Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Veerligte platbroodjies

Oct 17, 2025 | Accompaniments, Extras

Resep

Veerligte platbroodjies

Platbrode het die laaste paar jaar ‘n baie gewilde soort brood op ons tafels geword. Dis veral heerlik om in ‘n bykomstigheid soos hummus of ‘n geurige olyfolie te doop. Of om die sous van ‘n bredie of ander souserige gereg mee op te vee. Verskillende soorte platbrode is ‘n algemene item in baie koskulture. Jy sal dit beslis op ‘n Griekse, Turkse, Lebanese, Italiaanse of ander Mediterreense tafel sien en soortgelyke brode is baie tipies saam met Indiese of ander Midde-oosterse geregte. Brood word meestal met gis gemaak, wat ‘n langer proses behels, maar hierdie klein platbroodjiies is vinnig en maklik om te maak. Die jogurt gee dit ‘n baie lekker sagte tekstuur en die bakpoeier beteken dat die deeg dadelik gebak word. Jy het regtig net ‘n handjievol bestanddele nodig en die broodjies kan selfs in jou lugbraaier gebak word – loer gerus na die wenke hier onder.

Lewer 10 – 12 broodjies

Bestanddele

500 ml (2 k) steengemaalde of gewone witbroodmeel

10 ml (2 t) bakpoeier

5 ml (1 t) gemaalde komyn of 2,5 ml (½ t) komynsaad (opsioneel)

2,5 ml (½ t) sout

45 ml (3 e) gesmelte botter, plus nog 15 ml (1 e) ekstra gesmelte botter om mee te verf

375 ml (1½ k) ongegeurde dubbelroom jogurt

ekstra meel om mee uit te rol

Metode

  1. Plaas die droë bestanddele in ’n groot mengbak en meng goed deur. Maak ’n opening in die middel van die meelmengsel.
  2. Meng die 45 ml gesmelte botter en jogurt in ’n beker saam en skink in die middel van die meelmengsel. Roer die vloeistof met ’n silikon-spatula of houtlepel deur die meelmengsel tot dit net gemeng is, maar moenie te veel meng nie.
  3. Sprinkel van die ekstra meel op ’n werkoppervlak en keer die deeg daarop uit. Knie liggies met jou hande vir ’n paar minute tot ’n sagte, gladde deeg vorm. Die deeg kan nogal klewerig wees, maar druk jou hande in die ekstra meel om makliker met die deeg te werk.
  4. Vorm die deeg in ’n dik wors en sny met ’n skerp mes in 10-12 ewe dik skywe. Rol elke skyf versigtig in ’n bolletjie en druk met die palm van jou hand plat.
  5. Verhit intusen ’n groot riffelpan oor matige temperatuur. Braai die broodjies sonder enige olie, aan beide kante tot goudbruin en gaar. Die ekstra meel aan die broodjies sal ook help dat dit nie aan die pan vassit nie.
  6. Haal die broodjies uit en verf dadelik aan beide kante met ’n bietjie van die ekstra gesmelte botter. Hou die broodjies warm terwyl die res gebraai word.
  7. Sit die broodjies met enige ete of as deel van ’n peuselhappiebord voor. Tuisgemaakte hummus, tzatziki (sien wenk) of net goeie, aromatiese olyfolie is perfek om die broodjies in te doop.

Wenke

  1. Tuisgemaakte tzatziki: Rasper ¼ komkommer, grof en druk ekstra vloeistof met jou hand uit. Meng dit met 80 ml (⅓ k) dubbelroom jogurt; 5 ml (1 t) gekapte vars kruisement; 1 klein knoffelhuisie, fyngedruk (opsioneel) en suurlemoensap en -skil, sout en peper na smaak.
  2. Bak ‘n paar platbroodjies op ‘n slag teen 200 °C in ’n lugbraaier vir 6 minute. Draai die broodjies om en lugbraai vir nog 2 minute om die anderkant ook kleur te gee. Verf elke broodjie aan beide kante met die orige gesmelte botter. Herhaal met die orige deeg.

Foto deur Adel Ferreira vir LiG Tydskrif, Lente 2025.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This