eier, geklits
15 ml (1 e) water
sout en pepper
10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie
gladde maaskaas
handvol vars kruie, bv. dille, pietersielie of tiemie, gekap
2. Verhit olie oor matige hitte in ’n 20 cm pan (gebruik ’n AMC 20 cm Skillet of 24 cm Chef’s Pan) ‘n bak ’n dun omelet tot net gestol. Draai om en bak vir ’n minuut aan die ander kant – amper soos wat jy ’n pannekoek sal bak. Skep uit en laat afkoel. (Berei een tot drie omelette vir elke gesinslid.)
3. Smeer gladde maaskaas oor die omelet en strooi kruie van jul keuse oor. Rol op en sny in die helfte of in dik skyfies. Geniet as deel van ’n ligte maaltyd met groente en slaai of pak in kosblikke met vars bestanddele.
Omlete-rolletjies met maaskaas en songedroogde tamaties
Lewer 6 omelet-rolletjies
4-6 songedroogde tamaties
250 ml gladde maaskaas
sou ten peper
6 Nulaid eiers
30 ml (2 e) olyf – of avokado-olie
handvol spinasieblare
- Plas songedroogde tamaties in ‘n glasbak en bedek net met kookwater. Laat vir ongeveer 1 uur staan, of tot heeltemal sag. Meng met ‘n stokmenger tot glad. Roer maaskaas by tot ‘n gladde mengsel en geur met sou ten peper.
- Klits 1 eier per omelet en geur met sout en peper.
- Verhit ‘n dun lagie olie oor matige hitte in ‘n braaipan (AMC 20 cm Skillet) and bak ‘n dun omelet tot goudbruin en gestol. Draai om en bak vir ‘n minuut aan die ander kant. Skep uit en herhaal met die orige eiers.
- Smeer die maaskaasmengsel oor die omelete en plaas spinasieblare bo-oor. Rol op en sny in dik skyfies. Druk ‘n tandestokkies deur elke skyfie om dit bymekaar te hou, as jy dit sou verkies. Sit vor as deel van ‘n peuselhappiebord of ‘n kosblik.
- Vul die rolleties met ‘n verskeidenheid bestanddele. Avokado, tuna of pepermakriel sal heerlik wees. Gebruik altyd die maaskaas as basis, sodat dit help om die vulsel in plek te hou as dit opgerol word.