Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Kosblik 101

Braaivleis, rugby, sonskyn en Chevrolet… dis ’n bekende sê-ding uit die 70’s wat mense vandag nog gebruik. Dit het begin as die klingel vir die destydse Springbok Radio. Ek is nie noodwendig passievol oor rugby of Chevs nie, maar vir sonksyn en braaivleis, sê ek enige dag, ‘Ja!’

Braaivleis is ook lankal nie net meer tot steak, tjops en wors beperk nie. Deesdae is daar ’n lang lys van lekkertes wat oor die kole gaargemaak kan word, of met iets wat oor die kole was, voorgesit kan word.

In September vier ons Suid-Afrika se braai-tradisie behoorlik in hierdie mooi land van ons. Daar gaan in die volgende paar weke ’n menigte resepte, idees en voorstelle vir Braaimaand gedeel en oor gesels word. Selfs wanneer dit by bygeregte kom, lyk ons tafels al aansienlik interessanter as toe ek ’n kind was. My filosofie is om dinge so eenvoudig, maar opwindend en lekker as moontlik te hou. En bygeregte vir ’n braaivleis, is beslis nie net styselgeregte nie. Suid-Afrikaners is dol oor pap, brood, aartappelslaai, braaibroodjies, pastaslaai of rysslaai en dikwels is daar meer as een hiervan op die tafel, met net ’n terloopse beduidenissie van ’n slaai.

Die beginsels van ’n gesonde leefstyl, bly belangrik wanneer die bygeregte met ’n braaivleisete beplan word – net soos met enige ander ete. Met ’n gebalanseerde bord kos, maak mens seker dat iets uit elke voedselgroep ingesluit is en dat daar veral nie te veel stysel in die ete is nie. As daar dus reeds een styselgereg is, maak dit meer sin om verder met slaaie en ander groentegeregte jou bord vol te maak. In Pharma Dynamics se drie resepteboekies, Cooking from the heart, is daar ’n wye verskeidenheid van resepte vir bygeregte, van brood en ’n aartappelslaai, tot groentegeregte, slaaie en meer. Die slaaisous vir vandag se slaairesep, is so bietjie aangepas, maar kom uit die derde resepteboek.

Een praktiese stukkie raad uit die resepteboekies is om groente en vars produkte só te kies, dat jou veselinname ook sommer ’n hupstoot kry. As groente uit die verskillende kleurgroepe gekies word, is jul etes alreeds meer gebalanseerd, want elke kleur groente voorsien ’n ander kombinasie van vesel, vitamiene, minerale en antioksidante. Deur met vars produkte te werk en dit self gaar te maak, het jy ook baie meer beheer oor dit wat in jul etes ingesluit word.

Hou slaaie ook liewer eenvoudig en gebruik seisonale bestanddele vir die meeste geur. Die regte kombinasie van ’n paar vars bestanddele, is dikwels meer treffend as ’n lang lys van bestanddele, wat later net met mekaar kompeteer. Vars vrugte en groente in die regte kombinasie kan perfek wees vir ’n slaai. So is ’n bed van slaai- en kruieblare ’n wonderlike basis vir ’n slaai. Sit bestanddele soos komkommer, geblansjeerde boontjies, ryp papaja en rou sampioene by en dis reeds genoeg. Geroosterde sonneblomsade rond dit af met ’n neuterige smaak en krakerige tekstuur. Die slaaisous het geen bygevoegde suiker nie, maar vars kruie en ’n bietjie mosterd, is heerlik saam met die res van die bestanddele.

Sampioene pas by ’n wye verskeidenheid van bestanddele. Daarvan kan die groot variasie van resepte op Mushrooms SA se webwerf getuig. Die natuurlike neuterige smaak van die sampioene pas perfek by die geroosterde sonneblomsade. Dis ewe lekker met die papaja en beide hierdie bestanddele pas uitstekend by die balsamiese asyn in die slaaisous. Sampioene hoef ook nie altyd gaargemaak te word nie, wat dit nog meer geskik maak vir slaaie.

Die bierbroodresep is regtig maklik om te maak en met die pikantrissies, kruie en kaas, het dit ’n besonderse smaak. Pikantrissies is ook bekend as Peppadews®, en is ’n reeds bekende en trots Suid-Afrikaanse produk. Onthou om nie die brood se beslag te veel te roer nie, want dit kan die binnekant baie grof en swaar maak. Warm uit die oond is die brood op sy lekkerste, maar as daar dalk iets oorbly, is die volgende dag se roosterbrood ook nie te versmaaie nie.

Afrikaans is net soveel deel van my erfenis en tradisie as braaivleis. Die skatkis van mooi en beskrywende koswoorde in Afrikaans maak dit sommer ekstra lekker om die kos te maak. Een so ’n woord, is roosterkoeke – heerlik oor die kole gebraai, warm met ’n bietjie botter en kaas. Dis een van daardie woorde wat moeilik in Engels vertaal, want ’n griddle cake of griddle bread, sê net nie dieselfde nie.

Een plek waar jy deesdae roosterkoeke in verskeie vorme kan eet, hetsy as ’n maaltyd, of as bygereg met jou eie braaivleis-ete, is op Hartenbos. Die splinternuwe Koswerf-restaurant en Na Donker se spyskaart sluit onder andere ’n hele paar roosterkoeke met interessante vulsels in. Maar dis nie al wat op die spyskaart is nie. Gaan loer gerus daar in, as julle weer op Hartenbos kuier of as jy op enige van die ander ATKV-oorde kuier, kan die hele gesin by die Koswerf-restaurant gaan aansit vir ‘n heerlike ete.

Resepte

Bierbrood met kruie & kaas

Resep aangepas uit Onthoukos
Maak 1 brood

Bestanddele

450 ml (270 g) volkoringmeel

450 ml (250 g) koekmeel

15 ml (1 e) bakpoeier

5 ml (1 t) sout

180 ml (75 g) gerasperde wit cheddarkaas

45 ml (3 e) vars tiemieblare

6-8 pikantrissies (Peppadews®), in repies gesny

1 x 330 ml-bottel bier of appelbier

125 ml (½ k) water

15-30 ml (1-2 e) sonneblom-, pampoen- of lynsaad of ’n mengsel hiervan

Metode

1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer en voer ’n 1,5 liter broodpan of ander interessante houers bv. leë blikkies van verkillende vorms en groottes of individuele broodpannetjies deeglik met botter.

2. Meng die meel, bakpoeier en sout in ’n groot mengbak saam.

3. Roer die kaas, tiemieblare en pikantrissies by die meelmengsel in.

4. Roer al die vloeistof by die droë mengsel in en roer net tot al die bestanddele goed gemeng is, maar moenie te veel roer nie, want dit kan die brood kluiterig maak.

5. Skep die beslag in die voorbereide pan of houers en sprinkel saadjies oor. Druk saadjies liggies vas en bak brood sowat 45-50 minute of 20-30 minute vir kleiner broodjies of tot ’n toetspen skoon uitkom.

6. Laat brood sowat 2-3 minute in die pan of pannetjies staan. Keer dan dadelik, maar versigtig uit. Sit warm voor.

Wenk

1. Vervang pikantrissies met songedroogte tamaties; of 125 ml (½ k) fyn biltong; of met 60-90 ml (4-6 e) pesto; en die cheddar met pecorinokaas.

Groenslaai met sampioene

Lewer ongeveer 6 porsies

Bestanddele

Slaaisous (Resep aangepas uit Cooking from the heart 3)

45 ml (3 e) olyf- of avokado-olie

30 ml (2 e) balsamiese asyn

15 ml (1 e) suurlemoensap

5-10 ml (1-2 t) gekapte vars roosmaryn- of tiemieblare

5 ml (1 t) korrelmosterd

1,2 ml (¼ t) sout

swartpeper na smaak

 

Slaai

150 g groenboontjies, in derdes gesny

2-3 handevol slaaiblare en kruie bv. roket, koljander- en kruisementblare

¼ komkommer, in die lengte gehalveer en in dun skyfies gesny

1 klein-medium ryp papaja, in dun wiggies gesny

250 g portabellini-sampioene, in kwarte gesny

75 ml (5 e) sonneblomsaad, gerooster (sien wenk)

Metode

1. Slaaisous: Klits al die bestanddele saam en geur na smaak. Of skud alles in ’n glasflessie saam.

2. Slaai: Plaas die boontjies in ’n vlak bak en bedek dit met kookwater. Laat 5-7 minute staan en dreineer deeglik. Spoel dit af in koue water sodat boontjies nie verder gaar word nie en dreineer deeglik.

3. Rangskik die slaai- en kruieblare saam met die res van die bestanddele op ’n groot slaaibord. Strooi die sonneblomsaad oor en sit voor met die slaaisous.

Wenk

1. Rooster sonneblomsade so: verhit ’n pan oor matige hitte en soteer sade sonder enige olie tot geurig en goudbruin. Skud die pan gereeld, want die sade brand maklik. Haal dadelik uit die pan, sodra dit nie verder rooster nie.

Pin It on Pinterest

Share This