Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Gebakte klein grenadella-kaaskoekies

Apr 20, 2018 | Baking, Cold dessert, Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart
Gebakte klein grenadella-kaaskoekies

Grenadella-kaaskoek is beslis iets wat my oog sal vang. En as dit met vars vye, granate en druiwe gegarneer is, soveel te meer. Dis so ’n maklike resep, dat selfs dié wat nog nooit ’n kaaskoek gebak het nie, die mooie klein weergawes maklik onder die knie sal kry.

Gesonde eetgewoontes beteken beslis nie dat ’n mens nie van tyd tot tyd iets soets mag eet nie. Die belangrikste is om te kyk hoe groot die porsie is en die nagereg met gesonde bestanddele te maak. Hoe minder suiker, hoe beter, want daar is ander maniere om ’n soet en lekker smaak aan iets soos die kaaskoekies te gee. Vanielje en vars seisoensvrugte is ’n uitstekende kombinasie en met suiwel en grenadella is jy reeds op die regte spoor.

As jy met mense oor kaaskoek begin gesels, is daar verskillende opinies oor die soort en geur kaaskoek waarvan hulle die meeste hou. Vir party is ’n gebakte kaaskoek die groot gunsteling, maar ander verkies ’n yskas-weergawe. Kaaskoek kan met of sonder ’n kors gemaak word en die kors kan uit ’n degie of verskeie soorte koekiekrummels bestaan. Kaaskoek moet inderdaad ’n romerige tekstuur hê en dit het dié kaaskoekies beslis. Hierdie resep het nie ’n kors nie, want die idee is om dit, soos ’n nagereg, sommer met ’n teelepel uit die bakkie te eet. Die grenadella gee ’n lekker balans en geur saam met die maaskaas en jogurt en pas perfek by die vars vrugte.

Onthou om nooit ’n kaaskoek te lank te bak nie, want die suiwel en eiers sal verder stol soos dit afkoel. As dit gebak word tot die mengsel heeltemal styf is, is die eindresultaat maklik droog teen die tyd dat dit koud is. Die grootte en diepte van die bakkies waarin die mengsel geskink word, sal natuurlik die baktyd ook bepaal, maar hou dit mooi dop. Skud die bakplaat waarop die bakkies staan liggies om te sien of die binnekante nog effens sag is. As dit te loperig is, bak vir net nog 3 of 5 minute, tot dit feitlik gestol is. Laat die nagereggies sommer in die oond (met ’n effense oop deur) geleidelik afkoel, dit verhoed dat die bokant te veel kraak, maar onthou dat dit deel van die kaaskoekies se voorkoms is. Moenie ontsteld raak as dit wel effens bo-op kraak nie – dit gaan in elke geval met vrugte garneer word.

Die resep was deel van die resepte in Cooking from the heart 3  waar die fokus weereens maniere was om lekker en gesond te eet. Geniet liewer ’n kleiner porsie nagereg as om jouself dit heeltemal te verbied, net om later só lus te kry daarvoor, dat jy dit dalk heeltemal oordoen. En om iets self te maak, beteken dat jy presies weet wat in die nagereg is en met die vrugte is daar sommer nog voedingswaarde.

Kaaskoek bevat altyd ’n vorm van suiwel en dit kan wissel van room met baie eiers, tot ’n kombinasie van roomkaas, room en selfs, soos in hierdie resep, gladde maaskaas met die eiers. Afhangend van die tipe maaskaas wat jy in jou etes insluit, kan jy besluit of jy lae-vet of volroom maaskaas wil gebruik, die resep werk met beide opsies. Maar jy gaan beslis eiers nodig hê, dit bind die mengsel saam en dra ook by tot die romerige tekstuur en sommer ook die voedingswaarde van die kaaskoekies. Ek het van Nulaid se groot eiers gebruik, maar ekstra-groot eiers sal ook vir hierdie resep werk. Onthou dat eiers en suiwel beide hittesensitief is, so die effens laer oondtemperatuur is inderdaad reg. Dit help dat die mengsel nie dalk wil skif nie, want dis minder aptytlik.

Sukkel jy ook met die spelling van grenadella? As jy granadilla (Engels) en grenadella (Afrikaans) sê is die uitspraak van die twee woorde baie eenders. Probeer jy dit spel, het jy dalk ’n woordeboek nodig of moet jy dit eers googleloer (terloops ook ’n erkende Afrikaanse woord). Die ATKV borg hierdie week die woord ‘grenadella’, maar is ewe trots daarop om ons nuwe woorde, soos googleloer te leer en opgewonde te hou oor ons taal. Terwyl ek van die ATKV praat – gaan eet gerus met jul volgende besoek op ’n oord, by die Koswerf-restaurant. Daar is ’n bevrore grenadella-kaaskoek op hul spyskaart wat jy beslis moet proe.

Resep

Gebakte klein grenadella-kaaskoekies

Resep uit Cooking from the heart 3
Lewer 6 porsies

Bestanddele

180 ml (¾ k) ongegeurde gladde maaskaas

175 ml ongegeurde jogurt

15 ml (1 e) suiker

15 ml (1 e) mielieblom

5 ml (1 t) vanieljegeursel

2 groot Nulaid eiers

1 x 115 g-blik grenadellapulp

vars seisoensvrugte, bv. vye, druiwe en granaatpitte

’n paar kruisementblare

Metode

1. Voorverhit die oond tot 160 °C. Klits al die bestanddele, behalwe die vrugte en kruisement, saam tot goed gemeng.

2. Verdeel die mengsel tussen 6 individuele oondvaste bakkies of ramekins.

3. Plaas die bakkies op ’n bakplaat en bak vir 25-30 minute of tot net gestol. Om te toets, skud die bakplaat liggies om te sien hoe ferm die kaaskoekies is. Soos dit afkoel, sal dit verder stol, so moenie dit te lank bak nie, dan is dit droog.

4. Skakel die oond af en laat dit in die oond afkoel. Plaas in die yskas en laat heeltemal afkoel.

5. Garneer met vars seisoensvrugte soos vye, druiwe en granaatpitte en kruisementblare. Sit kaaskoekies koud voor.

Pin It on Pinterest

Share This