Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Filo-hoenderpastei met groente

Apr 1, 2019 | Mains, Poultry

Die kleurvolle pastei met ’n meer Mediterreense gevoel as ’n tradisionele hoenderpastei, lyk feestelik op ‘n tafel en lok altyd baie komplimente uit. Die geroosterde groente en hoender is heerlik saam met die pesto en suurroom. Die gereg is perfek vir ’n ligte maaltyd of aandete met ’n groen slaai en selfs indrukwekkend genoeg om vriende mee te onthaal.

En voor jy benoud raak omdat jy met filo moet werk, moenie bekommerd wees nie. Die kors hoef nie perfek te wees nie en dis regtig nie moeilik om suksesvol met filo te werk nie. Selfs al skeur die velle filo wanneer jy daarmee werk, gaan niemand dit in die pastei oplet nie. Volg die stappe in die metode en lees ook die wenke onderaan die resep. 

Resep

Filo-hoenderpastei met geroosterde groente

Resep uit Kos is op die tafel!
Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

Vulsel

15 piekeluitjies, gehalveer

1 klein botterskorsie, geskil en gesny

½ elk geel en rooi soetrissie, ontpit en in repies gesny

15 ml (1 e) bruinsuiker

30 ml (2 e) balsamiese asyn

30 ml (2 e) avokado- of olyfolie

8-10 takkies vars roosmaryn en tiemie

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

4 ontbeende hoenderdye of -filette, in happie-grootte blokkies gesny

250 g kersietamaties, gehalveer

250 ml (1 k) suurroom

60 ml (¼ k) basiliekruidpesto

150 g broccoli, in blommetjies gesny

75 ml (5 e) grofgekapte vars kruie, bv. origanum, basiliekruid of Italiaanse pietersielie

 

Filo

8 velle filodeeg

50 ml elk botter en avokado- of olyfolie, saam gesmelt

Metode

1. Vulsel: Voorverhit oond tot 200 °C. Plaas al die groente, behalwe die tamaties en broccoli, in ’n enkellaag op ’n groot bakplaat. Sprinkel suiker oor en bedruip met asyn en olie. Strooi kruietakkies oor en geur na smaak. Rooster 20 minute. Geur die hoender en tamaties en roer by die groente. Rooster nog 10 minute tot die groente en hoender net gaar is.

2. Filo: Verf intussen twee velle filo elk aan die een kant met die oliemengsel en plaas bo-op mekaar. Voer die bodem van ’n 25 x 35 cm-oondbak of -pan met die geverfde filo uit sodat ongeveer 1-2 cm bo die rand uitsteek. (Punte wat bo die vulsel uitsteek gee ‘n baie mooi eindresultaat.) Herhaal met die orige filo en oliemengsel en plaas die velle oor mekaar om die bak eweredig te voer.

3. Meng die suurroom en pesto. Roer die broccoli en kruie deur die groente en hoender. Geur na smaak en skep in die filo-kors. Skink die suurroommengsel oor. Bak 30-40 minute of net tot die filo goudbruin en die vulsel warm is. Sit met ’n groenslaai voor.

Wenke

1. Filo is ideaal vir beide sout- en soetvulsels en kan daarin geskep, toegevou of gerol word. Filo is vars of bevrore beskikbaar en indien gevries, moet dit eers vir ’n paar uur in die yskas ontdooi, voor dit gebruik kan word. Filo wat nog nie voorheen gevries was nie, is makliker om mee te werk en gee dikwels ’n beter eindresultaat.

2. Filo droog baie vinnig uit. Bedek dus die velle filo wat oopgerol, maar nog nie met botter of olie geverf is nie, die hele tyd eers met ’n droë en dan ’n effens klam afdroogdoek, bo-op. So bly die filo klam, maar word dit nie klewerig van ’n nat doek direk bo-op dit nie.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This