Eier-smulhappies
Maklike kos vir die vakansietyd – dis wat mens nodig het. Almal wil bietjie kan agteroorsit en ontspan, maar steeds lekker eet. Geniet die eierhappie wat vandag se hoofresep is – jy kan selfs kreatief wees met die bestanddele waarmee jy dit geur. Ander groente soos spinasieblare of broccoli is ook heerlik met eier. Of soteer sampioene en uie en gebruik as vulsel. Verskillende kase soos cheddar, parmesan of feta is ook lekker om te gebruik. Die vermoë van die eiers om te stol en die bestanddele saam te bind, beteken dat jy nie ‘n kors of ander basis nodig het nie. Hou net die verhoudig eiers tot ander bestanddele soos in die resep. Daar word ook nie water by die eiers geklits nie, maar die suurroom gee dit ‘n heerlike sagte tekstuur en help ook om die gereg stewig genoeg te maak, dat dit in blokkies gesny kan word. Die gereg kan warm of koud voorgesit word.
Resepte
Lewer 6 – 8 porsies
6 ekstra-groot eiers
125 ml (½ k) suuroom
sout en peper
150 g kersietamaties, gehalveer
100 g mozzarellakaas, in blokkies gesny
45 ml (3e) basiliekruidpesto
handvol vars basiliekruidblare
1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n oondpan of -bak met GLAD Bake and Cooking Paper uit.
2. Klits helfte van die eiers met die suuroom tot ‘n gladde mengsel. Klits die res van die eiers by en geur na smaak met sout en peper.
3. Plaas tamaties en kaas in die oondbak. Giet die eiermengsel oor en skep lepelsvol pesto bo-op. Bak vir 20-25 minute of tot net gestol en goudbruin. Moenie dit oorgaar maak nie, dan stoot die eiers al die vog uit.
4. Laat afkoel en sny in blokkies of sit dit warm voor as dit dadelik geëet gaan word. Sit voor met vars basiliekruidblare en nog pesto.
Image: Adel Ferreira Photography for Nulaid.