Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Kosblik 101

Mieliemeelmuffins, ’n knibbelhappie met appel, klapper en neute of dalk groentekebabs – dis alles peuselkos waarvan my kinders baie hou. As ek met lekker en gesonde peuselgoed hul eksamentyd so bietjie makliker kan maak, dan doen ek dit met liefde. ’n Mens voel mos dikwels lus vir iets om te eet as jy vir lang tye moet sit en swot. Die idees is natuurlik ook perfek vir die hele gesin se kosblikke. En oor ’n maand is dit amper vakansietyd, so dan is hierdie happies sommer lekker padkos ook.

Almal hou van peusel, maar as jy dit so gesond en voedsaam as moontlik kan maak, is dit beslis ’n beter keuse. Hoe minder suiker en verfynde produkte ons eet, hoe beter is ons almal se energievlakke en konsentrasie en dis beslis iets wat in die eksamentyd belangrik is. Peuselkos wat ’n mens langer laat vol voel, beteken ook dat jy minder gereeld sal eet.

Die mieliemeelmuffins is ’n resep wat ek al voorheen uit Cooking from the heart se eerste resepteboek gemaak het. Die mieliemeel en volkoringmeel is ’n heerlike kombinasie en dis ewe lekker in ’n brood of as muffins gebak. Die eerste boek het meestal op maaltye gefokus, met ’n hele paar heerlike eenpotgeregte, slaaie en bygeregte en dan ook natuurlik gebakte goed waaroor Suid-Afrikaners dol is. ’n Groot gedeelte van die eerste boek in die reeks se resepte is deur mense van oral oor die land ingestuur en toe het die Cooking from the heart span dit getoets en hier en daar veranderinge aangebring sodat dit wel gesonder is. Die resepte is nog net so lekker en bly groot gunstelinge. Die tweede boek het heelwat ontbyt- en kosblik-idees ingesluit en ’n lekker verskeidenheid peuselhappies. Al drie boeke is gratis op hul webwerf beskikbaar en jy kan selfs hul Facebook-blad volg vir weeklikse wenke en idees. Daar is ook ’n ambassadeur op hul blad, met die naam Ginger. Teken in via die ‘message-opsie’ en kry elke week se spyskaart, resepte en inkopielysies.

Vir die mieliemeelmuffins is eiers nogal ’n belangrike bestanddeel om al die ander elemente saam te bind. Verder is dit ’n uitstekende bron van proteïene, wat die voedsaamheid van die muffins verder verhoog en juis ideaal is vir kinders wat ’n peuselhappie soek. Met die dat die mieliemeel en volkoringmeel beide redelik grof is, is dit ideaal om met genoeg eiers seker te maak dat daar voldoende vloeistof vir die beslag is. Deur van Nulaid se ekstra-groot eiers met die karringmelk en bietjie olie te klits, maak jy seker dat daar genoeg vog is, die muffins ’n lekker tekstuur gaan hê en dat die bestanddele saamgebind gaan word.

Een van die lekkertes van hierdie tyd van die jaar, is al die vars produkte wat nou in seisoen en maklik beskikbaar is. JOYA® Appels is so ’n voorbeeld. Die appels is heerlik sappig en sommer ’n verfrissende manier om jou ’n vinnige skoot energie te gee. Dit hoef ook nie net heel in ’n kosblik gepak of geëet te word nie. Volg JOYA® op hul sosiale media of besoek hul webwerf om te sien watter smullekker goed alles met die appels voorberei kan word. Hierdie maklike JOYA® appelballetjies is maar net een van die resepte. Die appels se natuurlike soet smaak beteken dat daar geen bygevoegde suiker nodig is nie – maak net seker dat die grondboontjiebotter wat jy koop, nie bygevoegde suiker of sout bevat nie. Die sappigheid van die appels is genoeg om die res van die bestanddele saam te bind, sodat dit amper soos koekiedeeg lyk. Onthou ook dat die appels met die skil aan gerasper word. Na dit in balletjies gerol is, kan jy besluit of jy dit net so wil geniet of dalk in nog iets rol. Daar is verskillende opsies in die resep en almal is ewe lekker, bv. goeie gehalte kakao, kakaoboon-splinters of geroosterde klapper.

Kleurvolle kos, lyk sommer meer aptytlik, so behalwe vir die mooi rooi appels, is groente-en-kaasstokkies ook iets wat vinnig en maklik is om te maak. Sorg vir ’n lekker variasie van kleure, teksture en smake as jy peuselhappies voorberei. Iets uit elke voedselgroep is ook ’n goeie keuse.Vir die mieliemeelmuffins, het ek van Toeka se geel mieliemeel gebruik. Dis nie sommer net nog ’n pakkie meel nie. Hierdie heerlike growwe meel is ongesif en dus propvol vesel en voedingswaarde. Die meel is in geel en wit meel beskikbaar en veelsydig genoeg dat dit vir pap of in gebak gebruik kan word. Kontak hulle gerus via hul Facebook-blad om van die meel te bestel. As jy van mieliemeel en iets soos pap met braaivleis hou, gaan jy nie spyt wees nie. En dalk nie gou weer ander meel wil gebruik nie. Of gaan loer in by ’n ATKV-oord se winkel, as julle weer daar vakansie hou of vir ’n naweek daar kuier, want die meel word ook daar verkoop.

Die ander plek van die ATKV-oorde wat jy beslis binnekort moet besoek, is Hartenbos se splinternuwe ontwikkeling, met die Na Donker en Koswerf-restaurant as die jongste toevoeging. Daar is heerlike geregte op die spyskaart en dit gaan ’n gewilde kuier- en eetplek wees, of dit nou vir ’n gesin, groep familie of vriende is of dalk sommer net gou na werk, as jy in die omgewing woon. En moenie ry sonder dat jy ’n roosterkoek geproe of dalk ’n paar vir aandete bestel het nie. Jy kan gevulde roosterkoeke saam neem of die ongevuldes bestel om as die bygereg met braaivleis te geniet.

Resepte

JOYA® sjokolade-en-appelballetjies

Lewer ongeveer 30 balletjies

Bestanddele

500 ml (2 k) rou hawermout

30 ml (2 e) goeie kwaliteit kakao

60 ml (¼ k) klapper

10 ml (2 t) vanieljegeursel

90 ml (6 e) grondboontjiebotter

2 middelslag JOYA® Appels

Om af te rond:

30 ml (2 e) kakaoboon-splinters (cacao nibs), fyner gekneus (sien wenke)

30 ml (2 e) klapper, gerooster

30 ml (2 e) goeie kwaliteit kakao

Metode

1. Plaas die hawermout in ’n voedselverwerker en meng effens fyner.

2. Voeg die kakao, klapper, vanielje en grondboontjiebotter by en meng deeglik saam.

3. Rasper die appels grof, met die skil, en voeg dit by die mengsel. Meng tot dit saam bind en soos ‘koekiedeeg’ lyk.

4. Rol klein hoeveelhede van die mengsel in die palm van jou hande in klein balletjies.

5. Om af te rond: rol die balletjies in die kakaoboon-splinters, klapper of kakao.

6. Hou in die yskas vir 2-3 dae. Geniet as peuselhappies en pak dit in die gesin se kosblikke vir ’n soet bederf.

Wenk

1. Kies ongesoute en onversoete grondboontjiebotter as jy weer inkopies doen. Die appels gee alreeds ’n soet smaak aan die balletjies.

2. Kakaoboon-splinters (cacao nibs) is by gesondheids- of spesialiteitswinkels beskikbaar. Breek die splinters fyner met ’n stamper en vysel of sit ’n paar in ’n stewige plastieksakkie en rol met ’n rolstok fyner.

Mieliemeelmuffins

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1

Lewer 12 – 15 muffins

Bestanddele

250 ml (1 k) Toeka se growwe geel mieliemeel

10 ml (2 t) bakpoeier

250 ml (1 k) steengemaalde volkoringmeel

2,5 ml (½ t) paprika of cayenne-peper, na smaak

2,5 ml (½ t) sout

250 ml (1 k) karringmelk

3 ekstra-groot Nulaid eiers, geklits

60 ml (¼ k) sonneblomolie

1 x 410 g-blik geroomde suikermielies

45 ml (3 e) sonneblomsaad

nog paprika om bo-op te strooi

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n muffinpan deeglik met olie.

2. Plaas die droë bestanddele in ’n mengbak.

3. Klits die karringmelk, eiers en olie saam. Voeg dit by die droë bestanddele en meng met die suikermielies goed deur.

4. Verdeel die beslag tussen die muffinholtes en strooi sonneblomsaad en ekstra paprika oor. Bak vir 25-30 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.

5. Laat dit vir ’n paar minute in die pan afkoel en keer dan op ’n afkoelrakkie uit.

6. Die muffins is ’n heerlike peuselhappie of pak dit in as deel van ’n kosblik.

Wenk

1. Nog ’n peuselhappie-idee is om groente en kaas op sosatiestokkies te ryg. Sny komkommer en kaas in blokkies en ryg dit saam met gehalveerde kersietamaties op stokkies.

2. Die muffinbeslag kan ook in klein broodpannetjies gebak word.

Pin It on Pinterest

Share This