Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Eenskottelgebak met aartappel & hoender

Aug 17, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Light poultry, Poultry

Kosblik 101

Met ’n paar basiese bestanddele, kan jy ’n maklike eenskottelgereg voorberei. Dun skyfies aartappel en appel word met oorskiet-hoender en sampioene in lae gepak en met ’n jogurt-eiermengsel bedek voor dit gebak word. Sit dit met ’n slaai voor om al die voedselgroepe vir ’n gesonde aandete in te sluit.

 Aartappels is ’n wonderlike groente om in die huis te hê. Dis nie net ’n lekker vorm van stysel nie, maar ook baie veelsydig. Dit kan gekook, gebak of gerooster word, fyngedruk word vir kapokaartappels, die basis wees van ’n eenskottelgereg of net die stysel met ’n vleis van jou keuse. Dit bly egter belangrik om dit op ’n gesonde manier gaar te maak en die regte porsie vir ’n ete op te skep – een middelslag of twee tot drie klein aartappeltjies is reeds vullend genoeg. Onthou om aartappels so ver as moontlik in die skil gaar te maak, sodat meer van die voedingswaarde behoue bly.

 Nog ’n wenk met aartappels, is om dit nooit in die helder lig te stoor nie. ’n Koel, donker plek is ideaal, want dit verhoed dat die aartappel begin groen word of uitloop. ’n Bruin papiersak is ook ’n lekker manier om dit te stoor – en juis die rede waarom groot sakke aartappels van bruinpapier gemaak word. Dit hou die lig uit, maar kan asemhaal, sodat die aartappels nie sweet nie. Moenie aartappels in ’n yskas hou nie, dit verander die stysel in die aartappel en die eindresultaat is ’n glaserige aartappel. Aartappels SA wil ons almal aanmoedig om gereeld aartappels deel te maak van ons etes. Lees gerus meer oor die gesondheidswaarde van aartappels op http://www.potatonation.co.za

Vir die reeks Cooking from the heart resepteboeke van Pharma Dynamics, was die fokus juis om met alledaagse bestanddele gesinsetes voor te berei wat gesonder en beslis steeds baie lekker is. Met die regte gaarmaakmetode, natuurlike geurmiddels en vars produkte kan mens wondere verrig. Die verskeidenheid van resepte wat in die drie boekies saamgevat is, sluit iets vir elke ete van die dag in en selfs nageregte, gebak en peuselhappies. Kyk gerus op hul webwerf na die res van die resepte as jy na nog idees soek. Die inisiatief om die resepteboekies saam te stel, spruit uit die motivering om mense op ‘n praktiese manier te help om ‘n gesonde leefstyl te volg, sonder dat dit duur of moeilik is. Porsiebeheer is ‘n baie belangrike deel hiervan, of jy die ete by die huis geniet of dit in ‘n kosblik pak. Om ook iets uit elke voedselgroep in te sluit, is nog ‘n manier om etes gebalanseerd en voedsaam te hou. 

’n Aartappelgebak kan op vele maniere voorberei word, maar hierdie weergawe is regtig maklik en die natuurlike soet smaak van die Pink Lady® Appels is ideaal met die res van die bestanddele. Appel en hoender is altyd lekker saam en soos aartappels, pas dit ook baie goed by tiemie. Pink Lady® Appels het die vermoë om pragtig te rooster en hul struktuur te behou, selfs al word dit gebak en die skil behou ook selfs van die mooi pienk kleur. Die appels is nou in seisoen en maklik bekombaar by groot supermarkte. Daar word baie moeite gedoen om die appels te pluk wanneer hul op hul soetste is en dis juis wat die kraakvars, sappige appels so gewild maak. Geniet die appels as peuselhappie, in ’n kosblik of as deel van ’n ete.

 Soppoeier word dikwels in ’n aartappelgebak gebruik – beide as geur- en bindmiddel, maar dit bevat tipies onnodig baie sout en preserveermiddels. Dit is dus iets wat liefs vermy moet word. Daar is wel maklike en heelwat gesonder maniere om dieselfde eindresultaat vir ’n aartappelgebak te verkry. Eiers is heerlik in ’n aartappelgebak en met vier van Nulaid se groot eiers, bind dit die vloeistof en dra verder by tot die voedsaamheid van die gereg. Dié veelsydige bestanddeel kan maar altyd op jou inkopielys wees, want dis regtig propvol voedingswaarde en kan op vele maniere deel word van jul etes. Hierdie resep gebruik ook nie room nie, maar ongegeurde jogurt wat aansienlik gesonder is. Om die elemente saam te bind, is ’n kombinasie van die eiers en ’n bietjie mielieblom genoeg.

 Sonder uie sal ’n aartappelgebak nie dieselfde wees nie. Met Air-Dried Fruit & Veg se gedroogde uie, kry jy dieselfde geur, sonder die nodigheid om eers ’n ui te moet skil en sny. Die vrugte en groente word met ’n natuurlike winddroog-proses voorberei en bevat geen kleur- of preserveermiddels nie. Baie mense is sensitief vir die swael wat in gedroogde produkte gebruik word, maar met hierdie produk, is jy gewaarborg dat dit geen swael bevat nie, maar steeds die kleur en smaak behou. Die natuurlike geur van elke produk kom baie duidelik na vore en as iets soos die uie met vog in aanraking kom, rehidreer dit maklik en lyk feitlik soos die vars produk. Hou die produkte in ’n koel, droë plek om dit so goed as moontlik te bewaar. Sodra die pakkies oopgemaak is, kan dit in ’n lugdigte houer in die yskas gebêre word. Die pakkies is baie gerieflik om in te pak as jy iewers ver moet ry of gaan kamp of stap, want dis lig en regtig lekker om te gebruik. Besoek hul webwerf om te sien waar dit beskikbaar is. 

Resep

Eenskottelgebak met aartappel & hoender

Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 8—10 porsies

Bestanddele

250 ml (1 k) melk

15 ml (1 e) mielieblom

250 ml (1 k) ongegeurde jogurt

4 groot Nulaid eiers, geklits

20 ml (4 t) vars tiemieblare

swartpeper na smaak

6-8 medium aartappels met die skil, in skywe gesny

1-2 Pink Lady® appels met die skil, gehalveer en in skyfies gesny

250 g sampioene, in dun skyfies gesny

500-750 ml (2-3 k) gaar hoender, gepluis (sien wenk)

125 ml (½ k) Air-Dried Fruit & Veg se gedroogde uie

60 ml (¼ k) gerasperde cheddarkaas

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C.

2. Meng die melk met die mielieblom sodat dit geen klonte vorm nie. Roer die jogurt, eiers en tiemie by en geur na smaak met swartpeper. Meng goed deur.

3. Giet van die jogurtmengsel in ’n groot oondvaste bak.

4. Pak die aartappels, appels, sampioene, hoender en gedroogde uie in lae in die oondbak. Eindig met ’n laag aartappel en appel.

5. Skep die res van die jogurtmengsel bo-oor.

6. Strooi die kaas oor en bedek met foelie. Bak vir 45 minute of tot die aartappels gaar is. Verwyder die foeilie en bak vir nog 15 minute of tot goudbruin.

7. Sit met ’n slaai van jou keuse voor.

Wenke

1. Oorskiet-hoender is ideaal vir die gereg. Of kook 3 hoenderborsies aan die been. Sien die Pasta-oondgeregresep, stap 1-3, vir ’n maklike metode om sappige hoender te maak. 

2. Die mengsel kan ook in individuele bakkies verdeel en só gebak word.

Pin It on Pinterest

Share This