Vrugtepakkies met kaneel

Ons Suid-Afrikaners is lief vir braai en iets soets daarby is somtyds lekker. Die vrugtepakkie-resep is perfek om te maak, want dit kan na die braaivleis vinnig op die rooster in foelie gemaak word. Kies self die vrugtekombinasie na die gelang van die seisoen en geur met die kaneel, heuning, suurlemoennsap en botter. Dit kan bedien word met ‘n skep ongegeurde jogurt of ‘n happie roomys. Die resep sal beslis almal beÏndruk en dis so maklik om te maak dat elkeen hul eie pakkie kan “bou”.
Die resep was in die September-uitgawe van LiG-tydskrif wat ‘n lekker verskeidenheid braai-idees ingesluit het.
Resep
Vrugtepakkies met kaneel
Resep aangepas uit Kos is op die tafel!
Lewer 4—6 porsies
Bestanddele
swaargewigfoelie
1 klein pynappel, in blokkies gesny
3-4 sagte sitrus of naartjies, geskil en oor die breedte in dik skywe gesny
100-125 g bloubessies
200-250g aarbeie, gehalveer
10 ml (2 t) heuning per pakkie
gemaalde kaneel
vars suurlemoensap, Rooibostee of ’n bietjie port of vrugte-likeur na smaak
’n klontjie botter per pakkie
Om mee voor te sit
makadamianeute, gerooster en grofgekap (sien wenk)
geroosterde klapperskaafsels (sien wenk)
papawersaad
200-250 ml Griekse jogurt
Metode
1. Voorverhit die oond tot 180 °C of beplan om die pakkies oor matige kole te rooster. Skeur 4-6 stukke foelie van ongeveer 25 x 25 cm elk en vou elkeen dubbeld, sodat die blinkkant na bo wys.
2. Verdeel die vrugte tussen die foelie en bedruip met die heuning. Strooi kaneel oor en druk ’n skeut suurlemoensap (of vloeistof van jou keuse) oor die vrugte. Stip met ’n klontjie botter.
3. Vou die punte van die foelie na bo en vou dit saam om ’n losserige pakkie te vorm. (Indien nodig, kan die pakkies in die yskas gehou word, tot dit gaargemaak moet word.) Wees versigtig dat die foelie nie skeur nie.
4. Rooster die pakkies 10-15 minute oor matige kole of in die oond tot die vrugte deurwarm en effens sag is. Maak een pakkie oop om te kyk hoe gaar dit is, maar wees versigtig, moenie met die stoom brand nie.
5. Sit ’n warm pakkie per persoon in ’n bakkie voor en laat elkeen kies met watter van die bykomstighede dit geniet gaan word.
Wenke
1. Ryp appelkose, nektariens of perskes sal ook heerlik wees, wanneer dit in seisoen is.
2. Rooster klapper oor ’n matige hitte in ’n pan tot goudbruin. Hou dit dop—dit brand redelik maklik.
3. Plaas die heel makadamianeute op ’n bakplaat en rooster in die oond teen 180 °C vir 10-15 minute. Laat dit afkoel en kap dan grof.