Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Oosterse roerbraai & ’n knibbelhappie

Nov 9, 2018 | Extras, Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals, Light vegetarian, Savoury snacks

Kosblik 101

Het jy al roereier met Oosterse geure gemaak? Die feit dat eiers so veelsydig is, maak dit maklik om amper elke keer ’n nuwe geurkombinasie te probeer. Met ‘tuisgemaakte’ klappermelk, ’n bietjie brandrissie en kleurvolle groente, voorgesit met vars koljanderblare en avokado, is dié roereier beslis iets anders.

Vleislose Maandae is nie meer ’n nuwe konsep nie en beslis iets wat tot ons almal se voordeel is. Om proteïene uit verskillende bronne te kry, beteken dat ons ook ander voedingselemente in ons etes insluit. Verder is heelwat van hierdie tipes proteïen dikwels makliker om te verteer as bv. ’n stuk rooivleis. Eier is ’n uitstekende bron van proteïen en ook ander voedingstowwe, maar ander vleislose opsies, soos lensies, peule en sade is ook geskik. Een baie belangrike aspek om selfs met vleislose etes te onthou, is dat elke ete steeds gebalanseerd en gesond moet wees. Dit bly ook die beginsel wat met die resepte uit Cooking from the heart gevolg word, of dit vir ontbyt, middag- of aandete of selfs ’n kosblik is.

Ontbyt bly ’n belangrike ete van die dag, omdat dit help om jou metabolisme aan die gang te kry en jou energie vir die dag gee. Verder kan mens net soveel beter fokus en konsentreer as jou bloedsuikervlakke stabiel is en jy nie dalk méér bewus is van hoe honger jy is, as die taak waarmee jy besig is nie. Behalwe vir gesonde resepte, fokus Cooking from the heart ook baie op porsiebeheer. Die gesegde: ‘te veel van ’n goeie ding, is ook nie meer goed nie’, geld ook vir kos, want selfs al eet jy gesonde kos, bly dit belangrik om nie meer te eet as die hoeveelheid energie wat jy op ’n dag nodig het nie.

Daar is eindelose maniere waarop eier gegeur kan word en vir ’n eenvoudige gereg soos roereier, kan jy in ’n japtrap ’n vullende en voedsame ete voorberei. Kies die grootte eier na gelang van hoe vullend die maaltyd moet wees. Nulaid het ook verskillende groottes om van te kies: jumbo, ekstra-groot en groot. Twee groot eiers is al ’n goeie porsie vir ’n skoolkind, maar as ’n grootmens die grootste ete van die dag met eiers maak, sal twee jumbo eiers dalk meer ideaal wees. Die proteïene in eiers is maklik om te verteer en help net soos dié in vleis, om spiere te bou, weefsel te laat herstel en groei aan te moedig. Onthou dat eiers vinnig gaar word en nie baie hitte nodig het nie, anders kan dit begin om vloeistof uit te stoot. Maak die roereier oor ’n matige hitte en as die pan waarmee jy werk die hitte goed behou, kan die plaat selfs afgeskakel word, sodat die eier liewer geleidelik gaar word. Roereier moet sag wees en beslis nie hard of rubberig nie.

Met gedroogde klapper wat in melk geweek word, kan jy dieselfde geurprofiel skep as wanneer klappermelk uit ’n blikkie gebruik word. Die een voordeel hiervan is dat dit heelwat minder vet as geblikte klappermelk bevat. As jy dus probeer om die vet in jou etes te beperk of dalk reeds genoeg vet uit ander bronne in jou etes insluit, is dit ’n maklike manier om steeds die klappergeur te geniet. Dis natuurlik ook ’n aansienlik goedkoper opsie. Die brandrissie, soetrissie en murgpampoentjie in die resep word eers liggies gesoteer, om dit aromaties te maak en dan skink jy die eiermengsel bo-oor. Die koljanderblare, lemmetjie of suurlemoen en avo waarmee die eier voorgesit word, is alles geure wat heerlik by die ander tipies Oosterse geure pas.

Net soos vir ’n maaltyd, is dit belangrik om gesonde keuses te maak wanneer ’n mens wil peusel. Verfynde en voorafbereide produkte mag dalk vir jou lekker smaak, maar dis beslis nie so gesond soos ’n tuisgemaakte weergawe, soos hierdie knibbelhappie met sade, neute en appel nie. JOYA® Appels is nou in seisoen en heerlik sappig, verfrissend en ook baie veelsydig. Jy kan verseker die appels net so geniet, want dit staan ook bekend as ’n peuselhappie-in-die-skil. Dit is perfek om jou ’n vinnige skeut energie te gee, maar jy kan dit ewe suksesvol deel maak van ’n knibbelhappie soos hierdie resep. Die appel se natuurlike soet smaak bly behoue, selfs al word dun skyfies in die oond uitgedroog. Só is dit smullekker saam met geroosterde neute, sade en ’n knippie speserye wat al die smake saambind. Die ander voordeel van die knibbelhappie is dat dit geen sout bevat nie – iets wat selde waar is van enige voorafgemaakte peuselkos, want selfs soetgoed kan meer sout bevat as wat ’n mens besef.

Gepraat van lekker kos. By die ATKV se verskillende vakansieoorde, kan jy net so lekker gaan eet, kuier en ontspan. Daar is sewe verskillende oorde deur die land en elkeen het ’n Koswerf-restaurant met iets vir die hele gesin om te geniet. Hartenbos se restaurant is splinternuut en word Na Donker en Koswerf genoem, aangesien dit meer as net ’n restaurant is. Die kuier-atmosfeer is perfek vir naweke en vakansietye met hope vermaak wat ook aangebied word. Gaan loer gerus wat alles op hul spyskaart is.

Resepte

JOYA® knibbelhappie

Lewer ongeveer 4 x 250 ml

Bestanddele

2-3 middelslag JOYA® Appels, ontpit, in kwarte en dan in dun skyfies gesny

125 ml (½ k) rou amandels

125 ml (½ k) pampoensaad

125 ml (½ k) sonneblomsaad

125 ml (½ k) klapperskaafsels

1,25 ml (¼ t) gemengde speserye

Metode

1. Voorverhit die oond tot 120 °C. Plaas die appelskyfies op ’n afkoelrakkie oor ’n bakplaat. Plaas in die oond en hou die deur effens oop, deur ’n houtlepel daarin te sit (soos as ’n mens beskuit uitdroog).

2. Droog dit vir 30-40 minute uit, of tot effens bros. Die uitdroogtyd sal afhang van die dikte van die appelskyfies. Laat dit afkoel.

3. Verhit intussen ’n groot braaipan (bv. ’n AMC 28 cm Chef’s pan) oor ’n matige temperatuur en rooster die amandels tot goudbruin. Verwyder uit die pan en kap dit grof. Plaas in ’n groot mengbak.

4. Rooster intussen die pampoensaad, sonneblomsaad en klapper in sarsies in dieselfde pan. Voeg alles by die amandels in die mengbak.

5. Terwyl die mengsel warm is, roer die gemengde speserye by en laat dit afkoel.

6. Voeg die gedroogde appel by. Geniet die mengsel as ’n heerlike knibbelhappie.

Oosterse roereier

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2

Lewer 4 porsies

Bestanddele

20 ml (4 t) gedroogde klapper

125 ml (½ k) melk

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie

1 rooi soetrissie, ontpit en in repies gesny

4 murgpampoentjies, in dun diagnonale skywe gesny

2 klein groen brandrissies, ontpit en gekap

8 jumbo Nulaid eiers

sout en peper na smaak

’n handvol koljanderblare

1 avokado, in kwarte gesny

lemmetjies, in wiggies gesny om mee te bedien

Metode

1. Week die klapper in die melk vir ten minste 30 minute.

2. Verhit die olie oor ’n matige hitte (bv. ’n AMC 24 cm Chef’s Pan) en soteer die groente en brandrissies tot goudbuin en gaar.

3. Klits die eiers saam, roer die melkmengsel by en geur na smaak.

4. Giet die eiermengsel oor die groente in die pan en roer liggies deur, sodra dit begin stol. Wees versigtig om dit nie te veel te roer nie, want dit kan veroorsaak dat die eiers skei.

5. Roer nog ’n keer of wat tot die eiers net gaar is en verlaag die hitte indien nodig.

6. Sit dadelik voor met koljanderblare, avokado en lemmetjies.

Pin It on Pinterest

Share This