Plaatkoekies met spek, bessies & jogurt

Plaatkoekies = bederf
Plaatkoekies is sinoniem met my kinderdae. Dit was ’n manier waarop my ma ons bederf het en ek onthou baie spesiale naweektye om ’n ontbyttafel met warm plaatkoekies. Wel, dit bly mos maar ’n persoonlike keuse, want daar is so baie moontlikhede. Is dit spek en heuning of liewer kaas en konfyt? Of het jy ’n ander lekker kombinasie?
Subtiele geur
Dié resep het ek jare gelede ontwikkel en dit bly ’n staatmaker. Ek het dit al soveel keer gemaak en deesdae is dit vir my kinders weer ’n groot bederf. Die karringmelk in die resep maak die plaatkoekies ekstra veerlig en ek sit glad nie suiker in die beslag nie, want die suurlemoenskil en vanielje gee dit ’n heerlike geur. Op dié manier is die plaatkoekies ook ideaal met enige bolaag.
Ek sit dit elke keer met ander elemente voor, maar my gesin is dol oor die kombinasie van spek, bessies, jogurt en ’n bietjie heuning. Het jy dit al met forel of salm met suurroom en roket of dalk piesang, grondbootjiebotter, kaneel en heuning probeer.
Hier is ’n lekker wenk: moenie die pan te warm maak as jy plaatkoekies bak nie, want dan brand dit te maklik en is die plaatkoekies dikwels nog rou aan die binnekant. Werk liewer oor ’n matige hitte, want dan het jy minder olie ook nodig. Lekker bak!


Resep
Plaatkoekies met spek, bessies & jogurt
Lewer ongeveer 24 plaatkoekies
Bestanddele
500 ml (280 g) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
2 groot eiers
15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
500 ml (2 k) karringmelk
5 ml (1 t) vanieljegeursel
60 ml (¼ k) botter, gesmelt
olie vir braai
ongegeurde jogurt, ekstra gerasperde suurlemoenskil, heuning, spek en bessies om mee voor te sit
Metode
- Sif die droë bestanddele saam in ’n mengbak. Klits die eiers, suurlemoenskil, karringmelk en vanielje saam en maak ’n holte in die middel van die meelmengsel.
- Klits die eiermengsel by die meel tot ’n gladde beslag vorm. Wees versigtig om dit nie te veel te meng nie, want dit kan die plaatkoekies swaar maak. Roer die botter goed deur.
- Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n groot braaipan. Skep lepelsvol beslag in die pan – besluit self hoe groot jy die plaatkoekies wil maak.
- Braai tot lugborrels bo-op vorm en draai versigtig met ’n eierspaan om. Braai net ’n paar minute tot gaar en goudbruin aan die ander kant. Hou die plaatkoekies warm, terwyl die res gebak word. Voeg nog olie in die pan by soos nodig, maar moenie die pan te warm maak nie, anders brand die plaatkoekies voor dit gaar is.
- Bedien die plaatkoekies warm en sit met die jogurt (of sien die wenk hier onder), suurlemoenskil, heuning, spek en bessies voor.
Wenk: geur 200 ml ongegeurde jogurt met 7,5 ml fyngerasperde suurlemoenskil of na smaak en roer 15 ml heuning by. Maak die mengsel net voor die plaatkoekies voorgesit word.
In Somer 2021 was hierdie Plaatkoekies met spek, bessies & jogurt deel van ’n artikel oor laatontbyt-idees in LiG Tydskrif.
Foto’s: Adel Ferreira.