Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Jaffels met twee vulsels

Nov 30, 2018 | Accompaniments, Extras, Light meals, Light vegetarian, Savoury snacks

Kosblik 101

Jaffels is vir baie mense sinoniem met hul kinderdae of ’n kerkbasaar. Deesdae is dit weer baie gewild en menige van ons het weer ’n ma of ouma se jaffelpan iewers gaan uitkrap. Volgens die kalender, het die somer ook amptelik aangebreek en Suid-Afrikaners het nie veel uitnodiging nodig om dan ’n vuur aan te steek nie. Ons sal ’n wye verskeidenheid kos en geregte oor die kole gaarmaak en vir party van ons is dit juis die lekkerte van vakansietye. Dis ook ’n tyd om met familie en vriende te kuier en as kosmaak deel van die gesellige samesyn is, soveel te beter. Hierdie jaffels (ek noem hulle sommer ronde kolebroodjies) is ’n uitstekende voorbeeld van iets wat sommer so tussen die gesels deur, gemaak kan word.

Kies die vulselbestanddele waarvan jy hou en geniet dit om interessante kombinasies te probeer. Jaffels is ’n lekker ligte ete of maak dit vir ontbyt, as deel van ’n braaivleis-ete of dalk wil jy die vakansie ’n effens soeter vulsel as soetigheid na ’n laat-ontbyt voorsit. Dit bly belangrik om selfs in die vakansie lekker en gesond te eet, deur die regte keuses te maak.’n Jaffel het brood nodig en as jy oplet na die tipe brood wat gebruik gaan word, kan jy seker maak dat dit meer vullend is en so min as moontlik preserveermiddels en sout bevat. Dis ’n beginsel wat in vele In&UitKosblik-insetsels en resepte die fokus was. En dis ook een van die belangrike beginsels van die resepte uit Cooking from the heart. Daar is drie boeke in die reeks en elkeen se resepte lê klem op die keuse van bestanddele en die regte gaarmaakmetode om soveel as moontlik geur te verleen, sonder ’n klomp onnodige of onnatuurlike geurmiddels. Die boeke is gratis van die webwerf beskikbaar.

Net soos die keuse van brood, is die keuse van wat as vulsel gebruik word, beslis ook belangrik. Vars, seisonale bestanddele is ’n uitstekende beginpunt. Natuurlike geurmiddels is nog ’n manier om onnodige sout en suiker te vermy. Bestanddele met heelwat voedingswaarde dra dan ook verder by tot die voedsaamheid van ’n gereg of maaltyd. Kies ook iets soos kaas met oorleg, om seker te maak daar is nie te veel onnatuurlike elemente in die gereg nie.

JOYA® Appels is nou in seisoen en die natuurlike soet, sappige smaak van die rooi appels is ideaal in ’n jaffel. Die appels is nie net ’n peuselhappie nie, maar regtig veelsydig, want dit pas by soet en sout smake en kan op baie maniere in kos gebruik word. Dis ideaal as deel van die een vulsel met roosmaryn en camembert en as dit eers oor die kole gerooster is, is die gesmelte kaas ekstra lekker daarby. Die appels het die vermoë om hul struktuur goed te behou, selfs al is dit gaargemaak, wat dit ekstra veelsydig maak.

Die tweede vulsel bestaan uit gekaramelliseerde uie, tiemie en gerasperde kaas en dan ’n gebakte eier. Eiers is ’n wonderlike bron van proteïene en ander voedingswaarde en ’n wonderlike manier om die jaffels vullend en voedsaam te maak. Onthou dat ’n eier eintlik min hitte nodig het om gaar te word, so dit word net gedeeltelik gebak en dan op die jaffel gesit. Terwyl die jaffel rooster, sal dit verder gaar word. Moenie in die versoeking kom om die eiers te ver te bak nie, want dan kan dit maklik rubberig word in die jaffel. Nulaid se groot eiers pas lekker in ’n toebroodjie, maar as jy van ’n groter porsie proteïene hou, kan ’n ekstra-groot eier net so goed werk.

In ’n ou Afrikaanse koswoordeboek, sien ek dat die Engelse woord ‘jaffle’ as jafel vertaal word. Gelukkig is ons taal modern genoeg om gereeld nuwe woorde deel te maak van ons woordeskat, want vir my is ’n jafel iets anders. Jy verwys mos na ’n man (of vent) wat iets dom of snaaks aangevang het, as ’n jafel. ‘Wat maak die jafel nou weer?’ Ek is dus baie verlig dat ‘jaffels’ aanvaar word in Afrikaans. Ander woorde wat deesdae algemeen in Afrikaans gebruik word is steak, tjips en smoothie. Dis alles ook woorde wat selfs op die ATKV oorde se Koswerf-restaurante se spyskaarte gebruik word. Selfs die nuwe Na Donker en Koswerf-restaurant op Hartenbos het baie mooi terminologie op hul spyskaart en as deel van die dekor in die restaurant.

En as ons die vakansie buite braai en in die son baljaar, moet ons almal onthou om genoeg water te drink. Dis nie net ’n manier om te sorg dat ons nie dehidreer nie, maar ook belangrik vir ’n gesonde spysverteringstelsel en metabolisme en gesonde vel en hare. Halo het ’n kleurvolle verskeidenheid hervulbare en herwinbare waterbottels waaruit jy kan kies – daar’s een vir elkeen in die gesin. Die bottels is maklik om in te pak, of jy oppad is, strand toe gaan of dalk iewers kamp of net buite kuier.

Resep

Jaffels met twee vulsels

Lewer 4 jaffels

Bestanddele

botter om mee te smeer

8 snye bruin- of volkoringbrood

 

Vulsels

Opsie 1 (genoeg vir 4 jaffels)

2-3 JOYA® Appels in die skil, in dun wiggies gesny

125 g camembertkaas, in skywe gesny

4 takkies vars roosmaryn, blare afgestroop

60 ml (¼ k) rooibosbessiesous (cranberry sauce)

Opsie 2 (genoeg vir 4 jaffels)

60 ml (¼ k) gekaramelliseerde uie

180 ml grofgerasperde cheddarkaas

6-8 takkies vars tiemie

4 groot Nulaid eiers, gebak (sien wenke)

Metode

1. Smeer botter aan een kant van elke sny brood. Pak groepies van twee snye brood met die gebotterde kante na mekaar. Onthou dat die gebotterde kante ná die jaffelpan gaan wys, so pak die vulsel op die ongebotterde kante.

2. Vulsels: Kies ’n vulsel of maak ’n verskeidenheid jaffels. Elke vulsel is genoeg vir 4 jaffels.

Opsie 1: Plaas van die appels bo-op 4 van die snye brood. Pak die kaas en ’n paar roosmarynblare bo-op die appel en skep van die rooibosbessiesous oor. Pak die orige appelwiggies bo-op en sit die tweede gebotterde sny op, met die botterkant na bo.

3. Opsie 2: Verdeel die uie, kaas en tiemie tussen 4 snye brood. Plaas versigtig ’n gebakte eier bo-op elke sny brood. Sit die tweede gebotterde sny op, met die botterkant na bo.

4. Om gaar te maak: Plaas die gevulde broodjie in ’n jaffelpan. Maak die pan toe en sny enige broodkorsies wat uitsteek met ’n mes af.

5. Rooster die jaffel oor matige kole vir 4-6 minute of tot die brood aan die buitekant goudbruin en die kaas gesmelt is. Draai die jaffelpan gereeld, om dit eweredig te rooster en te verhoed dat dit brand.

6. Verwyder die jaffel versigtig uit die pan en hou warm terwyl jy die res rooster. Bedien warm as deel van ’n braaivleis-ete of ligte maaltyd.

Wenke

1. Bak die eiers oor ’n matige hitte in ’n pan (bv. AMC 24 cm Chef’s Pan), tot die eier amper gaar, maar die geel nog loperig is. Hou ingedagte dat die eier nog verder sal gaar word wanneer die jaffel oor die kole gerooster word.

2. Gekaramelliseerde uie is ’n heerlike veelsydige bykomstigheid. Sien die wenke by die resep vir Gekaramelliseerde uie as daar nog oorbly na die jaffels gemaak is.

3. Vervang die camembertkaas met enige kaas van jou keuse of selfs ’n skeppie roomkaas.

Pin It on Pinterest

Share This