Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Groentekerrie met bone

Aug 25, 2017 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Mains, Vegetarian

Kosblik 101

Spyskaart
Groentekerrie met bone
Hardgekookte eiers
Kersietamaties en avokado en neute
Halo waterbottel

 ‘n Vleislose maaltyd is ‘n maklike manier om verskillende bronne van proteïen deel te maak van die week se etes. Elke bron van proteïen voorsien ook ‘n ander verskeidenheid van voedingstowwe. So is bone ‘n goeie bron van vesel, terwyl eiers gesonde olies en heelwat antioksidante bevat. Vleis ‘n uitstekende bron van yster en vitamien B is en veral olierige vis is bekend vir die gesonde omega-olies daarin. ‘n Verskeidenheid maak dus nie net jou etes interessanter nie, maar voorsien ook in die proses in ‘n wye reeks noodsaaklike nutriënte.

 Dié beginsel word ook in Cooking from the heart se reeks resepte weerspieël. In die drie boekies se resepte is daar letterlik van ontbyt-idees tot aandetes, verskillende bygeregte, peuselhappies en gebak om uit te kies. Elkeen van die resepte is met alledaagse bestanddele voorberei en die resepte gebruik gaarmaakmetodes en natuurlike geurmiddels om smullekker, gesonde etes mee voor te berei. Wat meer wil ‘n mens nou hê?

 Maak dié groentekerrie met bone vir ‘n heerlike winters-eenskottelgereg. Dit is selfs teen kamertemperatuur lekker en steeds ideaal vir ‘n kosblik, al kan jy dit nie noodwendig warm maak nie. As die kinders nie van die kerrie hou nie, kan jy van die groente soos die wortels saam met ander varsgoed in hul kosblikke pas en die bone of eiers ook apart inpak, afhangend waarvan hulle sal hou.  

Die kerrie het heelwat groente in en saam met die bone, wat beide proteïene en stysel bevat, is dit reeds vullend genoeg – daar is nie nog ‘n stysel ook nodig nie. Dis ook sommer ‘n lekker manier om dan minder ‘wit’ stysel, soos rys of aartappels te eet.

Soms is ‘n bestanddeel met ‘n effens soeterige smaak lekker om die warmer speserye in ‘n kerrie te balanseer. Vir hierdie resep het ek blokkies Pink Lady® appels gebruik en dit werk verder ook uitstekend as plaasvervanger vir aartappels in so ‘n gereg. Die appels gee ‘n heerlike smaak en omdat Pink Lady® appels hul struktuur so goed behou, selfs wanneer dit gaargemaak word, dien dit dieselfde doel as die aartappels, om die kerrie nog meer volume te gee. Terwyl hierdie soet appels in seisoen is, moet ‘n mens dit so veel as moontlik benut. Ek hou baie daarvan om met appels te kook en is dol oor die kombinasie van kerrie en appel in hierdie resep.

Vleislose etes kan met verskillende bestanddele berei word en eiers is ideaal, want dit is ‘n vorm van proteïen wat vinnig en maklik voorberei. Dit bevat ‘n wye verskeidenheid van voedingselemente, insluitend gesonde olies, antioksidante en foliensuur. Die hele gesin kan daarby baatvind om gereeld eiers te eet, en nie net vir ontbyt nie. Eiers is belangrik vir gesonde breinfunksie, die ontwikkeling en bou van spiere en soveel meer. Lees gerus op Nulaid se webwerf al die interessante inligting oor die gesondheids-eienskappe van eiers.

Enige grootte eiers kan vir hierdie resep gebruik word en Nulaid het juis ‘n lekker verskeidenheid om uit te kies. Kook die eiers (sowat 7-8 minute vir ‘n gestolde eiergeel) na smaak. Onthou om die eiers dadelik in koue water te dompel en die doppe so gou moontlik te kraak, sodat die eiers nie verkleur nie. Sny dit in blokkies of wiggies en sit met die kerrie vir aandete voor. Die kerriespeserye is lekker pasmaats met eiers. Vir ‘n kosblik, kan die eiers heel of reeds opgesny ingepak word en selfs vooraf by die kerrie ingemeng word, sodat dit die lekker kerriegeure kan absorbeer.

Onthou om elke dag genoeg water te drink – dit bly deel van ‘n gesonde leefstyl. Halo se hervulbare, herbruikbare en herwinbare bottels in al die mooi kleure is net die manier om dit te doen. Die bottels word reeds gevul in groot supermarkte, in 350 ml en 750 ml verkoop of kyk op hul webwerf wat die naaste verspreidingspunt aan jou is.

Resepte

Groentekerrie met bone

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 6 porsies

Bestanddele

15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie

1 ui, gekap

2 knoffelhuisies, fyngedruk

3 wortels, in blokkies gesny

1-2 groen brandrissies, heel (opsioneel)

3 kerrieblare (opsioneel)

2,5 ml (½ t) borrie

15 ml (1 e) kerriepoeier of na smaak

5 ml (1 t) masala van jou keuse

3 tamaties, in blokkies gesny

2 Pink Lady® appels met die skil, in blokkies gesny

1 eiervrug, in blokkies gesny

125 ml (½ k) water

2,5 ml (½ t) sout

125 ml (½ k) elk blomkoolblommetjies en groenboontjies

¼ koolkop, in repies gesny

250 ml (1 k) gaar bone of geblikte bone, gedreineer

suurlemoensap en swartpeper na smaak

6-8 Nulaid eiers, hardgekook om met die kerrie voor te sit

 

 

Metode

1. Verhit olie oor matige hitte in ’n groot kastrol (’n AMC 24 cm High sal goed werk) en braai die ui, knoffel, wortels, brandrissies, kerrieblare en speserye.

2. Voeg tamaties by en prut vir ’n paar minute. Roer appels, eiervrug, water en sout by.

3. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en prut met ’n deksel vir 15-20 minute.

4. Roer blomkool, groenboontjies, kool en bone by en prut vir nog 15-20 minute of tot die eiervrug sag is. Geur met suurlemoensap en swartpeper.

5. Sit as maaltyd voor of laat afkoel en pak in ’n kosblik met vars avokado-blokkies. Hardgekookte eiers, in wiggies gesny, sal ook lekker saam met die kerriegeure wees. Roer dit by vir ‘n aandete, of sit dit apart in ‘n kosblik saam met die kerrie.

 

Wenke

1. Vervang die geblikte droëbone met enige ander bone van jou keuse.

2. Indien verkies, kan meer brandrissies of kerriepoeier bygevoeg word. Sit voor met gekapte vars koljanderblare.

Pin It on Pinterest

Share This