Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Indonesiese rysgereg

Jul 20, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals, Mains

Kosblik 101

Soms is die kombinasie van bestanddele en geurmiddels net perfek en ’n pure smaaksensasie. Hierdie Indonesiese rysgereg is perfekte winterskos en dit het nie eers noodwendig vleis nodig om vullend en bevredigend te wees nie. Om lekker te eet, is ’n vreugde in die lewe en as jy boonop weet dat jy ’n voedsame ete kan voorsit, is dit eens so goed. Ons almal hou mos van die gevoel: ‘nou’t ek lekker geëet’.

Uit die reeks resepteboeke van Cooking from the heart , het ons al baie basiese beginsels en resepte gedeel om gesonde eetgewoontes ’n leefstyl te maak. Die resepteboeke moedig almal aan om met basiese bestanddele en ’n paar slim idees, lekker en gesond te eet. En om gesond te eet, beteken beslis nie dat jy duur of vreemde bestanddele nodig het nie. Met alledaagse bestanddele en ’n slim gaarmaakmetode, kan mens al baie ver kom. Dis ook ’n bekostigbare manier om gesonde gesinskos voor te berei. 

Vir die Indonesiese rysgereg, word ’n grondboontjiepasta self voorberei, teenoor ander opsies wat uit ’n botteltjie kom. Dit het vele voordele, maar die twee belangrikste goed om in ag te neem, is dat jy dan presies weet wat daarin is en dit is ’n goedkoper opsie. ’n Speserypasta uit ’n bottel is nogal geneig om baie sout te wees, maar hierdie weergawe is regtig geurig, sonder te veel sout. Maak sommer ’n dubbele resep en hou dit in die yskas – dis heerlik op gebakte patats, geblansjeerde groen groente of selfs hoender, vark en vis. 

Die rys wat gebruik word, is bruin basmatirys en is meer veselryk as witrys. Die neuterige smaak van die rys is ook ekstra lekker saam met die ander geure in die gereg. Speserygeure word dikwels saam met ’n soeterige en effens romerige smaak voorgesit. Dit komplimenteer nie net die speserye nie, maar help om dit goed te balanseer, veral as die skerper geure dalk vir jou te ‘warm’ is. Saam met hierdie Indonesiese gereg, word vars avokado en ’n appelslaai voorgesit. 

Pink Lady® Appels  is nou in seisoen en so sappig en smaaklik, dat dit perfek is saam met die speserye. Die mooi kleur van die appels se skil, dra verder by tot die aptytlikheid van die gereg. Onthou om nie die kraakvars appels af te skil nie, want baie van die voedingswaarde is in die skil. Die appel word in dun skyfies gesny en met kruisement en lemmetjiesap gegeur, so dit kan as slaai of selfs sambal met die geurige rysgereg voorgesit word. Die appelslaai is ’n maklike manier om ’n vars element as deel van die ete in te sluit, veral in die winter, wanneer ’n mens dalk minder lus is vir ’n slaai met blare, tamatie en komkommer. 

Vir ’n romerige smaak, is ’n avokado perfek. Dit is ook nou in seisoen en dus maklik bekombaar en bekostigbaar. Avokado is ook bekend daarvoor dat dit by feitlik enige ander bestanddeel pas. Dis die perfekte balans met speserygeure en dra beslis ook by tot die voedsaamheid van die gereg. Hierdie tyd van die jaar is beide groenskil en donkerskil avokado’s beskikbaar, so kies waarvan jy die meeste hou, want altwee se romerige smaak is heerlik met die ete. Vir baie jare het mense geglo dat avokado’s se vetinhoud te hoog was om deel te maak van ’n gesonde leefstyl. Deesdae weet ons dat die tipe vette en olies in avokado’s juis ’n belangrike deel is van ’n gesonde manier van eet. Matige porsies is, soos met enige iets anders wat mens eet, belangrik, maar jy kan tot ’n halwe avokado per dag eet, afhangend van die hoeveelheid gesonde vette in die res van jou etes. Lees meer oor avokodo’s as jy ook baie van die vrug hou. 

Hierdie rysgereg is ’n vegetariese ete, maar beslis voedsaam, want daar is iets uit elke belangrike voedselgroep ingesluit. Die gereg word ook baie tipies met ’n gebakte eier bo-op voorgesit en ek is dol oor ’n sagte, loperige geel, wat sommer as ‘sous’ vir die rys kan dien. Die eiers is die hoofbron van proteïene in die ete. Die avokado dra ook verder by tot proteïene, maar met ’n groot of selfs ekstra-groot Nulaid eier of twee vir elkeen, is daar voldoende proteïene. Eiers bevat natuurlik ook heelwat ander gesonde elemente, soos antioksidante, vitamiene, minerale en ook gesonde olies. Net soos avokado’s, het mense lank gedink dat eiers lief nie té gereeld geëet moet word nie, maar vandag weet ons dat solank eiers op ’n gesonde manier voorberei en met vars en natuurlike bestanddele voorgesit word, dit ’n fantastiese deel van ’n gesonde eetplan kan wees. 

Resep

Indonesiese rysgereg met gebakte eiers

Resep van Pharma Dynamics; Let’s talk
Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

Grondboontjiepasta

30 ml (2 e) fyngerasperde vars gemmer

2 klein knoffelhuisies, gekneus

20 ml (4 t) paprika

20 ml (4 t) gemaalde komyn

20 ml (4 t) gemaalde koljander

1-2 klein brandrissies, ontpit en fyn gekap

200 g ongesoute grondboontjies, grof gekap (sien wenk)

5 ml (1 t) fyngerasperde lemmetjie- of suurlemoenskil

30 ml (2 e) lemmetjie- of suurlemoensap

90 ml (6 e) olyf- of avokado-olie

Rys

15-20 ml (3-4 t) olyf- of avokado-olie

8 sprietuie, in dun skyfies gesny

500 ml (2 k) rou bruin basmatirys

2,5 ml (½ t) sout

1,2 liter water 

6-8 groot Nulaid eiers, in baie min olie gebak

varsgemaalde swartpeper en nog lemmetjie- of suurlemoensap na smaak

lemmetjie- of suurlemoenwiggies om mee voor te sit

1-2 avokado’s, in dun skyfies gesny

met Pink Lady® Appel-slaai voorgesit

Metode

1. Grondboontjiepasta: Meng al die bestanddele saam om ’n growwe pasta te vorm.

2. Rys: Verhit 15 ml van die olie in ’n wye, diep braaipan (bv. ’n AMC 28 cm Chef’s Pan of Paella Pan) oor ’n matige hitte. Braai 125 ml (½ k) van die grondboontjiepasta vir ’n paar minute of tot net aromaties.

3. Voeg die helfte van die sprietuie by en soteer vir ’n paar minute. Roer rys en die res van die olie by en soteer tot goed gemeng is.

4. Voeg sout en water by en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte, plaas die deksel op en prut liggies vir 30-35 minute of tot die rys net gaar is, maar nie te sag nie. 

5. Bak die eiers in ’n aparte pan, in ’n klein hoeveelheid olie, soos jou gesin dit verkies.

6. Geur die rys met swartpeper en lemmetjie- of suurlemoensap na smaak.

7. Sit die rys met eiers, lepelsvol orige grondboontjiepasta, lemmetjie- of suurlemoenwiggies, die orige sprietuie en avokado voor. ’n Vars Pink Lady® Appel-en-kruisementslaai sal heerlik wees saam met die rys. (Sien wenk)

Wenke

1. Pink Lady® Appel- & kruisementslaai: Sny twee Pink Lady® Appels in wiggies en dan in dun skyfies. Meng dit met fyngekapte kruisementblare en ’n bietjie lemmetjiesap na smaak.

2. Gebruik die plat kant van ’n groot mes se lem om die grondboontjies te breek en kap dit dan verder in growwe stukkies. 

3. Berei dubbel die grondboontjiepasta voor om saam met enige eiergereg, gebraaide vleis of geroosterde groente te geniet. Dit sal vir twee tot drie weke in die yskas hou. 

4. Indien ongesoute grondboontjies nie beskikbaar is nie, gebruik dan gesoute grondboontjies. Geur dan die gereg met aansienlik minder sout. 

5. Koljanderblare sal heerlik wees om die dis mee te garneer. 

Pin It on Pinterest

Share This