Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Kosblik 101

Spyskaart
Murgpampoentjie-en-eierslaai met lensies (resep aangepas uit Cooking from the heart 3)
JOYA® appelwiggies, ook om ’n waterbottel te geur met suurlemoenskil en basiliekruidblare
Neute en sade

Murgpampoentjies, eier en lensies met kruisement, basiliekruidblare en ’n gesonde olie klink sommer al klaar lekker. Hierdie week se #Kosblik-resep kan ’n heerlike bygereg of vegetariese maaltyd wees en is baie maklik om te maak.

’n Gesonde gesin is ’n energieke gesin. Dit kan jy weer sê! En dis soms makliker om reg te kry as wat jy dink. Met Cooking from the heart se reeks resepte en beginsels vir ’n gesonde leefstyl, is daar ’n lang lys van handige en praktiese wenke wat jou kan help om dit ’n manier van eet en leef te maak. Dit is beslis nie duur, vervelig of smakeloos om gesond te eet nie. Met ’n stel beproefde resepte, basiese bestanddele en die regte gaarmaakmetodes het jy alreeds ’n goeie basis. Verder moet jy en jou gesin ingestel wees daarop om so vars en onverfynd as moontlik te eet en suiker, ongesonde vette en chemiese preserveermiddels te vermy.

Die derde boek in die Cooking from the heart reeks, het heelwat resepte vir maaltye en bygeregte wat minder wit en verfynde stysels bevat. Daar is bv. ’n lasagne wat met skywe geroosterde eiervrug of botterskorsie, in plaas van pasta gemaak word. Of geroosterde broccoli en blomkool as bygereg, in plaas van net nog ’n aartappel-idee. Hierdie murgpampoentjie-noedels is juis een van die bygereg-idees. Of kies een van die eenpotgeregte met ’n verskeidenheid groente om dit vullend te maak, sonder dat dit op pasta, rys of kapokaartappels voorgesit hoef te word. Alles maniere om te wys dat mens met ’n paar slim planne lekker en gesond kan eet.

Te veel stysel is bekend daarvoor dat dit ons maklik laat gewig optel, iets wat niemand die tyd van die jaar nodig het nie. Vir kinders en jongmense wat nog moet eksamen skryf, is dit ook beter om nie te veel verfynde stysel en suiker te eet nie, want hul breine moet so helder as moontlik bly.

Met warmer weer, is mens ook nie altyd lus vir ’n warm bord kos nie, so dan is ’n voedsame en vullende slaai ideaal. Die slaai bevat iets uit elke belangrike voedselgroep en die feta of ricottakaas rond dit heerlik af. As ‘slaaisous’ is die kombinasie van suurlemoensap en olyfolie heerlike met die groen groentes en vars kruie.

Die murgpampoentjies is oorspronklik net so met die ertjies, kruie en geurmiddels voorberei, maar as jy ’n blikkie lensies en eiers kan bysit, dan het jy in ’n japtrap ’n volledige vegetariese maaltyd. Lensies, in droë en geblikte vorm, is net van die produkte wat die Die Droëbone Produsente Organisasie verbou en versprei. Vir hierdie gereg kan jy self lensies kook, maar ’n geblikte opsie is lekker gerieflik en vinnig om in te span. Onthou om die lensies veral vir ’n slaai af te spoel voor dit gebruik word. Dit verwyder van die ekstra sout van die vloeistof waarin die lensies geblik word en was van die stysel af, om die lensies lekker lig en los te maak. Lensies is ’n goeie bron van proteïen en gee die slaai ’n interessante tekstuur.

Nog ’n bestanddeel wat blits vinnig is om te maak is eiers. Ons het van Nulaid se eiers al op vele maniere in kosblikke gebruik en selfs hierdie dun een-eier omelette al op verskillende maniere gebruik, want dis net so maklik en vinnig om te maak. Bak die omelette soos pannekoekies en sny dan in repies, om by die murgpampoentjie-noedels se vorm te pas. Maar as jy nie daarvan so hou nie, sal ’n gebakte of saggeposjeerde eier heerlik wees op die noedels. Eiers is ’n uitstekende bron van proteïen en ook ’n lang lys van ander voedingswaarde, so jy kan dit met ’n geruste hart op vele maniere in jul etes insluit. Die geure in die resep is ook alles baie lekker met eiers.

Die ander element van vandag se kosblik, is ’n vars JOYA® appel wat nou in seisoen is. Appels word dikwels as peuselhappie geëet, maar daar is ’n verskeidenheid van maniere waarop die sappige, soet smaak van hierdie appel deel kan wees van jul etes. Dis baie lekker in ’n groen slaai en pas uitstekend by soveel ander geure, soos die kruisement en basiliekruid in die resep. Kombineer dit met kaas vir ’n gesonde peuselhappie of doop dit in jogurt – jy kan selfs grondboontjiebotter by die jogurt inroer vir ’n vinnige doopsous vir die appel.

Of sit wiggies van die vars appel in ’n waterbottel met vars kruie en suurlemoen. Dis ’n verfrissende manier om water te geur en dis so lekker, dat jy nie eers koeldrank of sap sal mis nie. Leer jou kinders ook om dit so te drink, want dis beslis gesonder en baie goedkoper as gekoopte drinkgoed wat dikwels gelaai is met suiker.

Onthou dat jy appelwiggies net vinnig in water hoef af te spoel as jy dit in ’n kosblik wil pak en verhoed dat dit verkleur.

Resep

Murgpampoentjie-&-eierslaai met lensies

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3
Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

6-8 groot murgpampoentjies

1 repie suurlemoenskil, met ’n groenteskiller gesny

125 ml (½ k) bevrore ertjies, afgespoel

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie

1,2 ml (¼ t) sout

suurlemoensap en swartpeper na smaak

3-4 groot Nulaid eiers

1 x 410 g-blik bruin lensies, gedreineer

groot handvol vars slaaiblare

handvol elk vars kruisement- en basiliekruidblare

ricotta- of fetakaas, gekrummel

Metode

1. Gebruik ’n groenteskiller om lang, dun repies murgpampoentjie te sny. Halveer dan die repies in die lengte om dunner repies te maak (soos noedels).

2. Verhit 250-500 ml water in ’n kastrol (gebruik ’n AMC 20 cm Low) en bring tot kookpunt. Voeg murgpampoentjies en suurlemoenskil by en prut met die deksel vir 3 minute of tot net gaar. Voeg die ertjies by en prut 1 minuut.

3. Dreineer deeglik en sit terug in die kastrol. Roer die olie by en geur met sout, suurlemoensap en peper. Laat afkoel.

4. Berei intussen die eiers. Klits een eier met 15 ml water en geur met ’n knippie sout en peper.

5. Verhit ‘n lagie olie oor matige hitte in ’n 20 cm pan (gebruik ’n AMC 24 cm Chef’s Pan) en bak ’n dun omelet tot net bo-op gestol.

6. Draai om en bak vir ’n minuut aan die ander kant – amper soos wat jy ’n pannekoek sal bak. Skep uit en herhaal met die orige eiers.

7. Laat omelette afkoel en sny in die helfte en dan in dun repies.

8. Meng die groente, repies eier, lensies en slaai- en kruieblare in ’n slaaibak. Krummel kaas oor en geniet as ’n bygereg, ligte ete of pak in ’n kosblik as vegetariese maaltyd.

Pin It on Pinterest

Share This