Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Mieliekoekies vir ontbyt

Mar 28, 2018 | Breakfast, Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals

Kosblik 101

Spyskaart
Mieliekoekies met spek, pangebraaide tamaties en spinasie- of roketblare

Om met produkte en bestanddele van topgehalte te werk is altyd lekker. Nie net om te eet nie, maar ook om daarmee te kook. Deesdae doen sommige verskaffers en vervaardigers van kosprodukte regtig baie moeite om seker te maak dat net die beste bestanddele vir hul produkte gebruik word. As jy dan daarmee kook, is daar dikwels min ander bestanddele nodig om ’n smaaklike ete voor te berei.

Mieliekoekies is ’n maklike ding om te maak en die manier waarop dit gegeur word, kan sonder veel moeite afgewissel word. Deur byvoorbeeld volkoringmeel te gebruik, kry die mieliekoekies ’n heerlike tekstuur. Ek gebruik graag steengemaalde meel, omdat dit soveel meer voedingswaarde bevat. Vars kruie, gekapte sprietuie of selfs ’n bietjie fyngerasperde harde kaas, soos pecorino, gee ’n mieliekoekiebeslag elke keer ’n ander geur. Vars tiemie, origanum of Italiaanse pietersielie is ideaal en kan afgewissel word na gelang van die manier waarop of die ander geregte waarmee dit voorgesit gaan word.

Ek het onlangs die voorreg gehad om weer met Richard Bosman se reeks kwaliteit kouevleise te werk. Richard is regtig ’n spesialis op sy gebied en een van daardie vervaardigers wat daarop fokus om net die beste gehalte bestanddele te gebruik en produkte te lewer. Hy gebruik net vryloop-varke en al die vleis vir sy verskillende produkte, word met die hand opgesny en verwerk. Tradisionele tegnieke word gebruik om die reeks kouevleise te maak en geen kortpaaie word gevolg nie. Vir hierdie ontbyt gebruik ek van sy ongerookte spek en dis beslis van die lekkerste spek wat ek in ’n baie lang tyd geëet het.

Die spek word glad nie met vog ingespuit nie, wat verskillende voordele tot gevolg het, soos dat die spek baie vinnig gaar word en net ’n matige hitte nodig het. Daar is ook geen onnodige vog wat uitstoot wanneer dit gaargemaak word nie, anders stoom of kook die spek in die vloeistof, in plaas daarvan dat dit braai. Richard se spek word met tiemie en roosmaryn gegeur, wat ’n heerlike unieke geur aan die spek gee en dit pas perfek by die tiemie in die mieliekoekies. Ondersteun gerus ’n plaaslike verskaffer soos Richard, wat baie trots is op dit wat hy maak en gaan kyk gerus wat nog alles deel is van sy reeks produkte.

Die mieliekoekies is ’n lekker alternatief vir brood by ’n ontbyt of ander ete en natuurlik perfek vir kosblikke. Vir die ontbyt maak ek die koekies graag lekker groot, maar vir ’n kosblik kan jy natuurlik ’n paar kleineres maak. Onthou om met elke ete, selfs vir ’n ontbyt of laat-ontbyt met ’n langnaweek of spesiale ete, die maaltyd gebalanseerd te hou. Kombineer bestanddele uit verskillende voedselgroepe om jou bord kleurvol te hou en seker te maak dat die ete voedsaam is. Dit bly van die belangrike beginsels van ’n gesonde manier van kook en eet. Om iets soos mieliekoekies self te maak, in plaas daarvan om nog ’n klaargemaakte produk op die tafel te sit, is regtig nie moeilik nie en beslis die beter keuse. Op die manier weet jy wat in jul etes ingesluit is en kan jy selfs verseker dat daar nog meer voedingswaarde is.

Dis ook die beginsels van die reeks resepteboekies van Pharma Dyanmics, Cooking from the heart, wat steeds gratis op hul webwerf beskikbaar is. Die resepte word met alledaagse en bekostigbare bestanddele voorberei. Daar is heelwat riglyne oor ’n gesonde manier van leef in al drie die boeke en een gewoonte wat mens gerus kan aanleer, is om etikette te lees. Op die manier het jy ook ’n baie beter idee wat in bestanddele, en dus jul etes, is. Vir iets soos die suikermielies of heelpitmielies vir die resep, is dit waardevol om blikkies te kies met so min as moontlik bygevoegde suiker, sout en ander preserveermiddels.

’n Belangrike bestanddeel in die mieliekoekies, is die eier. Dit bind nie net die bestanddele saam nie, maar dra ook verder by tot die voedingswaarde van die ete. Eiers is een van daardie veelsydige bestanddele wat mens maar altyd in die kombuis kan hê, want of jy ’n vinnige ete wil maak, iets wil bak of ’n vinnige bron van proteïen nodig het, is eiers maklik om gaar te maak en op verskillende maniere aan te wend. Vir vandag se resep gebruik ek van Nulaid se vryloop-eiers – dis maar net een van die soorte eiers wat in hul reeks beskikbaar is. Kyk gerus op hul webwerf watter ander groottes beskikbaar is. Daar is ook baie ander interessante inligtig oor eiers beskikbaar.

 

Vryloop-hoenders kan na hartelus rondloop en skarrel vir hul kos, dalk dié dat mense soms na vryloop-hoenders ook as skarrelhoenders verwys – ’n pragtige woord. En dis dan sommer ook die woord wat die ATKV hierdie week borg. Soms word daar ook na skrop- of werfhoenders vewys. Alles maniere om aan te dui dat die hoenders beslis nie heeldag op hok staan en net gevoer word nie. In Engels word daar veral na free-range hoenders of eiers verwys, maar die Afrikaanse beskrywing is soveel mooier en vir my pragtig om te gebruik.

Resep

Mieliekoekies vir ontbyt

Resep aangepas uit Cooking from the heart
Lewer ongeveer 12 groot koekies

Bestanddele

½ x 410 g blik heelpit mielies, gedreineer

1 x 410 g blik geroomde suikermielies

250 ml (1 k) volkoringmeel, verkieslik steengemaal

2,5 ml (½ t) bakpoeier

1 groot Nulaid vryloop-eier, geklits

125 ml (½ k) melk

5 ml (1 t) gemaalde gemengde speserye

30 ml (2 e) vars tiemieblare

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie

160 g Richard Bosman ongerookte spek

200 g heel klein tamaties

handvol elk babaspinasie- en roketblare

Metode

1. Meng die twee soorte mielies, meel, bakpoeier, eier, melk, speserye en tiemieblare saam in ’n groot mengbak.

2. Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n braaipan (bv. AMC 28 cm Chef’s Pan). Skep ongeveer 60 ml (¼ k) van die mengsel in die pan om groot mieliekoekies te vorm. Braai aan albei kante tot goudbruin en gaar. Herhaal met die res van die olie en mengsel. Dreineer op kombuispapier indien nodig en hou warm.

3. Verhit nog ’n pan oor matige hitte (bv. AMC 24 cm Chef’s Pan) en braai die spek sonder enige ekstra olie tot goudbruin en gaar. Skep uit en soteer die heel tamaties vir ’n paar minute in dieselfde pan – net tot die skilletjies begin bars en dit die spekgeure geabsorbeer het.

4. Sit mieliekoekies met spek, tamaties, spinasie en roketblare voor. Garneer met ekstra tiemieblare en sit warm voor.

Wenke

1. Maak sommer genoeg mieliekoekies om die volgende dag in ’n kosblik te pak.

2. Gekapte sprietuie of grasuie sal heerlik wees in die mieliekoekiebeslag.

Pin It on Pinterest

Share This