Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Bros mieliemeel-tortillas

Nov 16, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals, Light vegetarian, Vegetarian

Kosblik 101

Die einde van die jaar is om die draai en daarmee saam, word die dae warmer. Ligter etes met somerslaaibestanddele en vars produkte is nou ook meer gereeld op ons tafels. Daar is soveel om van te kies en omdat seisonale vars goed so geurig is en dikwels mekaar se geure op jou bord komplimenteer, hoef jy nie veel daarmee te doen, om lekker te kan eet nie. Om solank ’n paar idees vir die vakansietyd bymekaar te maak, kan ook nie skade doen nie.

Hieronder is ’n resep vir ’n tuisgemaakte mieliemeel-tortilla wat op ’n wye verskeidenheid maniere voorgesit kan word. Die tekstuur is heelwat brosser as ’n roti of wrap, so jy gaan nie ’n vulsel daarin kan toevou nie, maar dit skeur maklik in groot stukke en dan kan dit as basis vir ’n bolaag van jou keuse gebruik word. Dis sommer ook ’n lekker sosiale manier om ’n bordvol tortillas en bakkies met bestanddele op ’n tafel te sit en elkeen sy eie kombinasies as bolaag te laat kies.

Dié tortillaresep is ’n aanpassing van ’n roti-resep uit Pharma Dynamics se eerste Cooking from the heart resepteboek. In die resep was die roti’s ook met volkoringmeel gemaak, wat dit ’n heerlike tekstuur gee. Die deeg word met kookwater aangemaak om die gluten te aktiveer en het net ’n klein bietjie olie in, teenoor roti’s wat tipies nogal baie vet kan bevat. Die deeg is wel sag genoeg om maklik uit te rol en onthou om dit oor ’n matige temperatuur te braai, sodat dit nie brand nie. Die gemaalde komyn daarin gee dit ’n heerlike geur, wat perfek is met enige vars bestanddele wat as bolaag gebruik gaan word. Om dit in tortillas te verander, is van die meel met mieliemeel vervang, wat dit natuurlik ’n heelwat ander en brosser tekstuur gee. Een van die belangrike beginsels van Cooking from the heart, is om altyd porsiegroottes ingedagte te hou.

Alhoewel jy enige bestanddele as bolaag kan gebruik, is die kombinasie van die soet smaak van vars appels en ander slaaibestanddele met die delikate kerriegeur van die eiermengsel regtig lekker saam.

JOYA® appels is nou in seisoen en dié sappige appels is perfek as deel van ’n maaltyd, vir ’n kosblik of as peuselhappie. Moenie die appels afskil nie, want dit gee pragtige kleur aan die slaaibestanddele en dra beslis by tot die voedsaamheid van die maaltyd. Appels kan met soet- en soutgeure gekombineer word en hier is die soutsmaak van die tortillas met die kerrie in die eiermengsel ’n wonderlike geursinergie.

Alhoewel dit ’n vleislose ete is, is daar genoeg proteïen, danksy die voedsaamheid van eiers. Een eier per persoon behoort genoeg te wees vir ’n ligte ete, maar as jy dit meer vullend wil maak, kan twee eiers per persoon gereken word. Die feit dat ekstra-groot eiers gebruik word, dra verder by tot die voedingswaarde van die ete. Vir hierdie resep word die eiers hardgekook – sien gerus die wenke onderaan die resep om die gaarmaak – en afdopproses so suksesvol as moontlik te maak. Die eiers moenie verkleur nie, want dit lyk baie onaptytlik en deur dit nie te lank te kook nie en die doppe so gou as moontlik te kraak, kan jy dit verhoed. Gaan kyk gerus op Nulaid se webwerf vir nog praktiese wenke en raad oor eiers en al die maniere waarop dit gaargemaak kan word. Almal ken ’n eier-mayonnaisemengsel, maar probeer gerus hierdie opsie met ongegeurde jogurt.

Die mieliemeel wat vir die tortillas gebruik word, is van Toeka se mieliepap. Dit is ’n heerlike ongesifte mieliemeel en is in ’n wit en geel meel beskikbaar. Die ekstra growwe tekstuur van die meel is heerlik in die tortillas en gee dit ’n lekker bros en amper neuterige tekstuur. Mieliemeel hoef dus nie net gebruik te word om pap mee te maak nie, maar is ideaal om ook mee te bak.

Kyk gerus vir die mieliemeel by sommige van die ATKV-oorde se winkels. Dié oorde is baie gewild vir gesinne om by te gaan ontspan, kuier en vakansiehou. Daar is sewe oorde deur die land en elkeen is in ’n pragtige omgewing in ons land geleë. Jy kan kies tussen ’n bosveld-, berg- of see-omgewing, so daar is regtig iets vir almal. Elkeen in die gesin word ook by die Koswerf-restaurante op die oorde in ag geneem, met ’n wye verskeidenheid van geregte om van te kies. Die jongste toevoeging tot die reeks is die splinternuwe Na Donker en Koswerf by Hartenbos, as deel van die Seefront ontwikkeling. As jy in daardie omgewing is, moet jy beslis gaan kyk hoe mooi dit is en ’n heerlike warm roosterkoek met die vulsel van jou keuse daar gaan geniet.

Resep

Bros mieliemeel-tortillas

Maak 8 tortillas

Bestanddele

250 ml (1 k) Toeka se wit mieliemeel

300 ml steengemaalde volkoringmeel

2,5 ml (½ t) sout

5 ml (1 t) gemaalde komyn

30 ml (2 e) sonneblom-, olyf- of avokado-olie

250 ml (1 k) kookwater

ekstra 125 ml (½ k) koekmeel om mee uit te rol

Bolaag

250 ml (1 k) ongegeurde jogurt

5 ml (1 t) matige kerriepoeier

8 ekstra-groot Nulaid eiers, hardgekook en met ’n vurk fyngedruk (sien wenke)

4 JOYA® Appels, met die skil, in kwarte en dan in dun wiggies gesny

2 mielies aan die stronk, gekook en pitte van die stronk gesny

2 handevol klein slaaiblare

½ komkommer, gehalveer en in dun skyfies gesny

2 selderystingels, in dun diagonale skywe gesny

’n handvol kruisement en Italiaanse pietersielie

Metode

1. Mieliemeel-tortillas: Plaas beide die mele in ’n groot mengbak. Voeg die sout en komyn by en roer die olie by die meel.

2. Skink die kookwater by die meelmengsel en roer met ’n houtlepel tot ’n sagte deeg vorm.

3. Verdeel die deeg in 8 balletjies en rol dit in individuele sirkels op ’n meelbestrooide oppervlak uit.

4. Vou elke sirkel in die helfte en vou dan weer in die helfte en rol weer in sirkels uit. Herhaal met al die orige deeg en bedek met ’n skoon afdroogdoek totdat dit gebraai word.

5. Verhit ’n dun lagie olie oor ’n lae tot matige temperatuur in ’n braaipan (bv. ’n AMC 24 of 28 cm Chef’s Pan).

6. Braai die tortillas aan albei kante in die pan tot goudbruin. Herhaal met die res van die tortillas.

7. Bolaag: Meng die jogurt, kerriepoeier en eiers saam.

8. Skeur elke tortilla in stukke, en bedien dit saam met die eiermengsel, appels en die res van die slaaibestanddele.

Wenke

1. Vir perfekte sirkels, sny die deeg met ’n 20 of 24 cm-deksel uit sodra dit klaar uitgerol is.

2. Hardgekookte eiers: Plaas die eiers met kraanwater in ’n kastrol en verhit oor ’n matige temperatuur. Begin die tyd meet sodra die water begin prut en kook die eiers vir 8-10 minute. Skep eiers in ’n bak met koue water en sodra dit koud genoeg is om te hanteer, kan jy die eierdoppe liggies teen ’n harde oppervlak kraak – dit sal help om die eiers later makliker af te dop.

Pin It on Pinterest

Share This