Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Sjokoladekolwyntjies met appel

Dec 11, 2018 | Baking, Chocolate, Desserts, sweet treats & baking, Kosblik 101 / Lunch boxes

Sjokoladekolwyntjies met appel

Suid-Afrikaners is dol oor bak. En hierdie tyd van die jaar is dit beslis een of ander tyd deel van almal se feestydbeplanning. Sjokolade en kaneel is ’n smullekker kombinasie en in hierdie klam kolwyntjies is die subtiele smaak van die kaneel baie lekker – veral omdat dit ook met appel gekombineer word. Dit mag dalk na ’n vreemde kombinasie klink, maar om die suiker in die kolwyntjies minder te maak, is die natuurlike soet smaak van appels gebruik. En appel en kaneel vul mekaar se smake altyd baie goed aan.

Die skoolvakansie het begin en dié kolwyntjies is ’n lekker bederf vir die hele gesin. Die resep kom oorspronklik uit die eerste resepteboek van Cooking from the heart. In die boekie is dit as plaatkoek gebak, maar die kolwyntjies is sommer ’n lekker manier om porsies te kan beheer. En as dit opmekaar gestapel en mooi versier word, is dit sommer ’n prettige manier om dit voor te sit.

JOYA® Appels is van nature baie sappig en saam met die heerlike soet smaak, is dit ideaal om mee te bak. Die appels is nou in seisoen en ewe lekker om op verskillende maniere deel te maak van jul vakansiekos, peuselhappies en allerhande lekker idees. Kyk gerus na hul webwerf en sosiale media vir nog idees.

Om seker te maak dat die kolwyntjies ’n sagte, klam tekstuur het, is drie van Nulaid se ekstra-groot eiers gebruik. Daar is soveel maniere om eiers deel te maak van gebak en etes, dat eiers altyd op jou inkopielysie moet wees.

Onthou ook om in die vakansietyd almal in die gesin aan te moedig om genoeg water te drink. Halo se kleurvolle bottels is herwinbaar, hervulbaar en maklik om vir die vakansie, as deel van jul padkos of warm dae op die strand of langs die swembad gereed te hê. Kyk gerus ook in die winkels vir hul spesiale feestyd-bottel. As jy een gekoop het, moet jy na die vrolike feestydverpakking kyk vir die spesiale promosie.

Tyd vir dankie sê

Dankie aan almal wat in die afgelope jaar deel was van In&UitKosblik. Almal wat saam gekyk of die resepte na die tyd op my webwerf of sosiale media gelees en gedeel het. Mag daar vir almal ’n heerlike lys van idees en kosplanne wees – reg deur die jaar en ook vir die vakansie- en feestyd wat voorlê.

Dankie aan elke handelsmerk en produk waarmee ek kon kook en kreatief wees die jaar. Dis so lekker om met soveel eg Suid-Afrikaanse produkte te werk en ander mense ook meer daarvan te kan vertel of nog ’n manier te kan wys waarop dit gebruik en geniet kan word.

Die ATKV is ook eg én trots Suid-Afrikaans. Dalk het jy al by een van hul landswye oorde gekuier of in ’n Koswerf-restaurant op ’n oord gaan eet. Of dalk is jy op jou manier ’n ambassadeur vir Afrikaans. Dit was vir my heerlik om hierdie jaar oor nog ’n handvol mooi Afrikaanse koswoorde en idiome as deel van In&UitKosblik te gesels. Dalk het jy ’n nuwe woord geleer of is jy weer aan ’n ou bekende woord of frase herinner. Hoe dit ook al sy, hou aan om in Afrikaans te kook en te kuier.

Resep

Sjokoladekolwyntjies met appel

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 24 – 30 kolwyntjies (afhangend van die muffinpan of -papiertjies se grootte)

Bestanddele

Kolwyntjies

750 ml (3 k) koekmeel

20 ml (4 t) bakpoeier

5 ml (1 t) koeksoda

90 ml (6 e) goeie kwaliteit kakao

5 ml (1 t) gemaalde kaneel

180 ml suiker

500 ml (2 k) grofgerasperde JOYA® Appels (onthou om dit nie af te skil nie)

125 ml (½ k) karringmelk

75 ml (5 e) sonneblomolie

30 ml (2 e) wit druiweasyn

10 ml (2 t) vanieljegeursel

3 ekstra-groot Nulaid eiers, geklits

375 ml (1½ k) kookwater

 

Sjokoladeversiersel

100 ml suiker

300 ml water

15 ml (1 e) sagte botter

60 ml (¼ k) goeie kwaliteit kakao

2,5 ml (½ t) vanieljegeursel

45 ml (3 e) mielieblom

1-2 JOYA® Appels met die skil, in dun wiggies, sterretjies of driehoeke gesny vir garnering

kruisementblare vir garnering

Metode

1. Kolwyntjies: Voorverhit die oond tot 180 °C.

2. Smeer 2 kolwyntjiepanne goed met olie of voer dit met papiervormpies uit. Stewige kolwyntjievormpies kan ook net op bakplate uitgepak word.

3. Sif al die droë bestanddele saam en vou die appels in tot dit net met die meelmengsel bedek is.

4. Klits al die vloeistof, behalwe die eiers en kookwater, saam. Klits die eiers deeglik by die vloeistof en roer dan die kookwater by.

5. Roer die vloeistof met ’n groot lepel of silikonspatel by die droë bestanddele tot net gemeng.

6. Verdeel die beslag tussen die twee panne of vormpies. Bak vir 20-25 minute of tot ’n toetspen skoon

7. Haal die kolwyntjies versigtig uit die panne en laat op ’n afkoelrakkie afkoel.

8. Sjokoladeversiersel: Plaas al die bestanddele, behalwe die ekstra appel en kruisement in ’n klein kastrol (bv. ’n AMC 20 cm Gourmet Low). Roer die mengsel oor ’n matige hitte tot die suiker oplos het.

9. Bring tot kookpunt en prut liggies. Roer aanhoudend tot die sous verdik.

10. Laat dit afkoel en skep lepelsvol van die versiersel oor elke kolwyntjie.

11. Garneer kolwyntjies met appels en kruisementblare.

Wenke

1. Berei die beslag en bak as ’n plaatkoek in ’n groot reghoekige bakplaat (20 x 30 cm) of oondbak, uitgevoer met bakpapier. Bak soos hierbo beskryf vir 20-25 minute.

2. Die kolwyntjies kan ook met eetbare-poeierstof of silwer koekballetjies gegarneer word.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This