Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Romerige appelkoosnagereg

Jan 24, 2018 | Cold dessert, Desserts, sweet treats & baking, Fruit

Die somer maak jou vrugtemandjie tot boordens toe vol. Daar’s ‘n kleurvolle verskeidenheid en steenvrugte bring die sonskyn sommer op baie maniere tafel toe. Dit is waarop  LiG-tydskrif se Februarie artikel fokus.

Perskes, nektariens, pruime en appelkose is almal steenvrugte – daardie vrugte met ‘n harde, neutagtige kern, sagte, sappige vlees en dun skilletjie. Elke kultivar is anders, maar oor die algemeen het perskes fyn haartjies op die skil, teenoor nektariens se gladde skil. Die skil se kleure kan wissel van helder oranje tot geel of selfs lig van kleur met ‘n rosige blos of bloedrooi wange. Deesdae kan die binnekant van ‘n perske of selfs ‘n nektarien wit, roomkleurig of kakerings van geel wees. En natuurlik die mooiste maroen van ‘n ryp rooi pruim. Sommiges het ‘n los pit en ander word taaipit-vrugte genoem.

Geniet die vrugte nét so of gebruik dit in slaaie of nageregte. As die vrugte oorryp word, kan jy ‘n puree daarmee maak om te vries of gebruik vir hierdie heerlike nagereg.

Resep

Romerige appelkoosnagereg

Resep aangepas uit Kos is op die tafel!
Lewer 8 porsies

Bestanddele

Puree

500 g ryp appelkose, gehalveer en ontpit

30 ml (2 e) suurlemoensap

1 kaneelstokkie

45 ml (3 e) Rooibostee

75 ml (5 e) heuning

Maaskaasmengsel

15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil

2,5 ml (½ t) heuning of na smaak

2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel

250 ml (1 k) geroomde maaskaas

250 ml (1 k) Griekse jogurt

geroosterde klapperskaafsels, gevlokte amandels en kruisement om mee voor te sit

Metode

1.  Puree: Plaas al die puree-bestanddele in ‘n braaipan (AMC 28 cm Chef’s Pan). Verhit oor matige hitte en roer tot die heuning gesmelt het.

2. Verlaag hitte effens, sit die deksel op en prut 8-10 minute of tot die appelkose sag is. Die rypheid van

die vrugte sal bepaal hoe lank dit kook.

3. Skep die appelkose en vloeistof in ‘n mengbak. Laat ‘n paar minute afkoel. Verwyder die kaneelstokkie

en verpulp vrugte met ‘n voedselverwerker of elektriese handmenger tot ‘n puree. Laat heeltemal afkoel.

4. Maaskaasmengsel: Geur 250 ml van die puree met suurlemoenskil, heuning en kaneel (sien wenk).

5. Klits die maaskaas en jogurt saam. Skep in lae met die puree-mengsel en klapper of neute in mooi glase of glasflessies.

6. Bedek met kleefplastiek en verkoel 1-2 ure of tot gestol. Sit voor met nog klapper, neute en kruisementblare vir ‘n ligte, maar heerlike nagereg.

Wenke

1. Enige ekstra puree kan gevries word. Gebruik dit oor roomys voor of net met Griekse jogurt. Of maak hoenderporsies daarin gaar en geur met gemaalde komyn.

2. ‘n Vinnige variasie: Vervang die puree met 400-500 g vars of bevrore bessies wat

verpulp en met ‘n bietjie heuning versoet word. Garneer met ekstra bessies en kruisement.

3. Om neute of klapper te rooster: Rooster in ‘n braaipan oor matige hitte in ‘n droë pan, tot net goudbruin. Wees versigtig, dit brand maklik.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This