Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Chilli con carne

May 12, 2017 | Mains, Meat

Chilli con carne

Resep uit Kos is op die tafel
Lewer 4 – 6 porsies
1 uur

Maalvleis met ’n skoot brandrissie, tamaties en rooi nierboontjies is ’n bekende Mexikaanse gereg. Dit kan op ’n handvol kreatiewe maniere voorgesit word.

Bestanddele

20-30 ml olyfolie

500 g maer beesmaalvleis

2 middelslag uie, gekap

2 knoffelhuisies, fyn gedruk

1 rooi soetrissie, ontpit en gekap

2 klein rooi brandrissies, gekap (ontpit indien verkies)

5-10 ml cayenne-peper, of meer na smaak

5 ml paprika

10 ml gemaalde komyn

250 ml hoender- of groenteaftreksel

1 x 410 g-blik heel geskilde tamaties, gekap

1 x 65 g-blikkie tamatiepasta

15 ml gedroogde origanum

15 ml suiker

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

1 x 410 g-blik rooi nierboontjies, gedreineer

Metode

1. Verhit helfte van die olie oor matige hitte in ’n groot kastrol. Verbruin vleis tot goudbruin, terwyl enige groot klonte met ’n vurk of houtlepel opgebreek word. Skep uit en hou eenkant.

2. Verhit die orige olie en soteer die uie, knoffel en soetrissie tot sag. Roer die brandrissies en speserye by en soteer nog ’n paar minute.

3. Skep die maalvleis met die aftreksel, tamaties, -pasta, origanum en suiker by die groente en roer deur. Bring tot kookpunt en sit die deksel op.

4. Verlaag hitte en prut 20 minute. Geur na smaak en roer die boontjies by. Prut nog 10 minute met die deksel en geur nog indien nodig.

5. Sit op rys of kapokaartappels voor. Dit word ook tipies in warm tortillas of roti’s met slaaiblare, gekapte vars tamatie, avokadoskyfies, suurroom of ongegeurde jogurt en gerasperde kaas toegerol.

 

Wenke

1. Dit is ’n gesellige manier om vriende te onthaal. Berei alles voor en laat elkeen aan tafel sy eie tortilla of roti rol.

2. Die maalvleis kan ook op ’n laag tortilla- of mielieskyfies geskep word. Sprinkel gerasperde kaas oor en sit dadelik voor of smelt die kaas onder ’n warm oondroosterelement.

3. Die Chilli con carne is selfs nog geuriger as dit die vorige dag berei word.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This