Sjokolade-brownies
Sjokolade-brownies
Lewer 8 – 10 porsies
Ek het die resep oorspronklik vir The AMC Book ontwikkel en dit het omtrent al die rondte van Vader Cloete gedoen. Vir ’n teetafel of saam met koffie, sny ek dit in klein blokkies of driehoekies en sit dit sonder die sous voor.
Bestanddele
200 g (200 ml) botter
250 g (300 ml) suiker
100 g (180 ml) koekmeel
75 ml (5 e) kakao
20 ml (4 t) vanieljegeursel
3 ekstra-groot eiers, liggies geklits
100 g donkersjokolade, grof gekap
50-75 g haselneute, gekap
Sous
250 ml (1 k) melk (of ingedampte melk of helfte melk en helfte room)
100 g donkersjokolade, in stukkies gebreek
30 ml (2 e) botter
50 ml suiker
15 ml (1 e) kakao
15 ml (1 e) mielieblom
Metode
1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n oondbak of bakplaat van ongeveer 16 x 25 x 3 cm met botter. Die grootte van die bak is belangrik vir die regte baktyd en die beste resultaat.
2. Smelt die botter en suiker oor lae tot matige hitte in ‘n kastrol (‘n AMC 20 cm Gourmet High werk goed) en roer deurentyd tot die suiker opgelos / gesmelt is. Verwyder die kastrol van die plaat. Sif die droë bestanddele saam en roer met die vanieljegeursel, in die kastrol, by die bottermengsel in. Meng deeglik.
3. Roer die eiers bietjie vir bietjie by en roer deeglik na elke byvoeging. (As die mengsel te warm is en die eier laat stol, moet dit eers effens afkoel.)
4. Roer die sjokolade en neute deur en skep die deeg in die gesmeerde bak.
5. Bak 25-30 minute of net tot ’n tandestokkie/toetspen skoon uitkom. Toets op meer as een plek, ingeval jy dalk gesmelte sjokolade raaksteek, wat die stokkie nat laat lyk. Druk ook liggies in die middel op die poeding – as dit net gestol is, is dit gereed. Dit stol verder soos dit afkoel. Bak nog 5 minute indien nodig. Moenie te lank bak nie, anders word dit droog en hard.
6. Sous: Berei intussen die sous, indien jy beplan om dit voor te sit. Plaas al die bestanddele, behalwe die kakao en mielieblom, in ’n klein kastrolletjie. Verhit oor lae hitte en roer gereeld tot die suiker en sjokolade gesmelt is.
7. Bring die sous stadig tot kookpunt en prut 5 minute. Meng kakao en mielieblom met ’n bietjie water en roer by die sous. Roer deurentyd tot die sous verdik.
8. Sny poeding in blokkies en sit warm of teen kamertemperatuur met die sous en roomys voor.
Wenke
1. Cappuccino-brownies: Voeg 30 ml sterk espresso-koffie of 10 ml koffiepoeier van goeie gehalte saam met die vanieljegeursel by. Voeg die helfte van die hoeveelheid by die sous.
2. Berei net die sous en sit met roomys of ander poeding van jou keuse voor. Dis ook heerlik met vrugte.
3. Garneer blokkies met vars bessies, roosblare, eetbare glitter of sny ’n kartonstensil om patroontjies van jou keuse met versiersuiker of kakao oor te sif.
Daar is nie n lekkerde brownie resep as die een nie. Dit is verslawend.
Wow, wat ‘n lekker boodskap om te kry. Dankie!
En ek moet erken, ek stem 100% saam met jou – dit is ‘n baie lekker resep.
Lekker bak ‘n volgende keer.
Ek is sommer lus en maak dit nou … mmmm.