Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Koringslaai met lensies

Sep 8, 2017 | Fruit, Kosblik 101 / Lunch boxes, Sides & salads, Starchy side

Kosblik 101

Spyskaart
Koringslaai met lensies en mielies
Pynappel met klapper en jogurt (resep uit Cooking from the heart 3)

Vandag se koringslaairesep is iets wat ek jare gelede ontwikkel het en elke keer wat die resep sy verskyning op ‘n tafel maak, vra iemand vir die resep. Dis veral lekker met braaivleis of ‘n geroosterde hoender en perfek vir hierdie tyd van die jaar.

Soms soek mense ‘n alternatiewe styselgereg vir ‘n gewone aartappelslaai en dan is hierdie resep ‘n treffer. Jy kan dit die dag vantevore maak, want die volgende dag is dit selfs nog lekker as al die geure ontwikkel het. Die suurlemoen, kaneel, komyn, kruisement- en koljanderblare gee dit ‘n wonderlike Marokkaanse gevoel wat my hele gesin geniet. Die kombinasie van natuurlike geurmiddels is verseker gesonder as ‘n gekoopte slaaisous en dan het jy beheer oor wat in jul etes gebruik word.

Onthou, kosblikke is nie net vir kinders bedoel nie. Enige gesinslid wat nie by die huis is vir ‘n ete nie, moet verkieslik ‘n kosblik hê om van te eet. Dit is aansienlik goedkoper en gesonder as om by ‘n kafeteria of wegneemplek te moet eet. Dit verseker ook dat jy nie rasend honger by die huis kom en dan enige iets eet wat voorkom nie. Hou kosblikke gebalanseerd, met iets uit elke voedselgroep.

Om elke dag kosblikke te pak hoef ook nie ‘n beslommernis te wees nie. Dit verg net so ‘n bietjie beplanning. En as jy saans jou aandetes só beplan dat selfs net sommige elemente daarvan vir die volgende dag se kosblikke gebruik kan word, is dit soveel makliker. Hierdie slaai is ‘n goeie voorbeeld. Sorg ook dat daar genoeg aandete is om ook daarvan in te pak, hetsy dit die proteïen of groente van die aandete is. Die slaai kan ‘n vegetariese ete wees om sit oorskiet-vleis of hoender daarby om dit nog meer vullend te maak.

Die lensies in hierdie slaai dra ook by tot die voedsaamheid daarvan, aangesien die lensies ‘n bron van beide proteïen en stysel is. Lensies is veselryk en ‘n bron van vitamiene en minerale. Dit het ook die vermoë om ander geure baie goed te absorbeer, soos die slaaisous in hierdie resep. Hier word ‘n blikkie lensies gebruik, maar jy kan rou bruinlensies enige tyd self kook. Voeg 125 ml rou bruinlensies met ten minste nog 2 koppies water by die koring en kook dit saam. Onthou om geblikte lensies goed te dreineer en spoel dit selfs met koue water af om dit lekker los te hou en van oortollige sout ontslae te raak – ‘n lekker praktiese wenk wat die Droëbone Produsente Organisasie my geleer het. Geblikte klein witbone kan ook baie goed werk in hierdie slaai.

Daar is ‘n wye verskeidenheid resepte uit Cooking from the heart wat al op #Kosblik gebruik het. Onder andere ook ‘n hele paar nagereg- of gebak-idees om juis mense te help met gesonder idees wat nie oormatig soet of ryk is nie. Die pangebraaide pynappelresep hier onder is ‘n heerlike nagereg met net ‘n paar basiese bestanddele.

Die resep is vinnig en maklik en die natuurlike soet smaak van die pynappel word gebruik om ‘n wonderlike kombinasie met klapper, kruisement en jogurt te wees. Die klein bietjie geroosterde klapper is genoeg om ‘n heerlike geur aan die andersins ongegeurde jogurt te gee en pynappel en kruisement is perfekte pasmaats.

Is jy dalk ook een van die mense wat ‘proe’ en ‘smaak’ met mekaar verwar en dit soms heeltemal verkeerd gebruik? Party woorde wat ons gereeld gebruik klink op ons oor reg, maar is taalkundig eintlik verkeerd. Die woord wat die ATKV hierdie week op #Kosblik borg, is juis die korrekte gebruik van die woorde proe en smaak.

Proe is die aksie om te probeer bepaal hoe iets smaak. Jy kan aan pos proe, maar die kos kan nie proe nie – dit smaak lekker of sleg. So as jy sou sê die kos proe lekker, bedoel jy eintlik die kos smaak lekker. Proe is inderdaad ‘n werkwoord. Een manier om dit te onthou, is dat kos nie self, soos ‘n mens, kan proe nie. Of as jy sê hy het net geproe-proe aan die kos, is dit maklik om te besef dat jy nie sou kon sê: hy het gesmaak-smaak aan die kos nie. Kos is smaaklik of smakeloos en jy sal sê: ek proe aan die kos en dit smaak lekker. Smaak is dus ‘n byskrywing van hoe die kos vir jou proe. Of die kos het geen smaak nie, maar jy kan nie sê die kos het geen ‘proe’ nie. En soos met vele ander woorde in Afrikaans kan dit ook as ‘n uitdrukking gebruik word: Dit smaak my iets is nie pluis nie, of dit smaak na teer, en ek lus nog meer. Jy kan ook goeie smaak hê, iets kan in jou smaak val of dalk vertel jy ‘n storie met smaak.

Resepte

Koringslaai met mielies & lensies

Resep aangepas uit Kos is op die tafel!
Lewer 6 – 8 porsies

Bestanddele

250 ml (200 g) rou stampkoring

1 heel kaneelstokkie

750 ml (3 k) water

’n knippie sout

250 ml (1 k) bevrore of geblikte heelpitmielies, deeglik gedreineer

1 x 410 g-blik lensies, gedreineer en afgespoel

10 sagte (Turkse) gedroogde appelkose, in klein blokkies gesny

75 ml (5 e) sultanas

75 ml (5 e) sonneblomsaad, gerooster

30-45 ml (2-3 e) elk grofgekapte vars koljander- en kruisementblare

Slaaisous

125 ml (½ k) avokado- of olyfolie

25 ml (5 t) appel- of wit druiweasyn

40 ml (8 t) suurlemoensap

10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil

7,5 ml (½ e) gemaalde komyn

2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel

40 ml (8 t) gekapte vars koljanderblare

20 ml (4 t) gekapte vars kruisementblare

sout en peper na smaak

Metode

1. Plaas stampkoring met kaneelstokkie, water en sout in ’n kastrol (’n AMC 20 cm Low is groot genoeg) en bring oor matige hitte tot kookpunt. Verlaag hitte en prut 30-40 minute met die deksel of tot net sag.

2. Dreineer in ’n sif of vergiettes, spoel af met koue water en laat vir ’n paar minute afdrup. Skep in ’n groot mengbak en laat afkoel.

3. Slaaisous: Klits intussen al die bestanddele saam en geur na smaak.

4. Meng die orige slaaibestanddele, behalwe die vars kruie, versigtig met die koring en skink ⅔ van die slaaisous oor. Geur na smaak.

5. Indien verkies, verkoel eers die slaai vir 1 uur in die yskas. Roer dan die orige slaaisous deur en garneer met vars kruie voor dit voorgesit word. Die slaai is ook heerlik in ’n kosblik, die volgende dag.

Wenk

1. Kekerertjies sal ook baie lekker wees in die slaai.

Pynappel met klapper & jogurt

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3
Lewer 6 porsies

Bestanddele

1 pynappel, geskil

45 ml (3 e) fyn klapper

10 ml (2 t) avokado- of olyfolie

175 ml ongegeurde jogurt

handvol vars kruisementblare

Metode

1. Sny pynappel in 6 dik skywe.

2. Voorverhit ’n braaipan oor matige hitte (’n AMC 24 cm Chef’s Pan is groot genoeg) en rooster die klapper, sonder enige olie tot liggies goudbruin. Wees versigtig, want die klapper kan maklik brand. Skep uit.

3. Verhit die olie in dieselfde pan en braai pynappel aan beide kante tot goudbruin en effens gaarder.

4. Meng 30 ml van die klapper met die jogurt. Sit pynappel voor met die jogurt en strooi die res van die klapper oor. Garneer met vars kruisementblare.

Wenke

1. Die resep werk uitstekend met ander vrugte soos pruime, perskes of appelkose wat ontpit en gehalveer is.

2. Pak die pynappel en jogurt in aparte bakkies as jy dit vir ’n kosblik wil pak.

Pin It on Pinterest

Share This