Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Mieliebrood

May 1, 2017 | Accompaniments, Baking, Extras

Mieliebrood is een van daardie eg Suid-Afrikaanse resepte en ek ken min mense wat nie daarvan hou nie. Warm uit die oond met ‘n skraapseltjie botter is darem maar lekker, of jy dit nou met braaivleis of ‘n ander ete geniet. En ás daar iets oorbly, maak dit die lekkerste roosterbrood die volgende dag. As ‘n lekker variasie, het ek vir die resep volkoringmeel gebruik. Daar is dus ekstra vesel in die brood en as jy ‘n lekker growwe mieliemeel gebruik, is daar selfs nog meer voedingswaarde in elke sny. Hoe growwer die mieliemeel, hoe minder verwerk is dit en dus bly meer van die natuurlike voedsaamheid behoue.

Die resep word verder met karringmelk gemaak, wat ‘n baie lekker bestanddeel is om mee te bak, want dit gee die brood ‘n heerlike tekstuur, sonder dat te veel olie gebruik hoef te word. ‘n Mieliebrood kan soms nogal olierig wees en dit is nie vir my lekker nie. Die karringmelk is dus ‘n lekker alternatief. Die mieliebrood is selfs lekker in ‘n kosblik of dit kan selfs as individuele muffins gebak word. Die baktyd sal dan net omtrent 15 minute korter wees.

Resep
Mieliebrood
Lewer 2 klein brode of 1 groot brood
Bestanddele

250 ml (1 k) growwe mieliemeel

330 ml (1⅓ k) volkoringmeel (steengemaalde meel is heerlik)

10 ml (2 t) bakpoeier

2,5 ml (½ t) paprika of na smaak

2,5 ml (½ t) sout

330 ml (1⅓ k) karringmelk of ongegeurde jogurt

2 groot eiers, geklits

80 ml (⅓ k) olyfolie

1 x 410 g-blik geroomde suikermielies

2 mielies aan die stronk, gekook en mielies in repe van die stronk afgesny

Metode
  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer die bodem van twee 1 liter- of een 1,5 liter-broodpan(ne) met bakpapier uit en smeer die pan liggies met olie.
  2. Plaas al die bestanddele, behalwe helfte van die repe mieliepitte, in ‘n mengbak. Roer tot goed gemeng.
  3. Skep die beslag in die broodpan. Plaas die orige mielies bo-op as garnering. Bak vir 45-60 minutes of tot ’n toetspen skoon uitkom. Kleiner brode sal vir 45 minute bak.
  4. Laat vir ’n paar minute in die pan afkoel en keer dan op ’n afkoelrakkie uit. Sit warm met botter voor.

Wenk

  1. As daar iets oorbly, is die mieliebrood regtig lekker gerooster, met ’n smeerseltjie botter op. 
error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This