Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Blomkool-&-appelsop met eiers & avo

Jul 6, 2018 | Mains

Botterskorsiesop is seker een van die bekendste sopresepte. Die manier waarop dit gemaak word, is ook ideaal vir ’n verskeidenheid van ander verpulpte groentesoppe. Blomkool is geen uitsondering nie en met die kombinasie van appels en komyn as geurmiddel, is dit baie interessant. Die sop is baie maklik om te maak en as jy dit dan met ’n geposjeerde eier en avokado voorsit, het jy ’n volledige en voedsame ete. Sop word so dikwels met brood geëet, maar as jy die bykomstighede vir sop ook voedsaam kan hou, is die ete selfs nog gesonder. Brood kan ’n sop-ete maklik te styselryk maak en dalk juis iets wat jy in die winter wil dophou – hoeveel stysel in etes ingesluit word. 

’n Sop wat verpulp word, is dikwels romerig genoeg, danksy die tipe groente wat gebruik word. Maar as jy dit nog romeriger wil maak, gebruik baie mense melk, room of ’n ander suiwelproduk. Dit is egter nie die enigste manier om ’n romerige eindresultaat te kry nie. ’n Geposjeerde eier waarvan die geel nog effens loperig is, is ’n wonderlike manier om ’n romerige smaak te gee. En as daar dan nou nog blokkies avokado ook ter sprake is, gaan jy beslis lekker eet.

Eiers is so ’n veelsydige bestanddeel. Nie net vir die maniere waarop dit gaargemaak kan word en die rol wat dit in verskillende resepte speel nie, maar dis boonop baie voedsaam ook. Dis ’n goeie bron van proteïen, so die sop is wel vegetaries, maar die maaltyd sal vullend genoeg wees.

Dis avokado-seisoen – iets wat baie mense regtig opgewonde het, want hierdie vrug pas by ’n lang lys van bestanddele. Maar voor jy te opgewonde raak, moet jy nie ’n avokado ‘op sy baadjie takseer’ en ’n fout met die rypheid van ’n avokado maak nie. Daar is hoofsaaklik twee soorte avo’s waarvan ons moet kennis neem. Die donker-skil avo’s het ’n growwe skil en voel altyd hard. Die vrug begin met ’n groen skil en soos dit ryper word, verkleur dit na ’n donker, amper swart skilkleur. Dis die beste manier om te bepaal of dit wel ryp is. Hierdie avokado’s is moeiliker om af te skil en skep makliker met ’n lepel uit die dikker skil. Vir die sop, kan die avokado in repies of blokkies gesny en selfs effens fyngedruk word, net soos julle daarvan hou. As ‘n donker-skil avo gebruik word, kan die vleis selfs met gemak met ’n klein lepeltjie uitgeskep word.

Resep
Blomkool-&-appelsop met geposjeerde eiers & avokado
Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 6 porsies
Bestanddele
800 g blomkool, met stingels in blommetjies gesny

2 groot aartappels, met die skil in blokkies gesny

2 uie, gekap

2 Pink Lady® appels, met die skil in blokkies gesny

10 ml (2 t) gemaalde neutmuskaat

25 ml (5 t) gemaalde komyn

1,75 liter (7 k) kookwater

125 ml (½ k) melk

suurlemoensap en swartpeper na smaak

2,5-5 ml (½-1 t) sout

45-60 ml (3-4 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie

6 groot Nulaid eiers, geposjeer of gebak (sien wenk)

2-3 ryp avokado’s, in blokkies gesny

Pink Lady® appel-tjips, om mee voor te sit (opsioneel)

heel neutmuskaat, gerasper (opsioneel)

Metode
1. Plaas die groente, appels en speserye met die water in ’n groot kastrol (bv. ’n AMC 24 cm Gourmet High).

2. Bring oor matige hitte tot kookpunt. Verlaag die hitte en prut vir 30 minute of tot die groente sag is.

3. Verwyder van die hitte en verpulp die sop met ’n stokmenger of druk met ’n aartappeldrukker fyner.

4. Voeg melk, suurlemoensap, peper, sout en helfte van die Italiaanse pietersielie by. Verhit tot deurwarm.

5. Posjeer of bak die eiers tot so gaar soos verkies. Skep sop in bakkies en plaas ’n eier bo-op sop.

6. Plaas avokado en appeltjips (indien gebruik) ook op die sop en strooi die res van die pietersielie oor. Rasper heel neutmuskaat oor elke sopbakkie en sit dadelik voor.

Wenk
1. Posjeer eiers in warm water of gebruik ’n posjeer-ring of eier-posjeerder, soos wat ek in die insetsel gedoen het. 
error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This