Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Romerige mieliepap met geroosterde groente

Sep 14, 2018 | Breakfast, Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals, Light vegetarian, Mains, Vegetarian

Kosblik 101

Mieliepap – wat is die herinnering wat dit by jou oproep? Ek het daarmee groot geword en is baie lief daarvoor, en beslis meer as bygereg met braaivleis, as vir ontbyt. Maar die moontlike maniere om dit voor te sit, strek baie verder as net met braaivleis. Hoe klink geroosterde groente met kaas, neute, kruie en olyfolie op romerige mieliemeel? Dis ewe lekker as laat-ontbyt of vegetariese ete.

Dit herinner baie aan hoe Italianers polenta sal voorsit. Polenta is ’n geel mieliemeel wat dikwels in ’n redelike sagte vorm as stysel voorgesit word met ’n vleisgereg. Polenta, soos mieliepap, het die vermoë om ’n sous ‘op te tel’ en dis een van die redes waarom dit so gewild is.

Geroosterde groente is nie ’n nuwe idee nie, maar dit bly een van die veelsydigste maniere om groente voor te berei. Dit kan warm of teen kamertemperatuur gebruik word en is ewe lekker as bygereg of as slaai met ’n paar roket- of klein spinasieblare en dalk ’n bietjie fetakaas of geroosterde sade. Die resep vir geroosterde groente uit Pharma Dynamics se tweede Cooking from the heart resepteboek, het ons al op vele maniere gebruik, wat juis wys hoe veelsydig dit kan wees. Die resepteboeke is gratis op hul webwerf beskikbaar en in die boek is dit juis as een van die ontbyt-idees voorgesit. Die tweede boek fokus op opsies vir ontbyt, kosblikke en peuselhappies. Die idee was juis om mense te wys hoe maklik dit is om lekker en gesond te eet.

Hierdie resep is ’n heerlike opsie as vegetariese basis en selfs vleisliefhebbers kan by ’n vegetariese ete of twee per week baat vind. Groente is van nature vol vesel en met ’n paar bekende geurmiddels en die roosterproses om dit gaar te maak, word die natuurlike geure heerlik beklemtoon. Enige groente van jul keuse kan gebruik word, maar kombineer groente wat min of meer in dieselfde tyd sal gaar word, of rooster die harde groente soos botterskorsie en patats eerste en sit later groente wat vinnig rooster, soos sampioene, by.

Mushrooms SA  se webwerf is propvol interessante feite oor sampioene en nog baie idees om dit in resepte te gebruik. Sampioene is baie voedsaam en ’n goeie bron van antioksidante, vitamiene en minerale. Dit is beslis iets wat ons gereeld deel kan maak van ons etes. Dis ewe lekker rou in ‘n slaai of kosblik gepak en kan op soveel maniere gaargemaak word. Soteer dit in ’n pan, rooster dit in ’n oond of prut dit in ‘n bredie vir daardie bekende geur. Sampioene se natuurlike sout smaak, maak dit verder gesond, want daar is dikwels minder sout in kos nodig, as dit sampioene in het. Deur die sampioene bv net met vars suurlemoensap en kruie te geur, bring dit klaar die natuurlike smaak van die sampioene na vore.

In Oktober, gaan die organisasie ook weer hul Power of Pink veldtog van stapel stuur. Dit is ’n inisiatief wat al vir nege jaar tydens Borskanker-maand in Oktober gedoen word, om vroue wat borskanker het, te ondersteun. Kyk van Oktober af weer uit vir die pienk bakkies met heel of gesnyde sampioene in Pick n Pay en maak jou bydra, deur van die bakkies te koop. Vir elke bakkie wat verkoop, skenk Mushrooms SA R1 aan die veldtog om na borskankerbehandeling, vroue op verskillende maniere te help. Deur so ’n bakkie te koop, gee jy dus vir ander vroue om, maar ook vir jouself en jou gesin, want julle baat weer deur voedsame sampioene te eet.

Hierdie resep kan vir verskillende etes van die dag geniet word. Nog ’n plek waar daar vir elke ete van die dag voorsiening gemaak word, is by die ATKV se Koswerf-restaurante op die onderskeie vakansieoorde. Daar is vir elkeen in die gesin iets om te kies. As julle dalk gelukkig genoeg is om vir die Oktobervakansie of selfs net ’n naweek op Hartenbos te kuier, kan julle gerus by die splinternuwe Na Donker en Koswerf-restaurant gaan inloer. Daar is heerlike opsies op hul spyskaart en die gevulde roosterkoeke is baie gewild. Of bestel een van hul knibbelborde met ’n koue drankie. ’n Paar borde kan ewe gemaklik tussen familie en vriende om ’n tafel te gedeel word, terwyl almal heerlik kuier. Roosterkoeke is so deel van ons SA kos-erfenis, so as julle op Hartenbos oorbly en self wil braai, bestel van die ongevulde roosterkoeke by Koswerf en maak dit deel van jul braai-ete. Meeste van die ATKV-oorde het ook ’n winkel op die oord, sodat jy alles wat jy nodig het, daar kan aankoop. Een van die nuwe produkte, wat baie gewild is, is Toeka se mieliepap – dis die meel waarmee ek vandag se resep gemaak het. Dis ’n ongesifte mieliemeel en regtig grof en van nature propvol vesel en die natuurlike vette.

Vir solank as wat ek kan onthou, het ons growwe mieliemeel gebruik en dit bly vir my die lekkerste. Deesdae is daar heelwat meer sulke growwer meel in winkels beskikbaar, maar ek het lanklaas ’n mieliemeel geproe wat so lekker soos Toeka se mieliepap is. Dit bevat nog die kiem van die mielies en daar is geen preserveermiddels in nie. Die growwe meel is baie voedsaam en hou jou lank versadig en saam met die groente is daar selfs nog meer vesel in die ete. Die meel is beslis ideaal vir meer as net met braaivleis, want jy kan mieliemeel op verskillende maniere voorsit. Die meel is in ’n geel en wit opsie beskikbaar. Besoek gerus hul webwerf om ’n bestelling te plaas of te sien waar die meel beskikbaar is.

Resep

Romerige mieliepap met groente

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
Lewer 4 porsies

Bestanddele

Geroosterde groente

30 ml (2 e) olyf-of avokado-olie

30 ml (2 e) balsamiese asyn

15 ml (1 e) gedroogde gemengde kruie of gedroogde roosmaryn

2,5 ml (½ t) sout

suurlemoensap en swartpeper na smaak

1 eiervrug, gehalveer en in dun wiggies gesny

3 murgpampoentjies, in dik diagonale skywe gesny

200 g babatamaties, gehalveer

1 rooi soetrissie,ontpit en in repe gesny

200 g bruinsampioene, in dik skywe gesny

 

Mieliepap

500 ml (2 k) Toeka se geel mieliemeel

1,25 liter (5 k) water

2,5 ml (½ t) sout

 

Om mee voor te sit

125 ml (½ k) gerasperde wit cheddarkaas

’n handvol grofgekapte rou amandels, gerooster (sien wenk)

lekker ekstra skeut olyf- of avokado-olie

’n handvol vars kruie bv. Italiaanse pietersielie of basiliekruidblare

Metode

1. Geroosterde groente: Voorverhit die oond tot 200 °C. Meng die olie, asyn, kruie en sout saam in ’n groot mengbak. Geur na smaak met suurlemoensap en peper.

2. Plaas al die groente op ’n bakplaat en giet die asyn-mengsel bo-oor. (Pak elke groente in ’n aparte ry, dan is dit makliker vir elkeen om dit waarvan húlle hou, op te skep.)

3. Rooster die groente vir 25 minute of tot gaar, maar nie pap nie.

4. Mieliepap: Meng mieliemeel, water en sout in ’n kastrol (bv. ’n AMC 20 cm Gourmet High). Bring tot kookpunt oor ’n matige hitte. Verlaag die hitte en prut met die deksel vir 45 minute tot 1 uur of tot gaar. Roer die pap gereeld gedurende die kookproses.

5. Skep lepelsvol van die pap in bakkies met die groente bo-op.

6. Strooi kaas en amandels bo-oor en sit voor met olie en vars kruie.

Wenk

1. Rooster die gekapte amandels oor ’n matige temperatuur in ’n pan, maar wees versigtig, dit brand maklik.

Pin It on Pinterest

Share This