Pangebraaide vis met drie groentes
Vis is ’n wonderlike vorm van proteïen – dis nie net gesond nie, maar ook maklik en vinnig om voor te berei. En tog is mense soms huiwerig om dit self gaar te maak. Geroosterde of gebraaide vis word dikwels in ’n degie voorberei, maar dan ook in diepvet gebraai. Hierdie resep gebruik dieselfde beginsel, om repies vis in ’n gegeurde meelmengsel te doop, maar dan word dit in net ’n dun lagie olie in ’n pan gebraai tot dit gaar, maar steeds sappig is. Die buitenste korsie is dus bros en geurig, maar daar is heelwat minder olie ter sprake. Om ’n vinnige gesinsete te kan voorsit, word die groente sommer in dieselfde pan gebraai.
Resep
Pangebraaide vis met drie groentes
Resep uit Kos is op die tafel!
Lewer 4 – 6 porsies
Bestanddele
750 g-1 kg vars stokvis- of ferm lynvisfilette, bv geelstert of Dorado
100 ml koekmeel
2 ml sout
20-25 ml (4-5 t) cajun-speserymengsel of enige kruiemengsel van jou keuse
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
60-75 ml (4-5 e) olyf- of avokado-olie
150-200 g dun groenboontjies
125-250 g sampioene, in kwarte gesny
200 g kersietamaties, gehalveer of in kwarte gesny, afhangend van die grootte
nog 5-10 ml (1-2 t) cajun-speserymengsel of kruiemengsel
suurlemoen- of lemmetjiewiggies om mee voor te sit
Metode
1. Sny die vis in 2-3 dik repe per persoon. (Kleiner porsies braai makliker.) Meng die meel, sout, spesery- of kruiemengsel en ’n bietjie peper in ’n vlak mengbak of op ’n groot bord.
2. Doop ’n stukkie kombuispapier in sowat 20 ml van die olie en verf elke stukkie vis alkante daarmee. Rol die visrepe in die meelmengsel tot dit heeltemal bedek is. Skud die oortollige meel af en plaas op ’n skoon bord.
3. Verhit intussen ’n dun lagie van die orige olie oor matige hitte in ’n groot braaipan (bv. ‘n AMC 28 cm Chef’s Pan of AMC 30 cm Electric Frying Pan). Braai helfte van die vis, velkant eerste, tot goudbruin en halfpad gaar. Die vis word ’n soliede wit kleur soos dit gaar word.
4. Draai versigtig om en braai aan die ander kant tot goudbruin en net gaar. Moenie te lank braai nie, dan word dit droog. Skep die vis uit en hou eenkant warm. Herhaal met die orige vis en nog olie indien nodig.
5. Vee die braaipan versigtig met kombuispapier skoon en plaas die boontjies in die pan. Soteer oor ’n matige hitte vir ’n paar minute, sit die deksel op en stoom die boontjies 1-2 minute liggies.
6. Voeg die sampioene by en soteer verder tot dit net sag is. Roer die tamaties by en soteer vir ’n paar minute tot net deur warm, maar voor die skilletjies afkom of die tamaties pap is.
7. Geur groente met die ekstra spesery- of kruiemengsel, sout en peper. Sit repe vis en groente met kapokaartappels of aartappelwiggies voor met die sitruswiggies en skep enige pansouse oor.
Baie dankie, heerlik en gesond