Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Ratatouille met eiers & chorizo

Apr 13, 2018 | Breakfast, Light meals

Perfek vir ontbyt, ’n ligte aandete of middagete – die keuse is joune. Maak dié ratatouille met chorizo-worsies en bak vir elkeen ’n eier of twee in die warm sous. Die kombinasie van murgpampoentjies, eiervrug, soetrissie en tamatie met vars kruie en ’n skeut suurlemoensap is heerlik. Die paprikageure in die chorizo pas perfek hierby en gee die ratatouille ’n wonderlike smaak.

Berei die sous sommer vooraf en dan is dit vinnig om die eiers daarin te laat prut voor ete. Hou die eiers dop, dat die gele net so ver gaar word soos julle daarvan hou. Maak die sous warm tot dit net liggies prut en maak dan ’n holte vir elke eier in die sous. Prut dit verder met ’n deksel om die eiers egalig, maar vinnig gaar te maak.

Die eiervrug in die mengsel is baie tipies, maar as julle nie van eiervrug hou nie, kan dit met nog murgpampoentjies, uie of sampioene vervang word. Eiervrug hoef nie afgeskil te word voor dit gaargemaak word nie en ek sout dit ook nie soos wat mense destyds gedoen het nie. Die eiervrug wat ons deesdae koop is nog jonk en minder geneig om bitter te wees. Onthou net om die sous te laat prut tot die eiervrug heeltemal gaar is, anders kan dit rubberig voorkom. Die eiervrug gee heerlike tekstuur en volume aan die ratatouille.

Resep
Ratatouille met eiers en chorizo
Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 6 porsies
Bestanddele

100-125 g chorizo, in skyfies gesny

2 uie, gekap

1 rooi of oranje soetrissie, ontpit en gekap

4 murgpampoentjies, in blokkies gesny

1 eiervrug, in blokkies gesny

10 ml (2 t) gedroogde gemengde kruie of roosmaryn

1 x 410 g-blik gekapte tamaties

suurlemoensap en swartpeper na smaak

20 ml (4 t) grofgekapte vars roosmaryn

30 ml (2 e) elk gekapte Italiaanse pietersielie en basiliekruid

6 ekstra-groot eiers

Metode

1. Verhit ’n groot pan oor matige hitte en braai twee-derdes van die chorizo sonder enige olie vir ’n paar minute. Skep uit. Braai die uie en soetrissie in dieselfde pan tot sag.

2. Voeg die murgpampoentjies, eiervrug en gedroogde kruie of roosmaryn by. Soteer vir ’n paar minute tot die eiervrug begin sag word.

3. Roer die tamaties en gaar chorizo by. Verlaag die hitte en prut sonder ’n deksel vir sowat 15-20 minute, sodat die vloeistof kan indamp.

4. Geur met suurlemoensap, peper, vars roosmaryn en die helfte van die pietersielie en basiliekruid.

5. Maak 6 holtes in die tamatiemengsel. Breek ’n eier in elke holte en plaas die res van die chorizo in die sous.

6. Prut met ’n deksel vir sowat 5-8 minute of tot die eiers so gaar is soos wat julle daarvan hou.

7. Sprinkel die orige vars kruie oor en sit as ligte maaltyd voor.

Wenke
1. Die ratatouille kan ook sonder die eiers as ’n bygereg bedien word.

2. Vars avokadoskyfies sal heerlik wees met die gereg.

3. Berei ’n dubbele resep en vries of gebruik vir ’n ander maaltyd in die week, bv. saam met pasta of as sous met mieliepap en braaivleis. Meng dit met maalvleis en maak ’n herderspastei.

4. Indien basiliekruid nie beskikbaar is nie, gebruik gekapte kruisement of nog pietersielie. Selfs tiemie sal lekker wees saam met die geure in die mengsel.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This