Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Kosblik 101

Dukkah en kekerertjies met sappige appels, ’n paar kruieblare en saggekookte eiers is ’n lenteslaai uit die boonste rakke. Een van die lekkertes van hierdie tyd van die jaar, is dat daar wonderlike vars produkte is om mee kreatief te wees. Met net ’n paar bestanddele en ’n interessante geurmiddel kan jy met min moeite ’n ete gereed hê. Hierdie slaai is lekker in ’n kosblik en lyk pragtig as die bestanddele in lae in ’n glasfles gepak word om op ’n stoep of vir ’n piekniek te eet. Dis ’n vegetariese ete en lekker lig, maar steeds vullend. Dis vandag Wêreld Beroertedag om ons almal ook weer bewus te maak van hoe nodig ’n gesonde leefstyl is. Een aspek wat vandag baie aandag kry, is die hoeveelheid sout wat in ons etes is. Let veral op na die sout wat jy gebruik wanneer jy kook, hoeveel aan tafel oorgestrooi word en dan die versteekte sout wat in verwerkte produkte is.

In Cooking from the heart se drie resepteboeke is dit ook ’n kos-onderwerp wat baie aandag gekry het. Die boeke is almal gratis op hul webwerf beskikbaar. Daar is baie moeite gedoen om liewer met die regte gaarmaakmetodes, kombinasie van bestanddele en natuurlike geurmiddels lekker en gesonde etes voor te berei, in plaas van net nóg sout. Kruie, soutvrye-speserye en geurmiddels soos suurlemoen, vars gemmer, knoffel en brandrissie is heerlik om in kos te gebruik. Die tweede resepteboek het veral heelwat inligting oor sout en die hoeveelheid sout in sommige verwerkte produkte. Dis juis ook waarom dit belangrik is om dit ’n gewoonte te maak om die etikette van produkte te lees. Die aanbevole hoeveelheid sout wat ons in ’n dag moet eet, is maar net 5 ml (1 teelepel).

Vir vandag se resep is daar ’n paar praktiese maniere om die sout-inhoud van die ete te beperk. Dreineer byvoorbeeld die kekerertjies en spoel dit dan in koue water af voor dit in die slaai gebruik word. Op die manier word die oortollige sout van die water waarin dit ingemaak is, afgespoel. Daar is geen ander sout in die resep nie, want die tuisgemaakte dukkah is net ongesoute neute, sade en speserye. As jy dukkah koop, moet jy oplet na die hoeveelheid sout op die etiket. Die eiers word ook sonder sout gekook, want daar is genoeg geure in die slaai en as jy voel dit het nog iets nodig, is ’n skeut olyf- of avokado- olie en suurlemoensap met nog dukkah of peper heerlik, sonder dat sout nodig is.

JOYA® Appels is nou in winkels beskikbaar en regtig lekker sappig en verfrissend, wat dit ideaal maak vir die slaai. Daar is nie ’n slaaisous nie, maar tussen die appels en saggekookte eiers is daar genoeg elemente om seker te maak dat die slaai absoluut heerlik is. Onthou ook dat gekoopte slaaisous soms baie sout kan bevat. Die pragtige rooi skil van die appels maak die slaai ook sommer kleurvol en laat die ekstra aptytlik lyk. Onthou om nooit ’n appel te skil nie, want die voedingswaarde is juis in of net onder die skil. Die appels is ook veselryk en juis nog ’n manier om die ete voedsaam en vullend te maak. Die natuurlike soet smaak van die appels is heerlik met die speserye in die dukkah en die slaaiblaartjies.

As dit kom by gekookte eiers, het elkeen hul voorkeur vir ’n sagte, loperige eiergeel, effens verder gaargemaak of hardgekook. Hoe jy dit ook al verkies, bly dit ’n voedsame kossoort om deel te maak van etes. Met Nulaid se verskillende groottes eiers om van te kies, kan jy besluit hoe vullend die slaai moet wees. Twee groot eiers per porsie is ’n goeie basis, maar as jy nog meer proteïene wil insluit, kan jy ekstra-groot of selfs jumbo eiers gebruik. Eiers pas ook by ’n wye verskeidenheid van geure en bestanddele, soos die dukkah, slaai-elemente, suurlemoensap en olie in die resep. ’n Loperige eiergeel is lekker in ’n slaai, omdat dit as ‘slaaisous’ gebruik kan word, maar as jy meer van ’n hardgekookte eier hou, is die appel, olie en suurlemoensap genoeg om die slaai te geur.

‘Kekerertjie’ is een van my gunsteling-koswoorde, want dit sê so lekker én dis ’n baie veelsydige bestanddeel. Dit was al met ’n vorige In&UitKosblik die woord van die week wat deur die ATKV geborg is. Die peule is gewild in vegetariese geregte, soos in hierdie slaai en is ook ’n bron van proteïene, so saam met die eiers maak dit die slaai voedsaam en vullend as ligte ete. By die ATKV se nuwe restaurant op Hartenbos, Na Donker en Koswerf, is daar ook vegetariese slaaie waarin kekerertjies as bron van proteïene gebruik word. Die nuwe restaurant het ’n lekker verskeidenheid van geregte op hul spyskaart en die tuisgemaakte roosterkoeke is veral gewild.

Resep

Appelslaai met kekerertjies & dukkah

Lewer 4 porsies

Bestanddele

4 JOYA® Appels

2 x 400 g-blikke kekerertjies, gedreineer

125 ml (½ k) dukkah, verkieslik tuisgemaak (sien wenke)

twee handevol babaspinasie-, mikro-kruie of klein slaaiblare

2 sprietuie, in dun skyfies gesny

olyf- of avokado-olie om mee voor te sit

4-8 groot Nulaid eiers, saggekook (sien wenk)

Metode

1. Sny die appels met die skil in blokkies. Doop dit in water met ’n suurlemoenskyfie of twee daarin, om te verhoed dat die appels verbruin. Hou eenkant tot nodig.

2. Meng die kekerertjies met twee derdes van die dukkah en verdeel die mengsel tussen 4 glasflessies of kosblikke.

3. Pak die spinasie-, kruie of slaaiblare, appelblokkies en sprietuie in lae bo-op. Strooi nog dukkah en ’n paar slaai- of kruieblare op elke porsie.

4. Sit voor met die saggekookte eiers, ’n skeut olie en die orige dukkah. Geur met suurlemoensap na smaak.

Wenke

1. Saggekookte eiers: verhit die eiers saam met kraanwater oor ’n matige temperatuur. Sodra die water liggies prut, begin jy die kooktyd meet. Kook vir 2-3 of 4 minute, afhangende van die grootte van die eiers, en skep in ’n bak met koue water. Sodra die eiers koud genoeg is om te hanteer, kraak die doppe liggies teen ’n oppervlak. Dit sal help om die eiers later makliker af te dop.

2. Tuisgemaakte dukkah (ongeveer 250 ml): rooster 125 ml (½ k) grofgekapte, ongesoute neute bv. amandels of makadamianeute sonder enige olie, oor matige hitte, in ’n pan tot goudbruin. Voeg 125 ml (½ k) sesamsaad by en rooster tot goudbruin. Verwyder van die hitte en meng 2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel en 1,2 ml (¼ t) gemaalde komyn by. Laat dit afkoel en stoor in ’n glasfles of lugdigte-houer.

Pin It on Pinterest

Share This