Eier-pizza met maalvleis
Eiers, maalvleis, gerasperde kaas en vars tiemie is amper al wat nodig is vir hierdie lekker ete. Die eier word as basis vir ’n pizza-idee gaargemaak en dan word die maalvleis en kaas as bolaag gebruik. Maalvleis is een van daardie uiters veelsydige disse. Dit kan op soveel verskillende maniere gebruik word en vries uitstekend vir ’n volgende ete, so mens kan gerus dubbele hoeveelheid voorberei. Pizza is ’n gewilde kitskos of geriefs-ete, maar ongelukkig nie altyd so gesond nie. As jy dus ’n heerlike idee by die huis kan maak, wat ook aansienlik gesonder is, is dit net soveel beter.
Onthou dat eiers baie sensitief is vir hitte, so die eierlaag moet verkieslik teen ’n matige hitte gaargemaak word, sodat dit geleidelik kan stol, maar nie oorgaar word nie. Die eier word ook nie geroer nie, maar as een enkellaag gaargemaak. Kies die grootte van die pan waarin jy die eier gaarmaak só, dat die basis dik genoeg gaan wees en ’n lekker porsie vir elkeen gaan wees. ’n Pan met ’n stewige basis en goeie hitte-geleiding, werk uitstekend.
Lewer 4—6 porsies
6 ekstra-groot eiers
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie
18-20 vars tiemietakkies
250 ml (1 k) gaar maalvleis, verhit
125 ml (50 g) gerasperde wit cheddarkaas
1. Verhit ’n braaipan oor ’n matige temperatuur.
2. Klits die eiers saam en geur na smaak.
3. Skink die olie in die warm pan en giet die eiermengsel bo-oor. Strooi helfte van die tiemie oor die eier. Laat die eier begin stol, sonder om dit te roer, en lig dan die gaar eier al om die kante met ’n eierspaan, sodat die rou eier onder kan inloop. So vorm ’n soliede eierlaag wat die basis van die ‘pizza’ vorm.
4. Verlaag die hitte en sit die deksel op. Laat dit vir ’n paar minute gaar stoom, maar moenie dat die eier te gaar of rubberig word nie.
5. Skep die warm maalvleis bo-op die gaar eier en versprei dit eweredig met ’n lepel.
6. Sprinkel die kaas bo-oor die maalvleis, verwyder van die hitte en plaas die deksel op. Laat dit vir ’n paar minute staan, sodat die kaas kan smelt.
7. Sny die eier in wiggies, soos ’n pizza, en garneer met die orige vars tiemietakkies.
8. Sit voor met ’n slaai van slaaiblare, liggies gestoomde broccoli, rou knopiesampioene in dik skywe gesny, repies pikantrissies en ’n skeut suurlemoensap en olyfolie.
2. Enige anders vulsel kan op die basis gesit word. Die wit cheddar kan met ’n ander kaassoort vervang word.
Dankie vir al die heerlike ideas!
Groot plesier! Geniet dit