Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Laat-ontbyt met sampioene

Mar 16, 2018 | Breakfast, Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals

Kosblik 101

Spyskaart
Laat-ontbyt met pangebraaide sampioene

Hierdie tyd van die jaar is ons gelukkig genoeg om ’n paar vakansiedae en langnaweke in ’n ry op die kalender te kan afmerk. Dis die ideale kans om met vriende of familie te kuier en dalk selfs ’n laat-ontbyt te geniet. Iets soos hierdie pangebraaide sampioene en groente met halloumi is ideaal om sommer so kuier-kuier saam in die kombuis te maak. Die resep is nie ’n tipiese spek-en-eier-ontbyt nie, maar inderdaad ’n vegetariese idee met die sampioene, groente en repies gebraaide halloumi-kaas – heerlik geurig en vullend, sonder om te swaar te wees.

Die groentemengsel kom oorspronklik uit Cooking from the heart se resepteboek en daarin is dit wel met eier op ’n snytjie roosterbrood voorgesit. Die alternatiewe manier om die groentemengsel te gebruik is ewe lekker en baie maklik om te maak, want dit word sommer in ’n pan gebraai.

Pharma Dynamics se resepteboeke, Cooking from the heart, is almal gratis op hul webwerf http://cookingfromtheheart.co.za/ beskikbaar, so blaai gerus daar rond vir nog gesonde en lekker idees. Meeste van die resepte is net so veelsydig soos hierdie een, so kyk gerus ook altyd na die wenke en idees by elke resep. Die resepte bestaan ook uit alledaagse bestanddele wat maklik is om voor te berei en met die regte geurkombinasies en gaarmaakmetodes eet jy en jou gesin in ’n japtrap lekker en gesond.

’n Verskeidenheid sampioene werk ideaal vir die resep. Ek het portabellini- en knopiesampioene gebruik om die neuterige smaak van die portabellini’s met die meer neutrale knopies te kombineer. Een voordeel van meeste sampioene is dat hulle die geure van ’n gereg baie goed absorbeer en as sampioene eers pangebraai word en dan met ’n skeut suurlemoensap, peper en iets soos balsamiese asyn gegeur word, is dit heerlik. Onthou dat sampioene nie olie nodig het om te soteer nie, want dit kan maklik te olierig word en die hele gereg bederf. Sampioene is van nature laag in vet en sout, maar hoog in vesel, so dis ideaal om ’n ontbyt soos hierdie lekker vullend te maak en volume te gee. Dit voorsien ons ook van ’n goeie skoot vitamiene, minerale, anti-oksidante en selfs proteïene.

Sampioene kan gevries word, hetsy rou of reeds gesoteer en is ideaal vir soppe of bredies. Onthou dat sampioene baie vog bevat, so dit sal maklik sweet wanneer dit in plastiekverpakking gebêre word. Haal dit liewer uit en bêre in ‘n papiersakkie of katoensakkie, sodat dit kan asemhaal – sodoende sal dit baie langer behoue bly. Besoek gerus www.mushroominfo.co.za vir nog wenke oor sampioene.

Die halloumi-kaas (uitgespreek gha-lloumi) wat ek vandag gebruik het, is van Indezi River Creamery in die Natalse Middelande. Hierdie is ’n bokmelk-halloumi in die kenmerkende Griekse-styl en bekend as ’n semi-harde braai-kaas. Moenie in die versoeking kom om die kaas te diepvetbraai nie, ’n dun lagie olyfolie in ’n pan is genoeg. Braai dit oor ’n matige temperatuur, sodat die kaas goudbruin braai. Dit het ’n baie delikate smaak en warm uit die pan is dit iets besonders en die ideale kombinasie met die groente. Die kaas is ’n heerlike bron van proteïen vir die ontbyt. Indezi River Creamery se kase is iets wat die hele gesin geniet. Kyk uit vir hul verpakking of kyk op hul webwerf wat die reeks alles insluit.

Nog ’n heerlike ontdekking, was Indezi River se ongegeurde bokmelk-jogurt. Dit is een van die romerigste jogurts wat ek al geëet het en perfek as deel van ’n ontbyt. Geniet dit met seisoensvrugte en dalk tuisgemaakte muesli of gekapte neute. Bokmelk produkte verteer makliker as koeimelkprodukte en ideaal vir mense wat sensitief is vir melkprodukte.

Het jy al gehoor van umami? Dis ’n Japanese woord wat direk vertaal kan word as ‘smaaklike geurmiddel’ en verwys na die sogenaamde vyfde smaak wat ons ervaar. Almal ken soet, sout, suur en bitter as die elemente van smaak. Sommige geregte het sterkter ondertone van die een as die ander, maar dit bepaal grootliks of iets vir ons lekker smaak of nie. Afrikaans hou mos tred met nuwe ontwikkelings en staan nie terug wanneer daar ’n ’nuwe’ koswoord in die wêreld bekend word nie. Umami word dus net so in Afrikaans gebruik en die effens souterige, maar baie unieke smaak van sampioene word gereeld met umami geassosieer. Die ATKV borg elke week ’n koswoord vir my televisie-insetsel en hulle is deel van Afrikaans.com wat ’n verskeidenheid projekte loods om ons entoesiasties te hou oor ons mooi taal.

Resep

Laat-ontbyt met pangebraaide sampioene

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

250 g portabellini-sampioene, in kwarte gesny

150 g knopiesampioene, heel

suurlemoensap na smaak

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie

3 murgpampoentjies, in dik skywe gesny

200 g kersietamaties

30 ml (2 e) rooiwyn- of balsamieseasyn

10-15 ml (2-3 t) gedroogde gemengde kruie

sout en peper na smaak

’n handvol babaspinasieblare

’n pakkie Indezi River Creamery bokmelk-Halloumi, in breë repies gesny

suurlemoenwiggies om mee voor te sit

Metode

1. Verhit ’n braaipan sonder enige olie (bv. ’n AMC 28 cm Chef’s Pan) en soteer die sampioene in sarsies tot goudbruin. Voeg die suurlemoensap by, skep uit en hou eenkant.

2. Verhit helfte van die olie in dieselfde pan en soteer die murgpampoentjies en tamaties vir ’n paar minute.

3. Voeg die asyn en kruie by en roer die sampioene by tot deurwarm. As die pan te warm is en die asyn vinnig verdamp, haal die pan vir ’n rukkie van die stoof af.

4. Geur na smaak en roer spinasie deur. Maak seker dat dit met die sous bedek word. Die spinasie lyk aanvanklik te veel, maar word vinnig minder soos dit gaar word.

5. Haal die pan van die stoof af sodra die spinasie begin sag word.

6. Verhit die res van die olie oor matige hitte in ’n aparte pan (bv. AMC 24 cm Chef’s Pan).

7. Braai halloumi aan eenkant tot goudbruin. Draai om en braai vir nog ’n paar minute.

8. Sit dadelik met die groente en suurlemoenwiggies voor.

Wenk

1. Terwyl die groente braai, geniet van Indezi River Creamery se baie romerige, ongegeurde bokmelk-jogurt met tuisgemaakte muesli en seisoensvrugte as ‘eerste gang’ vir ’n laat-ontbyt.

Pin It on Pinterest

Share This