Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Volkoring-pannekoeke

Jul 31, 2017 | Baking, Desserts, sweet treats & baking

Min van ons kan die reuk van ‘n pannekoek weerstaan terwyl dit bak! Daar is nou maar net iets bekoorliks daaraan en dis beslis koesterkos. Baie mense geniet dit as ‘n soet bederf met tee of koffie of as nagereg, maar dit kan ewe maklik ‘n maaltyd wees. Kies net ‘n meer voedsame vulsel of twee. Pannekoek as ‘n maaltyd het wel heelwat stysel in, maar met ‘n paar slim keuses, kan jy wel ‘n gesonder keuse maak.

Volkoringmeel maak dit gesonder
Vir hierdie pannekoeke, het ek steengemaalde volgraanmeel gebruik, wat minder gebleik is en met minder chemikalieë vervaardig word. Dit is beslis geuriger en het ook van nature meer vesel en ander voedingswaarde wat in die meel behoue bly. Hierdie meel gee die pannekoeke ‘n heerlike tekstuur met ‘n neuterige smaak. My gesin geniet dit altyd baie.

Pannekoeke in Franse styl
Ek verkies ook ‘n pannekoekresep met meer eiers. Dit gee ‘n ryker smaak en dan is die pannekoeke ook sommer meer voedsaam. Eiers is beslis ‘n belangrike bestanddeel in ‘n pannekoekbeslag. Die eiers bind die res van die bestanddele met groot sukes saam en verleen ‘n baie sagte, hanteerbare tekstuur daaraan. Met die beslag kan jy papierdun pannekoeke bak wat help dat dit nie ‘n onnodige swaar maaltyd word nie. Dié pannekoeke, in ‘n Franse crêpe-styl, bak lekker vinnig en maklik en die resep kan maklik verdubbel word. Die ekstra eiers beteken ook dat daar nie bakpoeier nodig is nie.

‘n Pannekoek is eintlik so ‘n eenvoudige ding, maar dit kan ‘n gesukkel afgee of ‘n baie olierige spul tot gevolg hê. Die eerste stap is ‘n betroubare, deeglik getoetsde resep, soos hierdie een. ‘n Maklike manier om seker te maak dat die pannekoeke nie te olierig is nie, maar steeds maklik bak, is om ‘n bietjie olie in die beslag te gebruik. Dis dan selde nodig om vir elke pannekoeke weer die pan se smeer. ’n Matige hitte is ook ideaal, want anders brand die pannekoek voor dit gaar is.

Hier is ‘n paar wenke om pannekoeke met sukses te bak:

  • gebruik ‘n pan met ‘n swaar bodem wat die hitte goed gelei – min panne bak ‘n pannekoek so lekker soos ‘n AMC pan
  • die regte temperatuur is belangrik – te koud, dan word dit nie gaar nie en absorbeer net al die olie; te warm, dan brand die pannekoek voor dit regtig gaar word
  • moenie te veel olie in die pan sit nie, dit maak die eindresultaat pap en olierig
  • bak die pannekoek tot dit bo-op gestol het, voor jy dit probeer omdraai, anders breek dit te maklik
  • moenie ‘n pannekoek te lank braai nie, dan word dit maklik droog en hard en dikwels onhanteerbaar as dit eers afgekoel het

Lekker bak!!

Resepte
Pannekoeke met volkoringmeel

Resep aangepas uit Kos is op die tafel!

Lewer 12 – 15 pannekoeke

Bestanddele

250 ml (1 k) steengemaalde volkoringmeel

2 ml sout

3 ekstra-groot eiers, geklits

50 ml olie

325 ml melk

75 ml (5 e) koue water

olie om pannetjie te smeer

Metode

1. Meng meel en sout in ’n glasbak saam. Klits eiers en olie saam en meng met die droë bestanddele tot ’n gladde pasta vorm.

2. Klits melk en water saam en roer geleidelik by die meelmengsel terwyl dit voortdurend geklits word. Klits deeglik na elke byvoeging. Moenie al die vloeistof op een slag byvoeg nie – dit sal te maklik klonte vorm.

3. Verhit ’n 20 cm-pannetjie (’n AMC 20 cm Skillet of 24 cm Chef’s Pan werk goed) oor matige hitte en smeer die bodem met ’n klein bietjie olie. Skink sowat 60 ml beslag in die pan en versprei dit eweredig oor die bodem.

4. Bak die pannekoek tot dit bo-op stol, van die rand begin wegtrek en die onderkant goudbruin is. Draai om en bak vir nog ’n minuut aan die ander kant. ’n Pannekoek wat te lank gebak het, word rubberig en taai. Herhaal met die res van die beslag en ’n bietjie ekstra olie, indien nodig.

5. Sit pannekoeke voor met ‘n sout vulsel, bv. geurige maalvleis of tuna en maaskaas. Of gebruik ’n soet vulsel van jou keuse soos vars vrugte, ongegeurde jogurt, heuning, kaneel en neute. Pannekoeke is ook natuurlik heerlik net met kaneelsuiker en suurlemoenwigges.

Wenk

1. Om pannekoeke warm te hou: plaas pannekoeke op ’n groot bord en bedek met ’n deksel of stuk foelie. Hou dit warm oor ’n kastrol met liggies pruttende water terwyl die res gebak word.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This