Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Sampioenkerrie

May 11, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Vegetarian

Kosblik 101

Spyskaart
Sampioenkerrie
JAZZ™ Appel-sambal met sprietuie, avokado en koljanderblare

Warm bakkies en borde kos vir koue dae is binnekort aan die orde van die dag. En in die winter eet mens graag iets wat jou maag en hart warm maak, maar dit hoef nie noodwendig swaar te wees nie. Hierdie vegetariese sampioenkerrie is geurig en vullend, maar beslis nie swaar nie. Dis blitsvinnig om te maak, want jy geur basies die vloeistof met lekker wintergeure soos gemmer, knoffel, ’n bietjie brandrissie en sitrusgeure en maak dan ’n variasie sampioene daarin gaar. Die resep kan ewe maklik as ’n bredie met ’n lepeltjie rys of as ’n sop voorgesit word. Sampioene is voedsaam en vullend genoeg, dat jy nie eers die vleis hierin gaan mis nie.

Kerrie word dikwels met ’n sambal as bykomstigheid voorgesit. Dis ’n lekker manier om steeds iets vars as deel van die ete in te sluit, veral as mens in die winter dalk minder lus is vir slaai. So ’n vrugte-sambal is ook ’n tipiese manier om ’n warm kerrie so bietjie te tem. Hierdie sampioenkerrie is glad nie warm nie, maar die kombinasie van appel en avokado is heerlik met die sampioene.

JAZZ™ Appels is nou beskikbaar en die natuurlike soet smaak is perfek vir die sambal. Die appel is ook lekker bros en sappig. Koljanderblare is baie bekend in ’n kerrie en ook heerlik met beide appels en avokado, so dis ’n ideale geurmiddel, sonder om die appel se smaak te oorheers. Moenie die appel skil nie, want die voedingswaarde is in en onder die skil en die mooi rooi kleur is deel van die rede waarom die sambal so aptytlik lyk.

Brandrissie is ’n baie lekker bestanddeel om veral in die winter in geregte te gebruik, maar nie almal hou ewe veel daarvan nie. Ander hou van die effens skerp smaak, maar wil nie hul oë meer laat traan van die brandrissie as om regtig iets te proe nie. Daar is gelukkig verskillende maniere om die warmheid-graad van brandrissies in kos te beheer. Vir ’n matige geur, werk dit uitstekend om die heel brandrissie (soos vir die resep) net in die vloeistof te sit en dit na ’n rukkie uit te haal. As jy van effens warmer smake hou, kan die brandrissie oopgesny, ontpit en dan fyngekap word. Hoe fyner dit gekap is, hoe kleiner is die kans dat jy ’n stuk brandrissie in ’n happie kos gaan kry, wat dit ook matiger sal maak. Die pitte en die witgedeeltes aan die binnekant van die brandrissie, is waar die meeste van die ‘brand’ sit, so as jy die pitte deelmaak van die gereg, gaan jy dit beslis weet. Verskillende soorte en groottes brandrissies het ook elkeen hul eie graad van skerpheid, so kyk maar op die verpakking wat aangedui word, of leer uit ervaring waarvan julle hou.

 

 

Klappermelk is die basis van die vloeistof vir dié kerrie, want dit pas so goed by die ander geurmiddels. Alhoewel klappermelk redelik hoog in vet is, kan dit steeds van tyd tot tyd deel wees van geregte, veral wanneer daar min ander vet of stysel in die gereg is. Dit is baie geurig en die vetinhoud maak dat die gereg selfs nog meer vullend is. Maar as jy nie klappermelk het of daarvan hou om dit te gebruik nie, kan jy gewone melk met droë klapper geur om ’n soortgelyke smaak aan die kerrie te gee. Die wenk onderaan die resep verduidelik wat om te doen.

’n Kerrie soos hierdie een, word dikwels met ’n voorafbereide Thaise-kerriepasta gemaak, maar dit kan nogal baie sout bevat en dan weet jy ook nie altyd wat in die pasta is nie. As jy dus verkies om die gesonder roete te volg, is dit ewe maklik om die vloeistof met vars en natuurlike geurmiddels te geur. Soos die sampioene in die vloeistof kook, dra dit ook verder by tot die geur, want die sampioene se vloeistof wat ‘uitkook’ dien as ’n aftreksel vir die kerrie. Sampioene het van nature ’n soutsmaak (umami) wat definitief ’n gesonder opsie is, as voorafbereide aftreksel wat tipies baie sout is. Dit is ook die beginsel waarop Cooking from the heart se resepte ontwikkel is – geurig en gesond en maklik om voor te berei.

Sampioene word dikwels gesoteer of gerooster, maar so in ’n vloeistof gaargemaak, is dit ewe lekker, want die stewige tekstuur van die sampioene werk perfek daarvoor en dit absorbeer dan al die ander geure. Sampioene pas ook by soveel geure en selfs hierdie kerrie se geurmiddels is heerlik met ’n verskeidenheid sampioene.

Ek gesels ook elke week oor ’n woord of konsep wat die ATKV graag borg. As jy die Kaap woon, spreek jy die woord, kerrie, dalk anders uit as in ander dele van die land. Streekstaal is ’n wonderlike deel van ons taal, wat dit ryk en interessant maak. Alhoewel dit dalk vir sommiges vreemd klink as Kapenaars van ‘kerrie’ praat en ander streke dit as ‘kêrrie’ uitspreek, is beide inderdaad korrek en aanvaarbaar.

Resep

Sampioenkerrie

Resep aangepas uit From a doctor’s heart
Lewer 4 porsies

Bestanddele

1 x 400 ml-blik klappermelk

150 ml melk

1 knoffelhuisie, fyngedruk

1 klein rooi brandrissie, gekap (of 2 klein, heel rooi brandrissies)

3-4 dik skywe vars gemmer

1-2 sitroengrasstingels (lemon grass), gekneus of 3-4 breë repe suurlemoenskil, met groenteskiller gesny

250 g knopiesampioene, in dik skywe gesny

150 g baba-knopiesampioene, gehalveer

250 g portabellini sampioene, in dik skywe gesny

100 g groenboontjies, in breedte gehalveer

sout, peper en suurlemoensap na smaak

60 ml (¼ k) gekapte vars koljanderblare

Metode

1. Plaas die helfte van die vloeistof in ’n kastrol (bv. ’n AMC 20 cm Gourmet Low or High). Plaas die knoffel, brandrissie, gemmer en sitroengras in die vloeistof en verhit oor ’n matige hitte.

2. Prut stadig vir 10 minute tot aromaties. Roer die res van die vloeistof by en verhit tot kookpunt.

3. Verlaag die hitte, roer al die sampioene by en prut stadig met die deksel vir 5-8 minute of tot die sampioene gaar is, maar nie pap nie.

4. Roer die boontjies by en prut nog vir 2-3 minute of tot die boontjies net geblansjeer is. Geur na smaak.

5. Roer die koljander by net voor dit voorgesit word. Bedien die kerrie met ’n verfrissende JAZZ™ Appel-sambal (sien wenke) en suurlemoenwiggies. Garneer met ekstra koljanderblare.

Wenke

1. JAZZ™ Appel-sambal: Sny 1-2 JAZZ™ Appels met die skil, in blokkies. Meng avokado, wat ook in blokkies gesny is, dun skyfies sprietuie en ’n handvol koljanderblare by die appel. Geur na smaak met suurlemoensap.

2. Indien verkies, kan die brandrissie reeds in stap 3 uitgehaal word, om ’n minder skerp smaak aan die kerrie te gee.

3. Indien klappermelk nie beskikbaar is nie, kan 400 ml melk en 60 ml (¼ k) gedroogde klapper saam gemeng word. Laat 20-30 minute staan om die melk te geur en gebruik dan soos hierbo.

4. Indien verkies, kan die kerrie met mielieblom verdik word. Meng 5-10 ml (1-2 t) mielieblom met ’n bietjie water om ’n pasta te vorm. Roer van die warm vloeistof by die pasta en dan by die kerrie. Laat ’n paar minute prut, sit dadelik voor.

Pin It on Pinterest

Share This