Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Semolina-&-lemoenkoek

Jul 28, 2017 | Baking, Desserts, sweet treats & baking

Semolina-&-lemoenkoek met amandel

My vriendin Anneke Müller en haar dogter Anna-Marie se soektog na ’n suurlemoenkoek op die internet ’n paar jaar gelede, het ’n heerlike resep opgelewer. Ek het intussen ook daaraan geskaaf en dit is altyd ’n wenner. Die koek het ’n Egiptiese oorsprong en die kombinasie van sitrus en amandels is heerlik. Dis ewe lekker op ‘n teetafel of as nagereg, dalk met ’n blops Griekse jogurt daarmee saam, as jy wil. Ek het ’n mengsel van lemoenbloeisel- en rooswater in die resep gebruik om die koek ’n regte Noord-Afrika gevoel te gee.

Die wintermaande is so sinoniem met sitrusgeure, dat ek graag skyfies vars sitrus bietjie karamelliseer om as garnering bo-op die koek te gebruik. Kyk onderaan die resep na die wenke om te sien hoe om dit te doen.

Vir my maandelikse artikel in LiG-tydskrif, het ek vir Augustus oor sitrusvrugte geskryf en ook ’n foto van die koek daar geplaas. Daar is soveel lekker en interessante dinge wat ’n mens met sitrus kan doen, so gaan lees gerus meer daaroor in die tydskrif en bak beslis die koek voor die sitrusseisoen verby is. Dit is mos immers Vrouemaand in Augustus, so bederf ’n vriendin of enige spesiale vrou in jou lewe met hierdie lekker gebak.

Resep uit Maak vyf/Make five
Lewer 6 – 8 porsies
1 uur 15 minute

Bestanddele

Stroop

100 ml water

200 ml strooisuiker

100 ml lemoensap

2,5 ml (½ t) elk lemoenbloeisel- en rooswater (sien wenk)

50 g gevlokte amandels, gerooster

Koek

125 ml (½ k) botter

125 ml (½ k) strooisuiker

fyngerasperde skil van 1 lemoen

5 ml (1 t) vanieljegeursel

2 ekstra-groot eiers

500 ml (2 k) semolina

5 ml (1 t) bakpoeier

175 ml ongegeurde jogurt

Metode

1. Stroop: Plaas water, suiker en sap in ’n klein kastrol en roer oor matige hitte tot die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt, stel die hitte laer en prut 2-3 minute of tot dik en stroperig. Hou eenkant en laat afkoel. Roer lemoenbloeisel -, rooswater en amandels by.

2. Koek: Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer en voer ’n 24 cm-losboompan met bakpapier uit.

3. Klits die botter en suiker met ’n elektriese klitser in ’n bak tot lig en donsig. Voeg lemoenskil en vanieljegeursel by. Voeg die eiers een vir een by, klits goed na elke byvoeging. Roer die semolina en bakpoeier by.

4. Roer die jogurt by en meng tot ’n gladde beslag. Skep die beslag in die koekpan en bak 25-30 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat vir 5 minute in die pan staan.

5. Keer versigtig uit en sit die koek op ’n opdienbord. Skink die koue stroop oor die warm koek. Laat vir ’n paar minute staan en sit voor.

Wenke

1. As lemoenbloeiselwater nie beskikbaar is nie, gebruik 5 ml (1 t) rooswater in totaal. Dit kan ook met 10 ml (2 t) fyngerasperde lemoenskil vervang word.

2. Vervang die amandels met geroosterde, gekapte pimperneute of gebruik ’n mengsel van die twee.

3. Garneer die koek met gekarameliseerde sitrus-skywe: Sny ‘n ClemenGold, nartjie, mineola of lemoen met die skil aan, in dun skywe. Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n braaipan en braai skywe aan beide kante tot goudbruin. Skep skywe uit en verlaag hitte. Skink 45 ml elk water en lemoensap en 60 ml heuning in die pan en roer om dit op te los. Bring tot kookpunt en plaas sitrusskywe in die stroop. Prut vir ‘n paar minute tot die skywe karamelliseer en die sous stroperig en dik word. Skep sitrus met die stroop bo-op die afgekoelde koek en sit voor.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This