Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Roereier vir die hele gesin

Feb 23, 2018 | Breakfast, Light meals

Roereier is seker een van die eenvoudigste en vinnigste etes om voor te berei. Sit jy nou boonop ’n paar lekker bestanddele by, dan het jy in ’n japtrap ’n ete wat menige se monde sal laat water. Eier is een van daardie kossoorte wat met ’n lang lys van ander bestanddele gekombineer kan word en elke keer ’n ander geurigheid na vore bring.

Eier is ook ’n voedsame bestanddeel wat ek altyd in my kombuis het, want daar is so baie wat jy daarmee kan voorberei. Roereier hoef lankal ook nie meer net vir ontbyt gemaak te word nie. Dis ’n heerlike ligte maaltyd en jy kan jou bord maklik volskep met ’n lekker slaai of selfs groente. Ons is almal besig, so dit is ideaal om soms ’n eiergereg vir aandete te beplan, want jy kan besluit hoe vullend dit moet wees en dis blitsvinnig om gaar te maak.

Eier met basiliekruidblare, gemarineerde songedroogde tamaties en ’n interessante kaas is maar net een voorbeeld van so ’n ete. Dis nie altyd nodig om die bestanddele in die eier in te roer nie, want dit kan sommer bo-op geskep word. Jonger kinders hou dikwels meer daarvan om al hul kos apart te eet. Dis ook ’n goeie manier om hulle aan verskillende smake en teksture bloot te stel en geleidelik te leer om saam met die res van die gesin te eet – dit maak die kookwerk ook sommer minder.

Hier is ‘n paar wenke as jy roereier maak:
– Gebruik 15 ml water per eier – dis ’n goeie verhouding vir ’n sagte roereier en sal verhoed dat daar te veel water is wat net uitgestoot word soos dit gaar word.
– Ek verkies water bo melk in roereier, want die melk se proteïen kan die eier rubberig laat voorkom as dit te vinnig gaargeword het.
– Eier word teen ’n lae temperatuur gaar, so moenie die pan te warm maak nie, dan word die eier rubberig of stoot ook maklik vog uit.
– Wag tot die boom van die pan warm genoeg is, sodat die eier dadelik kan begin stol.
– Moenie te veel roer nie, sodat die eier kans kry om groterige, sagte stukke te vorm.
– Roer enige ekstra bestanddele by sodra die eier begin stol, sodat dit deel kan word van die roereier en kans kry om warm te word.

Onthou om die res van jou bord met gesonde bestanddele vol te skep, sodat dit ’n gebalanseerde ete is. Vars seisoensvrugte, avokado, groente soos liggies gaargemaakte broccoli of groenboontjies of ’n kleurvolle slaai is ideaal. ’n Gesonde olie, soos olyf- of avokado-olie is ook altyd deel van ’n gesonde eetpatroon, so gebruik dit om die eier in gaar te maak of skink ’n bietjie oor jou slaai. Selfs ’n paar sonneblom- of pampoenpitte is lekker met eier of in ’n slaai.

Resep
Roereier vir die hele gesin
Resep aangepas uit Cooking from the heart 2 Lewer 4 – 6 porsies
Bestanddele

8 ekstra-groot eiers

125 ml (½ k) water

2,5 ml (½ t) sout

swart peper na smaak

10 ml (2 t) avokado- of olyfolie

Bolaag-opsies vir volwassenes (per porsie)

30 ml (2 e) gerasperde cheddar-, mozzarella- of gekrummelde fetakaas

30 ml (2 e) bevrore heelpitmielies, gedreineer en droog gedruk

3-4 gemarineerde songedroogde tamaties, in repies gesny of klein tamaties

15 ml (1 e) basiliekruidpesto

vars kruie, soos basiliekruid of Italiaanse pietersielie

Bolaag opsies vir kinders (per porsie)

30 ml (2 e) cheddarkaas, gerasper

60 ml (¼ k) bevrore ertjies of heelpitmielies, gedreineer en droog gedruk

 

Metode

1. Klits eiers en water saam in ’n mengbak en geur met sout en peper.

2. Verhit olie oor matige hitte in ’n braaipan en voeg die eiermengsel by.

3. Laat die eiermengsel geleidelik begin stol sonder om dit te veel te roer. Meng die eiers stadig met ’n eierspaan om te verseker dat al die rou eier gaar word. Moenie die eier te veel roer nie en keer dat die pan te warm word, want dit kan die eiers makliker laat vog uitstoot. Verlaag die hitte indien nodig.

4. Indien jy van die bogenoemde lys van ekstra bestanddele wil byvoeg, roer dit by sodra die eier begin stol. (Of maak die roereier heeltemal gaar en skep die bestanddele bo-op.)

5. Meng die roereier stadig tot net gaar en bedien dadelik. Geur met kruie en swartpeper.

6. Sit voor met vars seisoensvrugte.

Wenk
1. Indien jy roereier inpak vir iemand in ’n kosblik, pak die elemente apart in.
error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This