Filo-hoenderpastei met geroosterde groente
Filo-hoenderpastei met geroosterde groente
Resep uit Kos is op die tafel
Lewer 4 – 6 porsies
1 uur 30 minute
’n Kleurvolle pastei met ’n meer Mediterreense gevoel as ’n tradisionele hoenderpastei.
Bestanddele
Vulsel
12-15 piekeluitjies, gehalveer
1 klein botterskorsie, geskil en gesny
½ elk geel en rooi soetrissie, ontpit en in repies gesny
10-15 ml bruinsuiker
15-30 ml balsamiese asyn
15-30 ml olyfolie
8-10 takkies vars roosmaryn en tiemie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
4 ontbeende hoenderdye of -filette, in happie-grootte blokkies gesny
250 g kersietamaties, gehalveer
250 ml suurroom
50-60 ml basiliekruidpesto
150 g broccoli, in blommetjies gesny
50-100 ml grofgekapte vars kruie, bv. origanum, basiliekruid of Italiaanse pietersielie
Filo
8 velle filodeeg
50 ml elk botter en olyfolie, saam gesmelt
Metode
1. Vulsel: Voorverhit oond tot 200 °C. Plaas al die groente, behalwe die tamaties en broccoli, in ’n enkellaag op ’n groot bakplaat. Sprinkel suiker oor en bedruip met asyn en olie. Strooi kruietakkies oor en geur na smaak. Rooster 20 minute. Geur die hoender en tamaties en roer by die groente. Rooster nog 10 minute tot die groente en hoender net gaar is.
2. Filo: Verf intussen twee velle filo elk aan die een kant met die oliemengsel en plaas bo-op mekaar. Voer die bodem van ’n 25 x 35 cm-oondbak of -pan met die geverfde filo uit sodat ongeveer 1-2 cm bo die rand uitsteek. (Punte wat bo die vulsel uitsteek gee ‘n baie mooi eindresultaat.) Herhaal met die orige filo en oliemengsel en plaas die velle oor mekaar om die bak eweredig te voer.
3. Meng die suurroom en pesto. Roer die broccoli en kruie deur die vulsel. Geur na smaak en skep in die filo-kors. Skink die suurroommengsel oor. Bak 30-40 minute of net tot die filo goudbruin en die vulsel warm is. Sit met ’n groen slaai voor.
Wenke
1. Filo is ideaal vir beide sout- en soetvulsels. Skep iets daarin, vour dit toe of rol dit daarin toe. Filo is vars of bevrore beskikbaar en indien gevries, moet dit eers vir ’n paar uur in die yskas ontdooi, voor dit gebruik kan word. Filo wat nog nie voorheen gevries was nie, is makliker om mee te werk en gee dikwels ’n beter eindresultaat.
2. Filo droog baie vinnig uit. Bedek dus die velle filo wat oopgerol, maar nog nie met botter of olie geverf is nie, die hele tyd eers met ’n droë en dan ’n effens klam afdroogdoek, bo-op. So bly die filo klam, maar word dit nie klewerig van ’n nat doek direk bo-op dit nie.