Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Botterboonkapok & muesli

Sep 22, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Spyskaart
Botterboonkapok (voorgesit as doopsous)
Hoenderporsies
Slaaibestanddele en vrugte, bv. komkommer, wortel, seldery, piesang en aarbeie
Muesli (resep aangepas uit Cooking from the heart 2)

Beplanning is een manier om tyd te spaar en dit is verseker waar as jy moet begin #kosblikke pak. As ‘n bygereg vir aandete ook iets vir ‘n inpak-ete kan word, maak dit dinge net soveel makliker.

Vandag se bone-kapok is ‘n blits vinnige manier om ‘n bygereg vir aandete te maak. In plaas van gewone aartappelkapok waarvoor jy nog eers moet aartappels kook, maak geblikte bone dit regtig gerieflik. Deur jou etes só te beplan dat ten minste ‘n paar elemente ook vir ‘n kosblik gereed is, dien een gereg sommer ‘n dubbele doel.

Die bone is nie net ‘n vorm van stysel en koolhidrate nie, maar ook ‘n bron van proteïen, vesel en natuurlik ander vitamiene en minerale wat in bone voorkom. Die geurmiddels vir die kapok kan ook afgewissel word, na gelang van jou gesin se voorkeur. Ander kruie, suurlemoenskil, peperwortelsous (horseradish) of selfs gekapte pikantrissies (Peppadews®) sal baie lekker wees. ‘n Klein knoffelhuisie kan selfs saam met die ui gesoteer word.

Om die bone-kapok dan deel te maak van ‘n gebalanseerde kosblik, meng ek dit met ‘n bietjie ongegeurde jogurt om dit as doopsous te gebruik. Daarmee saam kan ‘n verskeidenheid van groenterepies ingepak word en dan ook nog ‘n porsie vleis, want genoeg proteïene is altyd belangrik in ‘n kosblik. Vir vandag se kosblik het ek oorskiet-hoenderporsies gebruik, maar jy kan enige vleis inpak.

Die Droëbone Produsente Organisasie deel graag van hul praktiese wenke en idees met droë en geblikte bone. Een lekker wenk is om sommer van die vloeistof uit die blik vir die kapok te gebruik en die res kan dan gevries word om later as aftreksel vir ‘n sop of bredie te gebruik. Die vloeistof bevat sout, want dit is waarin die bone ingemaak is, maar as jy van die vloeistof in die kapok gebruik, kan jy minder sout verder byvoeg. As jy byvoorbeeld die geblikte bone in ‘n slaai wil gebruik, raai hulle ons aan om die bone met vars water af te spoel.

Onthou om altyd te kyk vir blikkies wat nie geroes of ingeduik is nie. Dit sal verseker dat die produk nog in ‘n goeie toestand is. Geblikte bone bevat ook nog heelwat van die oorspronklike voedingswaarde, danksy die manier waarop dit gaargemaak word, so gebruik dit gerus op verskillende maniere in jul etes.

Nog ‘n deel van ‘n kosblik waarvan mense dikwels vergeet, is iets om tussen maaltye aan te peusel. Daar is verskillende opsies, soos vrugte of neute en soms het ‘n mens selfs vir ietsie soets lus, maar ‘n koekie of sjokolade is nie noodwendig ‘n gesonde opsie nie. Ek het vandag gewys hoe maklik dit is om jou eie muesli te maak en selfs dit is iets wat vir meer as net ontbyt gebruik kan word.

Die muesli-resep is uit Pharma Dynamics se reeks resepteboeke, Cooking from the heart se tweede boek,waarin daar spesifiek gefokus is op peuselhappies, kosblikke en ontbyt-idees.

Party mense is soggens so haastig dat daar nie nog tyd is vir ontbyt ook nie. Of hulle hou niks daarvan om vroeg te eet nie en dan is hierdie muesli ideaal om in te pak en later te eet. Verskeie ander goed kan daarmee saam ingepak word, bv jogurt en vrugte of selfs ‘n bietjie melk as jy verkies om dit so te eet. Of gebruik ‘n klein porsie as peuselhappie met seisoensvrugte, soos aarbeie, peer of piesang. Onthou om ‘n lepel in te pak of ‘doop’ die vrugte sommer daarin om dit te eet.

Muesli hoef dus nie net as ontbytgraan geëet te word nie. Dit bestaan hoofsaaklik uit hawermout en ek gebruik graag gerolde hawermout, wat ‘n growwer tesktuur gee. Die neute en sade daarin is ‘n goeie bron van gesonde olies en daar is beslis heelwat minder suiker en olie in hierdie mengsel as meeste gekoopte muesli. Die byvoeging van neute en sade gee dit nie net ‘n lekker tekstuur nie, maar help ook dat die muesli nie net uit koolhidrate bestaan nie en jou langer versadig sal hou.

Moenie dat die adverteerders van muesli jou om die bos lei en laat glo dat alle gekoopte muesli gesond is nie. Dit is soms onnodig soet en hoe brosser dit is, hoe meer moet jy oplet na die etiket om te kyk hoeveel suiker en olie daarin is. Die vanieljegeursel in die mengsel gee ‘n soet smaak aan die muesli, sonder dat onnodig baie heuning (onthou, dis ook ‘n bron van suiker) nodig is. Hierdie resep se muesli is lekker los en kan selfs as ‘n sprinkel oor slaai of groente gebruik word.

My kinders maak dikwels in die middae na skool vir hulself dié peuselhappie met die muesli – sny ‘n appel in wiggies of skywe, smeer met grondboontjiebotter en sprinkel ‘n bietjie muesli oor vir ‘n krakerige afronding. Dis ‘n heerlike kombinasie.

En terwyl ons oor die muesli gesels, is dit sommer ook die woord wat die ATKV hierdie week vir ons op Kosblik borg. Alhoewel baie mense dink dat muesli ‘n Engelse woord is, word dit deesdae heeltemal erken en aanvaar in Afrikaans. Vroeërjare was dit wel soms anders gespel (muusli of müsli). Mense spreek die woord dikwels verskillend uit, maar die spelling bly dieselfde. Party sal die ‘ue’-klank meer uitrek en ander maak dit ‘n ‘oe’-klank, terwyl party dit meer soos ‘eu’ uitspreek, amper soos meeu.

Die ATKV is natuurlik nie net bekend vir hul passie vir Afrikaans nie, maar ook bekend vir hul vakansieoorde. Die restaurante op die oorde, nou bekend as Koswerf, bedien juis ook ‘n lekker ontbyt met muesli – net as een van die smullekker opsies vir ontbyt.

Resepte

Botterboonkapok

Resep aangepas uit Kos is op die tafel!
Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

15 ml (1 e) avokado- of olyfolie

1 ui, gekap

2 x 410 g-blikke botterbone

30 ml (2 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie of grasuie

10 ml (2 t) suurlemoensap

15-20 ml (3-4 t) korrelmosterd

sout en peper na smaak

Metode

1. Verhit olie oor matige hitte in ’n braaipan (’n AMC 24 cm Chef’s Pan werk goed). Soteer ui tot heeltemal sag.

2. Dreineer die bone, maar behou sowat 50 ml van die vloeistof. Voeg die bone by die ui en prut 2-3 minute saam of tot die bone warm is.

3. Druk die bone en ui met ’n aartappeldrukker fyn en voeg van die behoue vloeistof by tot ’n growwe mengsel vorm. Roer kruie, suurlemoensap en mosterd by en geur met sout en peper.

4. Sit kapok as bygereg met aandete voor. Of meng van die koue mengsel met ’n bietjie ongegeurde jogurt, maaskaas of melk en gebruik as ’n doopsous met groenterepies vir ’n kosblik.

Muesli

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
Lewer 1,2 kg muesli

Bestanddele

1 kg gerolde hawermout

125 ml (½ k) rou amandels, gekap

180 ml (¾ k) sonneblomsaad

90 ml (6 e) pampoensaad

90 ml (6 e) sesamsaad

75 ml (5 e) avokado- of sonneblomolie

60 ml (¼ k) heuning

10 ml (2 t) vanieljegeursel

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n groot bakplaat met bakpapier uit.

2. Plaas hawermout, neute en sade in ’n groot mengbak. Plaas olie en heuning in ’n aparte bakkie en verhit effens in die mikrogolfoond of oor lae hitte in ’n klein kastrol. Roer die vanieljegeursel by.

3. Roer die oliemengsel deeglik deur die hawermoutmengsel.

4. Plaas die hawermoutmengsel in ’n enkellaag op die bakpapier. Rooster vir 10 minute. Roer deur en rooster nog 8-10 minute of tot goudbruin en bros.

5. Laat heeltemaal afkoel en bêre in ’n lugdigte houer. Dit sal vir 4 weke vars bly.

6. Sit voor met vars vrugte en jogurt, indien verkies.

Pin It on Pinterest

Share This