Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Mieliepap met tamatiesmoor

Sep 21, 2018 | Accompaniments, Extras, Kosblik 101 / Lunch boxes, Mains, Meat, Sides & salads, Starchy side

Kosblik 101

Mieliepap met ’n tamatiesmoor en wors bly ’n wonderlike ete. Sit ’n paar sampioen-kebabs daarby en jy het ’n smullekker ete. En as jy ’n growwe mieliemeel gebruik, is die pap selfs nog lekkerder. Hoe hou julle van mieliepap? Fyn krummels, met groot klonte of ’n meer loperige tekstuur (slap-pap)?

Met die regte verhouding meel tot water en die regte gaarmaakmetode, is dit maklik om keer op keer mieliepap te kook presies soos julle daarvan jou. Maar, voor ons die mieliepap kook, moet ons ’n paar ander dinge oor pap en ander stysels onthou. Dit bly ’n vorm van koolhidrate en daarom is porsiebeheer regtig belangrik. Vul liewer jou bord met lae-stysel groente of slaai, as om te veel mieliepap op een slag te eet. Deur groente of ander vars elemente as deel van die ete voor te sit, kan jy maklik ook seker maak dat die ete gebalanseerd is. As die mieliemeel lekker grof is, soos die een wat ek hier gebruik, is daar ook heelwat meer vesel en voedingswaarde in die pap as met ’n verfynde weergawe.

En wat sal mieliepap sonder ’n lekker tamatiesmoor wees? Die resep vir die tamatiesmoor kom oorspronklik uit die eerste Cooking from the heart resepteboek in die reeks van drie. Die boekies is almal gratis hier beskikbaar. Aanvanklik was die tamatiesmoor meer in die styl van ’n chakalaka gemaak, met kerriepoeier en bietjie skerper geure, maar vir vandag se ete, word die sous net met vars kruie en gemmer gegeur. Gemmer en tamatie is ’n heerlike kombinasie en die kruie gee die sous amper ’n Italiaanse geur.

Die sampioene op die sosatiestokkies pas heerlik by die pap en wors en is so maklik om te maak. Gebruik ’n verskeidenheid van sampioene en ryg dit op stokkies – onthou om houtstokkies net eers ’n halfuur in koue water te week. Dit help dat die stokkies nie vlamvat nie. Anders werk metaalstokkies die beste. Geur die sampioene met suurlemoensap, olyfolie, sout en peper en rooster dit vir ’n paar minute aan elke kant oor die kole. Of verhit ’n dun lagie olie in ’n pan en braai die sosaties só. Sampioene se vleiserige tekstuur en natuurlike sout smaak, maak dit ’n gewilde groente en selfs vleisvervanger vir vegetariërs. Maar selfs vir vleiseters is die kebabs die perfekte manier om dalk ’n bietjie minder vleis te eet, maar wel ’n gesonde en vullende maaltyd te geniet.

Begin solank oë oophou vir Mushrooms SA se Power of Pink veldtog wat weer in Oktober hervat. Dis ’n veldtog wat in Oktober (borskankermaand) geld insamel vir vrouens wat wees borskanker ondersteuning en behandeling nodig het, maar dit nie self kan bekostig nie. Tydens Oktober word knopiesampioene in pienk bakkies in Pick n Pay-winkels verkoop en vir elke bakkie wat verkoop, word R1 aan die veldtog geskenk. Maak dus die gesonde bestanddele deel van jul etes en sorg op die manier vir julle as gesin en ondersteun in die proses iemand wat dit baie nodig het.

Die mieliemeel waarmee ek vandag die pap maak, is weer van Toeka se Mieliepap. Dis losweg een van die lekkerste tipes mieliepap wat ek al geëet het en die geel mieliemeel is vir my die lekkerste. Toeka se mieliemeel is ’n ongesifte mieliemeel en is propvol natuurlike vesel en vette, wat dit beslis ’n gesonde opsie maak. Daar is ook ’n wit mieliemeel beskikbaar, maar die geel een het ’n besonderse neuterige smaak. Bestel gerus van die meel via hul Facebook-blad. Dit word teen ’n goeie prys vir jou gekoerier, as dit nodig is.

Om pap te kook is nie moeilik nie en met ’n paar praktiese wenke, kan dit net makliker word. Begin in ’n groot genoeg kastrol, want om mieliepap te roer in ’n kastrol wat te klein is, is ’n nagmerrie. Onthou om vir putu-pap/groot klonte die water eers amper tot kookpunt te bring en dan die meel in ’n hopie daarby te gooi. Laat die water daarna liggies met die deksel vir 8-10 minute oor ’n lae hitte prut sodat dit die meel kan stoom, voor dit vir die eerste keer deeglik geroer word. Gebruik ’n groot houtlepel vir die roerwerk. Daarna prut die pap vir ten minste ’n uur oor ’n baie lae hitte, anders brand die pap aan. Roer die pap gereeld in die tyd. Dieselfde metode word vir krummelpap gebruik. Vir slap-pap word die water, meel en sout aan die begin alles saam gemeng en in die kastrol gesit. Dan word dit liggies geprut en gereeld geroer tot die meel gaar is. ’n Groot pot pap kan tot ’n uur kook voor dit regtig gereed is. Sien die wenke hier onder oor watter verhouding water tot mieliemeel jou die beste gaan pas en watter metode die beste gaan werk.

Growwe mieliemeel is baie gewild en meer en meer mense besef deesdae dat ’n onverfynde en minder verwerkte produk nie net gesonder is, danksy die ekstra vesel, ens nie, maar dikwels ook heelwat lekkerder smaak. As jy wonder waar om die meel in die hande te kry, is jou naaste ATKV Koswerf-winkel jou oplossing. Die meel word in die ATKV-winkels op die rakke verkoop, so dis maklik bekombaar as jy daar gaan kuier. Die ATKV is natuurlik ook bekend vir die lekker kuierplekke by die onderskeie oorde. Die nuuste toevoeging tot die reeks Koswerf-restaurante is die een met die ekstra lekker kuier-atmosfeer op Hartenbos. Dit staan bekend as Na Donker en Koswerf en boonop is daar smaaklike roosterkoeke op die spyskaart vir interessante etes. Die Knibbelborde is ook nie te versmaaie nie, want dit kan genoeg wees vir een (honger) gas of twee wat dalk net wil knibbel en kuier. Kyk ook gereeld na Hartenbos se Facebook-blad te sien wat hul vakansieprogram alles inhou.

Resep

Mieliepap met tamatiesmoor

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

Mieliepap

Fyn krummelpap:

750 ml (3 k) water

2,5 ml (½ t) sout

500 ml (2 k) Toeka se geel Mieliemeel

 

Groter klonte (putu-pap):

1 liter (4 k) water

2,5 ml (½ t) sout

500 ml (2 k) Toeka se geel Mieliemeel

 

Sagte pap:

1,25 liter (5 k) water

2,5 ml (½ t) sout

500 ml (2 k) Toeka se geel Mieliemeel

 

Tamatiesmoor

10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie

1 ui, gekap

1 cm stukkie vars gemmer, fyn gekap

10 ml (2 t) gedroogde gemengde kruie

1 x 410 g-blik gekapte tamaties

suurlemoensap en swartpeper na smaak

20 ml (4 t) gekapte vars kruie bv. Italiaanse pietersielie, tiemie of basilikruidblare

Metode

1. Mieliepap: Kies die konsistensie van die pap waarvan jou gesin hou en volg die bypassende metode. Die metode vir krummelpap en die met groter klonte is dieselfde:

2. Verhit die water met sout oor ’n matige hitte in ’n kastrol tot kookpunt (bv. ’n AMC 20 cm High). Skink die meel in ’n hopie in die water en sit die deksel op. Stoom so vir 10 minute en roer dit dan goed deur. Verlaag die hitte en prut stadig met ’n deksel tot gaar, terwyl dit af en toe geroer word. Dit neem ongeveer 40-45 minute.

3. Vir slap pap word die meel, water en sout eers saam geroer en dan oor lae hitte geprut tot dit gaar is.

4. Tamatiesmoor: Berei intussen die tamatiesmoor voor. Verhit olie oor matige hitte in ’n kastrol (bv. ’n AMC 20 cm Low) en braai die ui en gemmer tot sag.

5. Roer die gedroogde kruie en tamaties by en prut oor ’n lae hitte vir 20 minute tot effens verdit en aromaties.

6. Geur met suurlemoensap en swartpeper na smaak en roer die vars kruie by.

7. Sit die tamatiesmoor warm voor op pap saam met braaivleis, boerewors of sampioenkebabs (sien wenke).

 

Wenke

1. Sampioenkebabs: Sny ’n verskeidenheid vars sampioene in kwarte of in die helfte en ryg op kebabstokkies. Verf met olyfolie of suurlemoengegeurde avokado-olie en braai oor matige kole vir 5-10 minute. Geur met swartpeper en vars tiemieblare. Gebruik 10-12 sampioene vir 10-12 kebabs. Die kebabs kan ook in ’n pan gebraai word.

2. Indien verkies, roer ’n goeie skeut olyf- of avokado-olie, botter, heelpitmielies of suikermielies by die mieliepap vir ’n ekstra romerige tekstuur en lekker geur. ’n Kombinasie van olie en mieliepitte is ook baie lekker.

3. Gebruik ’n AMC 24 cm High as jy meer as 2 koppies mieliemeel op ’n slag gaar maak.

Pin It on Pinterest

Share This