Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Hoender-en-mieliesop vir die winter

Jun 1, 2018 | Mains

Stomende bakkies sop is só ’n lekker manier om jou innerlike (maag én siel) op ’n koue dag te versterk. Vir my is dit verseker nie net vir siek mense of ’n voorgereg vir ’n ete nie. Daar is fantasiese maniere om ’n vullende en voedsame sop te maak, wat as volledige ete geniet kan word. Dié hoendersop is vir my gesin ’n genotvolle koesterkos-ete en ek kan dit maar gereeld maak, want almal geniet dit elke keer. Dis ’n uitstekende voorbeeld van ’n maklike gaarmaakmetode wat bydra tot die geurigheid van die sop. Daar word nie aftreksel vir die sop gebruik nie, want die hoenderstukke word in water en geurmiddels geprut om ’n aftrekselbasis vir die sop te vorm. Die res van die bestanddele en geurmiddels is voldoende om ’n baie smaaklike ete te wees. Het jy al agtergekom hoe dors jy soms na ’n sop-ete kan wees? Dis dikwels omdat die aftreksel wat gebruik word onnodig sout is. Met hierdie resep word daar grootliks van natuurlike geurmiddels gebruik gemaak en die sop sluit feitlik al die voedselgroepe in, so dis ’n maaltyd-in-een en regtig voedsaam. Die aartappelblokkies help om die sop effens te verdik, maar groente soos patats of botterskorsie kan ook gebruik word. 

Resep
Hoender-en-mieliesop vir die winter

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 6 – 8 porsies

Bestanddele

2-3 hoenderborsies aan die been, oortollige vet verwyder

15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie

2 uie, gekap

1 knoffelhuisie, fyn gekap

2 groot aartappels, geskil en in blokkies gesny

5 ml (1 t) gemaalde komyn

10 ml (2 t) gemaalde koljander

1 liter (4 k) water

30 ml (2 e) gedroogde gemengde kruie

250 ml (1 k) melk

250 ml (1 k) bevrore mielies of 2 heel mielies, gekook en van die stronk afgesny

1 x 410 g-blik suikermielies

suurlemoensap en swartpeper na smaak

45 ml (3 e) elk gekapte vars koljanderblare en Italiaanse pietersielie

Metode

1. Sny hoenderborsies in die helfte met ’n kombuisskêr of skerp mes.Verhit olie in ’n groot kastrol en braai die hoender, uie en knoffel vir ’n paar minute.

2. Voeg aartappels, gemaalde komyn en koljander, water en gedroogde kruie by. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en prut met ’n deksel vir 20-30 minute of tot die hoender net gaar is.

3. Skep hoender uit, ontbeen en verwyder die vel en pluis die hoender.

4. Meng die hoendervleis, melk, mielies en suikermielies by die sop in die kastrol. Verhit oor lae hitte tot deurwarm.

5. Geur met suurlemoensap, peper en die helfte van die vars kruie.

6. Bedien met ’n skeut olyf- of avokado-olie en die orige kruie.

Wenke

1. Sit sop met vars skyfies avokado voor.

2. Ander hoenderporsies soos dye of boudjies kan ook gebruik word.

3. Botterskorsie en patats sal ook lekker wees in die sop, vervang aartappels met enige van die twee.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This