Worsies en bone met basiliekruid
Lewer 6 porsies
’n Vinnige manier om ’n klomp honger mae vol te kry.
500 g boerewors (sien wenke)
2 groot uie, gehalveer en in dun skyfies gesny
1 groot knoffelhuisie, gekneus
15 ml gedroogde basiliekruid
250 g knopiesampioene, in dik skywe gesny
15 ml koekmeel
1 x 410 g blik boontjies in tamatiesous
1 x 410 g gekapte tamaties
10 ml Worcestershiresous
20 ml sagte bruinsuiker
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
15 vars basiliekruidblare en ekstra vir garnering
1. Braai wors oor matige hitte in ’n groot braaipan tot gaar en skep uit. Laat effens afkoel en sny dan in diagonale skyfies.
2. Gebruik dieselfde braaipan en soteer uie tot amper sag. Voeg knoffel, basiliekruid en sampioene by en soteer tot sampioene net begin sag word. Verlaag temperatuur.
3. Roer meel deeglik deur en voeg dan wors, boontjies, tamaties en geurmiddels, behalwe vars basiliekruidblare by.
4. Prut vir 5-7 minute saam, geur na smaak en sit op mieliepap, kapokaartappels of koeskoes voor.
Wenke
1. Varkworsies sal ook heerlik wees in die resep. Sny kepe in elke varkworsie en pak op ’n bakplaat wat met foelie uitgevoer is. Rooster teen 180 °C vir 20 minute of tot goudbruin en gaar. Of braai dit in ’n pan tot goudbruin en gaar. Sny in skyfies en roer by die sous of sit die heel worsies daarmee voor, soos in die foto hier bo.
2. As jy enige wors in ’n pan braai, onthou om in ’n koue pan te begin, sodat die velletjie nie bars nie.
Images by Adel Ferreira and Adriaan Vorster.