Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Broccoli-slaai met gekaramelliseerde uie & bloukaas

Sep 15, 2022 | Sides & salads, Vegetable side

Hierdie kleurvolle slaai is propvol interessante teksture en smake. Dis ook die perfekte oplossing vir dié wat nie oor ’n tipiese groenslaai opgewonde raak nie.

Die effens ongewone kombinasie van bestanddele is ’n geurige verrassing en almal wil altyd ’n tweede keer skep. Daar is eintlik net vyf elemente in die slaai, maar elkeen komplementeer die ander regtig goed. Spinasie en kaas is altyd ’n wenner en as jy nie van bloukaas hou nie, is feta net so lekker. Die soeterige smaak van die gekaramelliseerde uie is ’n goeie balans met die soutsmaak van die kaas en vars tamaties pas so goed by al die ander bestanddele.

Dis ’n maklike en vinnige slaai om te maak en perfek vir ’n braaivleis. Of sit dit as bygereg met hoender voor.

Resep

Broccoli-slaai met gekaramelliseerde uie & bloukaas

Lewer 6 porsies

Bestanddele

15 ml (1 e) olyfolie

3 uie, gehalveer en in dun skyfies gesny

15 ml (1 e) sagte bruinsuiker

30 ml (2 e) balsamiese asyn

sout en peper

30 ml (2 e) vars tiemieblare

300 g broccoli, in blommetjies gesny

2-3 handevol dwergspinasie of ander gemengde slaaiblare van jou keuse

200 g kersietamaties, gehalveer

100 g bloukaas of 1-2 skywe fetakaas, grof gekrummel

Metode

  1. Verhit die olyfolie oor matige hitte in ’n groot braaipan en soteer die uie tot heeltemal sag. Voeg die suiker en asyn by en geur na smaak. Verlaag die hitte effens en roer af en toe, terwyl die uie 10-15 minute, sonder ’n deksel, karamelliseer. Roer die tiemie by. Skep uit en laat eenkant afkoel.
  2. Plaas intussen die broccoli in ’n vlak bak en bedek met kookwater. Laat 10-12 minute staan of tot net gaar, maar steeds bros. Herhaal die kookwaterproses indien nodig.
  3. Dompel die broccoli in koue water sodat dit nie verder gaar word nie en dreineer dadelik. Druk liggies met kombuispapier droog. (Die broccoli kan ook vir ’n paar minute gestoom of in ’n kastrol geblansjeer word.)
  4. Pak die slaaibestanddele op ’n slaaibord en sit teen kamertemperatuur as ’n bygereg voor.

Wenke

  1. Gekaramelliseerde uie is verbasend veelsydig. Gebruik dit in enige ander slaai of roer saam met ’n groot handvol koljander- of basiliekruidblare en geroosterde neute, as bygereg, by koeskoes in.
  2. Vervang die tiemie in die gekaramelliseerde uie met komyn vir ’n ander geurprofiel.
  3. Sit al die elemente in aparte bakkies voor en laat elkeen hul eie slaai bou. Voeg ’n proteïen soos spek, gaar hoender of repies steak vir ’n ligte maaltyd by.

Hierdie Broccoli-slaai met gekaramelliseerde uie & bloukaas was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Herfs 2022.
Foto Adel Ferreira Photography.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This