Gebakte pere met port, kaneel & heuning

Speserye word lank nie meer aan een seisoen gekoppel nie. Daar word ‘n verskeidenheid van resepte aangewend om speserye se veelsydigehid te weerspieël. Wonder jy soms watter nagereg jy kan voorberei sonder om ure te bak en brou in die kombuis? Hierdie resep is perfek omdat dit nie veel bestanddele benodig nie en wat meer, almal sal hiervan hou – veral die mans wat nie van snaakse poedings hou nie. Die eenvoudige kombinasie van port, heuning en speserye wat stadig saam gaar word is hemels. Dit benodig geen meel en kan individueel bedien word of as een poeding met Griekse jogurt,crème fraîche, tuisgemaakte vla of roomys.
Resep
Gebakte pere met port, kaneel & heuning
Resep uit Kos is op die tafel!
Lewer 6 – 8 porsies
Bestanddele
6 ryp, maar ferm pere met die skil, in kwarte gesny en ontpit
250 ml (1 k) port of muskadel van goeie gehalte of sterk Rooibostee
30 ml (2 e) heuning (of gebruik dubbel soveel heuning met die Rooibostee)
45 ml (3 e) sagte bruinsuiker
2 kaneelstokkies, in stukkies gebreek
½ ster-anys
3 heel naeltjies
Metode
1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Pak die pere, gesnyde kante na bo, in ’n groot oondbak. Roer die res van die bestanddele saam tot die heuning en suiker opgelos het en giet oor die pere om dit te bedek.
2. Bak 20 minute en skep van die sous oor die pere. Bak nog 10-15 minute of tot die pere net sag, maar nie pap is nie. Bedruip pere weer met van die sous.
3. Sit warm of teen kamertemperatuur met Griekse jogurt voor. Dis ook heerlik met tuisgemaakte vla, met ’n knippie vanieljesaadjies gegeur, of net so op hul eie met die sousie.
Wenk
1. Die steranys in die resep kan vervang word met 2-3 kardemompeule.