Gekookte eiers
’n Gekookte eier is ’n basiese en eenvoudige bestanddeel, baie voedsaam en nogal veelsydig. En tog, as jy nie mooi weet hoe om dit suksesvol te kook nie, kan dit nogal ’n katastrofe afgee. Almal weet hoe lyk ’n hardgekookte eier wat heeltemal ‘blou’ geword het in die dop. Of het jy al eiers gekook en dan is dit na ’n paar minute ’n redelike stryd om die pot vol gekraakte eiers (of sal mens dit oopgebars noem) klaargekook te kry, sonder dat al die eierwit in die water uitkook?
Met ’n paar praktiese wenke, kan dit ’n baie maklike manier wees om ’n voedsame proteïen deel te maak van ’n ete. Die eerste wenk is om eiers teen kamertemperatuur te gebruik, sodat die doppe nie kraak sodra die water begin kook nie. Sit ook die eiers in die koue water, sodat die twee saam warm word. Meet die kooktyd vandat die water begin prut, sodat jy dit so akkuraat as moontlik kan bepaal. Kyk na die kooktye hier onder in die resep, om seker te maak dat jy nie met ’n hardgekookte eier eindig, as jy dit loperig wou gehad het nie. Onthou dat die grootte van die eier die kooktyd kan beïnvloed. ’n Groot eier gaan vinniger hardgekook wees as ’n jumbo eier, so hou dit ingedagte.
Die water moet net liggies prut – daar word soms daarna verwys as ’n rollende prut. Die water borrel dus net liggies, maar dit laat nie die eiers so rondbons dat die doppe teen die bodem kraak nie. Sodra die kooktyd verby is, kan die eiers in ’n bakkie met koue water gesit word om die kookproses te stop. As die eiers afgedop moet word, kan die dop selfs liggies gekraak word. Dit maak die afdopproses makliker en verhoed dat die eiers verkleur as dit lank staan.
Nie almal hou van ’n hardgekookte eier nie – hetsy afgedop of om vir ’n ete met ’n teelepel uit die dop te eet nie. Maar dalk is ’n loperige eier vir jou lekkerder en die gaarmaakproses bly dieselfde.
Hardgekookte eiers kan ook op ander maniere gebruik word. Die afgedopte eiers kan in wiggies of skyfies gesny of fyngedruk word om in ’n slaai of op ’n toebroodjie te gebruik. ’n Kerriesous word ook soms oor die eierwiggies, as maaltyd voorgesit. Of pak ’n hardgekookte eier in ’n kosblik met vars slaaibestanddele en iets soos neute of avokado as ’n voedsame en gebalanseerde maaltyd.
’n Saggekookte of selfs loperige eier word meestal warm uit die dop geëet, maar kan ook afgedop en as deel van ’n ete gebruik word. Die sagte eier kan selfs so in die dop ingepak word en later met ’n lepeltjie uitgeëet word. ’n Loperige eier is heerlik as ‘sous’ vir ’n slaai of as deel van ’n ander ete.
Hoe jy ook al verkies om ’n eier te geniet, bly dit ’n bron van proteïen wat vinnig en maklik is om gaar te maak. Eiers bevat ook heelwat ander voedingswaarde, soos antioksidante, vitamiene, minerale en gesonde vette. Deel van ’n gesonde leefstyl en eetgewoontes is om seker te maak dat ’n verskeidenheid kossoorte in etes ingesluit word.
Lewer 4 porsies
4-8 ekstra-groot Nulaid eiers
1. Plaas eiers met genoeg water in ’n kastrol. Verhit oor ’n matige temperatuur tot die water liggies prut en begin dan die kooktyd meet.
2. Verlaag die temperatuur as dit nodig is en prut met ’n deksel vir die aangeduide hoeveelheid minute, na gelang van hoe hard- of saggekook jy die eiergeel verkies. Die water moenie te vinnig kook, dat die eiers op die bodem van die kastrol bons nie.
3. Kook vir 2-3 minute vir loperige gele, 6-7 minute vir sagte eiergele en 8-10 minute vir ferm eiergele. Onthou dat die grootte van die eiers die kooktyd effens kan beïnvloed.
4. Skep die eiers dadelik uit en plaas vir ’n paar minute in ’n bakkie met koue water om die kookproses te stop of sit dadelik voor. Kraak selfs die dop liggies as die eiers heeltemal hardgekook is en afgedop gaan word. Dit sal help dat die eiers nie verkleur as dit heeltemal moet afkoel nie.
5. Sit die eiers voor met enige bestanddele van jou keuse.