Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Hoenderslaai met gemarineerde sampioene

Mar 2, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals, Light poultry, Salad as a meal

Kosblik 101

Spyskaart
Hoenderslaai met gemarineerde sampioene

Daar is eindelose resepte vir ’n hoenderslaai en die moontlikhede vir geurkombinasies strek wyd en vêr, maar ’n eenvoudige kombinasie van treffende bestanddele bly altyd ’n wenner. Vir hierdie resep het ek bruinsampioene eers in ’n pan gesoteer en daarna in ’n mengsel van olie, balsamiese asyn, korrelmosterd en kruie gemarineer. Sappige stukkies hoender word dan met groenboontjies, ’n paar slaaiblare, ’n opwindende kaas en die sampioene op ’n bord gepak. Die marinade is sommer ook die slaaisous en die slaai is ’n perfekte maaltyd vir die tyd van die jaar.

In die volgende paar weke gaan ek verskillende geregte met sampioene voorberei om te wys hoe veelsydig dié gesonde bestanddeel is. Dit gaan ook sommer ’n maklike manier wees om te wys hoe natuurlike geurmiddels en die regte gaarmaakmetodes geregte net soveel lekkerder maak – beslis beter as net nog ’n pakkie of botteltjie reedsvoorbereide ‘iets’ uit ’n winkel. Soms is eenvoud juis die antwoord, met ’n paar elemente wat mekaar regtig goed aanvul en komplementeer.

Die marinade en dus slaaisous van die resep is ’n variasie op ’n slaaisousresep wat ek al voorheen gebruik het. Deur selfs ’n slaaisous of marinade voor te berei, weet jy presies wat daarin is, want dis nogal twee produkte wat baie maklik ’n klomp versteekte bestanddele, soos suiker, sout, chemikalieë en ander preserveermiddels, kan bevat, wat jy dalk eintlik probeer verminder in jul etes. ’n Slaaisous en marinade bevat dikwels olie as ’n basis, so gebruik ’n gesonde olie, soos olyf- of avokado-olie om reeds daarmee al van die gesonde omega-olies in jul etes in te sluit.

Die hoender word net effens verbruin en dan vir ’n paar minute geprut om gaar, maar nog baie sappig te wees. Daarna word dit in kleiner stukkies gepluis – so ’n mooi Afrikaanse woord. En sommer ook die woord wat die ATKV die week borg. Alhoewel die betekenis van die twee woorde pluis en vlok baie na aan mekaar is, is daar tog ’n verskil. Om iets te pluis, beteken dat jy dit uitrafel, soos met die hoender vir die resep of die deesdae gewilde varkvleis – flentervark (pulled pork). Die aksie word heel dikwels met jou hande gedoen. Om iets te vlok, soos wanneer jy vis met ’n vurk vlok, beteken dat dit in groter stukkies uitmekaar getrek word, in die spier-groepies, soos dit van die grate afkom.

Ek kan baie lank oor sampioene gesels, maar gaan vir die volgende paar weke elke keer inligting en wenke daaroor gee, anders word hierdie blog net te lank. Ek kook baie graag met sampioene, maar daar is baie mense wat glad nie daarvan hou nie, of benoud is dat sampioene dalk giftig is. Die gekultiveerde sampioene wat ons in winkels koop, is beslis veilig om te eet. Maar as dit by wilde sampioene kom, moet jy beslis weet wat jy doen en net saam met ’n kenner die plukwerk doen.

Iets anders waaroor mense ook soms wonder, is die ‘grond’ wat soms nog aan die sampioene in die pakkies kleef. Dit is glad nie vuil nie, want dis eintlik net ’n groeimedium waarin die sampioene groei en nie regtig grond nie. Dis ook gepasteuriseerd, so heeltemal skoon en higiënies.

Die groot bruinsampioene in die resep is lekker stewig, met ’n vleiserige tekstuur en heerlike geur, wat dit ideaal maak om mee te kook. Vegetariërs en mense wat soms minder vleis wil eet, gebruik graag die groot sampioene as ’n vleisvervanger. Juis daarom, is dit moontlik om minder hoender in die slaai te gebruik en dit met sampioene aan te vul, want die slaai gaan nog net so voedsaam en vullend wees. Sampioene het ook die vermoë om ander geure baie goed te absorbeer, so die marinade te geure word regtig deel van die slaai. Die natuurlike souterige smaak van sampioene is nog ’n groot voordeel, want dan het jy baie minder bygevoegde sout nodig, beide in die marinade en res van die slaai. Veral as jy nog ’n interessante kaas gebruik, is daar meer as genoeg sout in die maaltyd.

Onthou dat sampioene nooit gewas moet word nie – hulle is soos klein sponsies en sal die water absorbeer en net weer uitstoot wanneer dit gaargemaak word. Dit kan nogal ’n probleem word as jy die sampioene probeer soteer, want daar gaan soveel vog wees, dat dit net gaan kook en nie soteer nie. Soteer sampioene sonder enige olie – dis baie maklik as jy dit net teen die regte temperatuur doen en verhoed ook sommer dat die sampioene te olierig word. Luister vir die kenmerkende ‘piep- geluid’ wat sampioene maak as dit teen net die regte temperatuur gesoteer word. Vir meer inligtigting oor sampioene: http://www.mushroominfo.co.za/ of Instagram @freshmushroomssa

Nog ’n belangrike bestanddeel vir hierdie hoenderslaai, is ’n lekker kaas. Ek het onlangs die reeks kase van Indezi River Creamery leer ken en is sommer baie opgewonde daaroor. Ek is dol oor bokmelkkaas en hulle maak baie meer as net die gewilde sagte bokmelkkaas wat meeste mense ken. Vir die slaai het ek ’n bokmelk-cheddar gebruik – hulle noem dit Nandi, sommer nog ’n rede om baie van die kaas te hou, want dis so ’n mooi naam. Indezi doen baie moeite om ’n Suid-Afrikaanse aanslag aan hul produkname te gee. Die kaasmakery is in die mooie Natalse Middelande en hulle het ’n wye reeks bok- en koeimelkprodukte, selfs ’n bokmelk-jogurt wat absoluut heerlik is. Gaan kyk op hul webwerf http://www.indezi.co.za/ hoe hul verpakking lyk en hou jou oë oop daarvoor as jy weer in ‘n groot supermark is.

Bokmelk is ’n gewilde bestanddeel vir mense wat sensitief is vir koeimelk. Indezi doen baie moeite om hul bokmelkprodukte ’n baie delikate geur te gee, juis omdat die smaak van bokmelk vir party mense vreemd is. So as iemand in jou gesin of dalk jou kinders koeimelk vermy, is hierdie produkte dalk net die antwoord. Bokmelk verteer tipies baie makliker as koeimelk en is propvol heilsaamheid. Een van die ander kase in hul reeks, is die Kinati, ’n koeimelk-pecorino, wat net so lekker sal wees in die hoenderslaai.

Die gaarmaakmetode vir die slaaibestanddele is alles deel van die fokus in die reeks resepteboeke van Pharma Dynamics, Cooking from the heart, wat gratis op hul webwerf beskikbaar is: http://cookingfromtheheart.co.za/  Die slaaisousresep is ook ’n variasie van ’n resep uit die derde boek.

Resep

Hoenderslaai met gemarineerde sampioene

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3
Lewer 4 – 6

Bestanddele

Gemarineerde sampioene

90 ml (6 e) olyf- of avokado olie

60 ml (¼ k) balsamiese- of rooiwynasyn

30 ml (2 e) suurlemoensap

10 ml (2 t) korrelmosterd

20 ml (4 t) elk gekapte vars basiliekruid en Italiaanse pietersielie

swartpeper na smaak

500 g groot bruinsampioene, in dik skywe gesny

 

Slaaibestanddele

15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie

4 klein hoenderborsfilette

150 g groenboontjies, in die helfte gesny

handvol klein cos- of botterslaaiblare

handvol vars basiliekruidblare en Italiaanse pietersielie

skaafsels Indezi River Creamery bokmelk-cheddar- (Nandi) of pecorinokaas (Kinati, dis ‘n koeimelkkaas)

handvol sonneblomsaad, gerooster (sien wenke)

Metode

1. Sampioene: Meng al die marinadebestanddele, behalwe die sampioene en geur na smaak met swartpeper.

2. Verhit ’n groot braaipan, (bv. ’n AMC 28 cm Chef’s Pan) sonder enige olie, oor matige hitte.

3. Soteer sampioene in sarsies tot amper sag en gaar. Skep die warm sampioene in die marinade en roer deur om die sampioene te bedek. Laat vir ten minste 30 minute so marineer en afkoel.

4. Slaai: Verhit olie oor matige hitte in ’n braaipan (bv. AMC 24 cm Chef’s Pan of die pan waarin die sampioene gebraai is) en braai hoenderfilette aan beide kante tot goubruin.

5. Verlaag hitte, sit die deksel op en prut vir 5-7 minute of tot die hoender net gaar, maar steeds sappig is. Laat effens afkoel en pluis die hoender in repies.

6. Plaas groenboontjies in ’n vlak bak en bedek met kookwater. Laat ’n paar minute staan, dreineer en spoel met koue water af. Dreineer deeglik en laat afkoel.

7. Plaas slaaiblare en vars kruie, boontjies en hoender in ’n slaaibak of op aparte borde. Skep sampioene met van die marinade bo-op en sit van die kaasskaafels in die slaai. Strooi sonneblomsaad oor. Die sampioene se marinade dien as slaaisous, so niks meer is nodig nie.

 

Wenke

1. Rooster sonneblomsade so: verhit ’n pan oor matige hitte en soteer sade sonder enige olie tot net goudbruin. Skud die pan gereeld om te verhoed dat die sade brand en haal dadelik uit, sodra dit gerooster is, anders hou dit aan met rooster.

2. Enige orige sampioene kan in ander slaaie, op toebroodjies of iets soos koeskoes gebruik word. Dis ook heerlik as bykomstigheid met ’n stukkie vleis of hoender.

3. Hou die orige gemarineerde sampioene in ’n glasfles in die yskas.

Pin It on Pinterest

Share This