Botterboon-happies
Die botterboon-happies is ’n lekker alternatief vir vleis, hoender of vis. Die bietjie kerrie daarin maak dit ekstra interessant en ’n heerlike kombinasie met die vars bestanddele, jogurt en avokado. Die geure in die botterboon-happies laat mens amper dink aan tipiese Mediterreense geure en as die gesin dit nie weet nie, sal party dalk nie eers besef dat hulle bone eet nie. Sit die happies met vars bestanddele in wraps (voupakkies) as ’n heerlike variasie met die resep.
Resep uit Cooking from the heart 2
Lewer 15 happies
1 x 410 g-blik botterbone, gedreineer
1 klein ui, gerasper
10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil
30 ml (2 e) suurlemoensap
10 ml (2 t) gemaalde komyn
10 ml (2 t) gemaalde koljander
2,5-5 ml (½-1 t) matige kerriepoeier
45 ml (3 e) gekapte vars koljander of pietersielie
15 ml (1 e) gedroogde origanum
30 ml (2 e) volkoringmeel
1 eier, geklits
1,2 ml (¼ t) sout
swartpeper na smaak
30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie om te braai
1. Plaas die bone in ‘n groot mengbak. Druk met ‘n aartappeldrukker of vurk fyn. Voeg al die ander bestanddele, behalwe die olie, by. Geur met peper en meer suurlemoensap, indien verkies, en meng goed deur.
2. Verhit die helfte van die olie oor matige hitte in ‘n groot braaipan. Skep lepelsvol van die mengsel in die pan en braai tot goudbruin.
3. Braai goudbruin aan beide kante, verlaag die hitte, sit die deksel op en los vir nog 1-2 minute in die pan tot heeltemal gaar. Skep uit en herhaal met die orige mengsel en olie.
4. Sit voor as deel van ‘n kosblik of vul voupakkies of pitas met die happies en ongegeurde jogurt, avokado en slaaibestanddele.
1. As die kerrie-smaak te warm vir jou kinders sal wees, vervang kerriepoeier met gedroogde gemengde kruie.
2. Maak dubbel die hoeveelheid en hou in die yskas vir kosblikke vir nog 2-3 dae.
Foto: Adel Ferreira.