Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Omelette met groente & kruie

Oct 5, 2018 | Breakfast, Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals, Light vegetarian, Mains, Vegetarian

Kosblik 101

Die eenvoud van ’n eier is dalk juis die rede waarom dit so veelsydig is. Met eiers kan jy in ’n japtrap ’n vullende en voedsame ete voorberei en soveel ander bestanddele is perfekte pasmaats vir dié proteïen-bom. Wat sit jy graag as vulsel in ’n omelet?

Gevulde omelette kan sonder veel moeite met ’n paar interessante bestanddele in ’n gourmet-ete omskep word. En dis beslis nie net vir ontbyt bedoel nie. Dis ook ’n maklike manier om ’n ete gebalanseerd te hou, want met jou keuse van vars vulselbestanddele en ’n slaai daarmee saam, kan jy al die belangrike voedselgroepe insluit. Gebruik dit wat in seisoen is vir die meeste geur en as daar iets uit kleurgroep op jou bord is, is dit reeds gesond en lyk dit sommer ook aptytlik.

Dis ook die beginsel van heelwat van die resepte uit Pharma Dynamics se reeks Cooking from the heart resepteboeke. Die tweede boek het veral ontbyt-idees en selfs vir ligte etes en kosblikke, is daar ’n paar idees met eiers. Die doel van die tweede boek was juis om almal aan te moedig om nie net bokspap as ontbyt te eet nie, want dit kan onnodig baie versteekte suiker, sout en ander ‘leë’ kilojoules bevat. Dan is ’n ontbyt met eiers verseker meer voedsaam en vullend. En as dit by ligte etes kom, is eiers ideaal, want as mens nie tyd of lus het om te kook nie, is ’n omelet blitsvinnig om te maak. En beslis gesonder as nog ’n kits- of wegneem-ete.

Nulaid het ’n verskeidenheid van eiergroottes wat beskikbaar is. Dit maak dit maklik om die regte grootte eiers te kies, na gelang van hoe vullend die ete moet wees. Vir ’n omelet wat as hoofmaal geëet gaan word, kan ekstra-groot of selfs jumbo eiers ideaal wees. Vir ’n ontbyt of ligter ete, is ekstra-groot of groot ’n goeie keuse, so afhangend van hoe groot ’n porsie moet wees, kan die eiergroottes ook gekies word. Twee tot drie ekstra-groot eiers gaan dalk te veel wees vir ’n kind, maar twee groot of ekstra-groot eiers is ’n goeie maaltydporsie vir ’n kind. Vir ’n omelet werk dit uitstekend om een eetlepel (15 ml) water per eier by te klits, sodat die eindresultaat ’n sagte tekstuur het en maklik kan omvou, maar tog stewig genoeg om die vulsel se gewig te kan ‘dra’. Moet nooit eiers oorgaar maak nie, want dan kry dit maklik ’n rubberige tekstuur.

Wees kreatief as dit by die vulsels vir omelette kom. Daar is soveel bestanddele wat op hul eie of in jou eie kombinasies as vulsel gebruik kan word. Byna enige vars kruie is lekker met eier, speserye soos komyn, paprika en garam masala is heerlik en vars produkte soos tamaties, soetrissies, sampioene, spinasie en avokado’s kan in vulsels gebruik word. Proteïene soos tuna en ander vis opsies soos pepermakriel en natuurlik verskillende soorte kaas is altyd lekker. As jy ’n gesonde olie wil deelmaak van die omelet-ete, is avokado altyd ’n wenner of maak seker dat jy ’n gesonde olie, soos olyf- of avokado-olie gebruik om die omelet in te maak. Of sit ’n slaai met die omelet voor en sprinkel neute of sade daaroor.

Die ATKV se Koswerf-restaurante het ’n baie gewilde Spaanse omelet op hul spyskaart wat ewe maklik vir ontbyt of as ligte ete bestel kan word. Of gaan eet ’n roosterkoek by die nuwe Hartenbos Na Donker en Koswerf, met ’n gebakte eier, spek en kaas op en bestel gekaramelliseerde uie as ’n ekstra bykomstigheid vir ’n smullekker ete. Daar is natuurlik heelwat ander spyskaart-items ook om van te kies. Elke ATKV-oord deur die land het sy unieke aantrekkingskrag en deesdae is die Koswerf-restaurante ’n verdere toevoeging wat dit ’n heerlike eet- en kuierplek vir die hele gesin maak.

Resep

Omelette met groente & kruie

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
Lewer 4 porsies

Bestanddele

8-12 ekstra-groot Nulaid eiers (2-3 eiers per persoon)

15 ml (1 e) water per eier

sout en peper na smaak

15-30 ml (1-2 e) olyf- of avokado-olie

 

Vulsel-opsies om van te kies

1-2 sprietuie, in skyfies gesny

1 rooi soetrissie, in dun repies gesny

250 ml (100 g) gerasperde mozzarellakaas

handvol vars dille of 60 ml (¼ k) basiliekruidpesto

ekstra vars kruie om mee voor te sit, bv. Italiaanse pietersielie en dille

Metode

1. Klits 2-3 eiers, met 15 ml water per eier, vir elke omelet. Geur na smaak met sout en peper.

2. Verhit ’n dun lagie van die olie oor matige hitte in ’n braaipan (bv. AMC 24 cm Chef’s Pan) en skink die geklitste eiers vir die eerste omelet in die pan.

3. Verlaag die hitte en besluit watter vulsel-opsies gebruik gaan word. As sprietuie ’n opsie is, strooi daarvan oor die eiers sodra dit begin stol.

4. Lig die gaar eier versigtig al om die rand van die pan met ’n eierspaan, sodat die rou eier onder kan inloop.

5. Plaas die deksel vir ’n paar minute op tot die eiers net gestol het en die onderkant van die omelet goudbruin is. Moenie dat die omelet oorgaar word nie, anders vou dit moeilik toe.

6. Vulsel: Kies die vulselbestanddele waarvan jy hou en skep dit op een helfte van die omelet. Sit die deksel vir ’n paar minute op as daar kaas in die vulsel is, sodat dit bietjie smelt.

7. Vou die omelet versigtig in die helfte en skep op ’n warm bord. Herhaal die proses vir die res van die eiers en vulselbestanddele om nog drie omelette te maak.

8. Sit omelette voor met ’n slaai van bv. roketblare, komkommer, appel en sesamsaad vir ‘n ontbyt of ligte maaltyd.

Wenk

1. Enige vulsel van jou keuse kan in ’n omelet gebruik word. Avokado, sampioene, biltong, tuna of maalvleis is lekker. Groente soos murgpampoentjie, ertjies of tamatie is ook heerlik of gebruik beleë cheddar- of parmesaankaas. Enige vars kruie is ideaal met eier.

Pin It on Pinterest

Share This