Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Kosblik 101

Aartappels is een van die bekendste stysel-opsies vir bygeregte en daar is eindelose maniere om dit gaar te maak, te geur en voor te sit. Een van die gewildste maniere bly ’n aartappelslaai – veral in Suid-Afrika, want daar is min braai-etes wat nie ’n aartappelslaai op tafel insluit nie.

Die groente is inderdaad ’n goeie bron van stysel (koolhidrate) en dus energie. Juis daarom moet mens nie oorboord gaan daarmee nie. Dit is ook waarvan die aartappelprodusente en Aartappel SA ons graag bewus wil maak. Ja, jy kan aartappels in jou etes insluit, maar wees bewus van die manier waarop dit gaargemaak en gegeur word, om seker te maak dat ’n ete nie te veel stysel, sout of vet bevat nie. Die Hartstigting beaam ook hierdie boodskap en beveel aan dat ’n porsie aartappels nie uit meer as drie klein of een middelslag-aartappel bestaan nie.

Ironies genoeg verwys ons na aartappelslaai, maar dis beslis eintlik ’n styselryke bygereg en nie ’n slaai nie. Dis ’n belangrike aspek om in ag te neem as jy ’n ete beplan. Moet dus nie nog ’n stysel van enige aard vir die tafel beplan nie, maar liewer ’n groenslaai of iets wat van bv groen groente berei is, sodat die bord wat jy opskep steeds gebalanseerd is, met iets uit elke voedselgroep.

Om ’n aartappelslaai in mayonnaise toe te gooi, is gelukkig lankal nie meer die enigste opsie vir ’n lekker smaak nie. Kook die aartappeltjies in die skil om soveel as moontik van die voedingswaarde, soos kalium en chroom, te behou en vir ekstra vesel. Vars kruie pas perfek by aartappels, so sit sommer ’n paar takkies vars roosmaryn in die water, wanneer jy die aartappels kook.

Die reeks resepteboeke van Cooking from the heart sluit ook verskillende idees in, wat juis ’n gesonder opsie vir gunstelinge voorstel, van ontbyt-idees, bygeregte, etes met of sonder vleis, nageregte, peuselhappies en natuurlik ook kosblikke. Dit kan alles maklik deel word van ’n gesonde leefstyl, sodat die hele gesin lekker en gesond kan eet. Die resepte in die drie boekies is ook almal bekostigbaar en word met alledaagse bestanddele gemaak. Die boekies word nie in die handel verkoop nie, maar is gratis van hul webwerf beskikbaar.

’n Aartappelslaai word meestal as bygereg geëet, maar as ’n gesonde proteïen, soos eiers, deel is daarvan, is dit ’n heerlike vegetariese ete en natuurlik perfek vir ’n kosblik. Om eiers in ’n aartappelslaai te gebruik is nie ’n nuwe idee nie. Maak net seker dat die verhouding proteïen tot stysel, soos vir ’n bord kos, in balans is as dit as vleislose ete ingepak gaan word. Eiers is so veelsydig, dat dit op vele maniere in etes ingesluit kan word. Dis ook ’n bekostigbare vorm van proteïen, maklik om voor te berei en propvol voedingswaarde. Gebruik ten minste een eier, vir elke porsie aartappels, om seker te maak dis voldoende. Vier of ses van Nulaid se groot of ekstra-groot eiers sal ideaal wees. Kook die eiers hard, kraak die doppe en laat eers afkoel, voor dit in wiggies gesny word. Die kruie-olie wat vir die aartappels gebruik word is ook baie lekker met eiers en ’n heerlike kombinasie.

As die aartappelslaai vir ’n kosblik ingepak word, bly dit belangrik dat die ete voedsaam en vullend moet wees, met iets uit elke voedselgroep. ’n Vars element is dus nodig en ’n Pink Lady® appel is ’n praktiese en maklike opsie. Dit is sommer ’n peuselhappie-in-die-skil en kan as deel van die ete of later geëet word. Kyk in die winkels vir die mooie seisoens-appel met ’n kenmerkende pienk kleur en die nou reeds bekende handelsmerk-plakker met ’n pienk hartjie op. Die appels hang ekstra lank aan die bome en kry regtig spesiale versorging (en liefde) om seker te maak die appels is ekstra lekker. Die bekende soet smaak en krakerige tekstuur van die appel, maak dit ’n groot gunsteling. Dié appels is net so lekker om in slaaie of ander geregte te maak. Kyk gerus bietjie na al die ander idees met Pink Lady® appels op my webwerf. Pink Lady® se eie webwerf het ook ’n smullekker verskeidenheid van resepte – kyk gerus daarna.

Vir die volgende paar weke se In&UitKosblik-insetsels gebruik ek van Air-Dried Fruit & Veg se produkte. Die reeks produkte is ideaal vir wanneer jy gaan kamp of stap, maar die moontlikhede hou nie daar op nie. Dit is net so lekker om in alledaagse bredies, soppe of selfs vir potjiekos te gebruik. Die verskillende groentes en vrugte word met wind uitgedroog en daar is geen preserveermiddels, suiker of swael bygevoeg om dit te bewaar nie. Dit is dus ’n natuurlike produk en die oorspronklike geur van die vars vrug of groente bly uitstekend behoue. Die vrugte kan net so geniet en op vele maniere in kos gebruik word. Anders as met baie ander gedroogte groente, hoef die reeks se produkte nie noodwendig eers gaargemaak of gerehidreer te word om dit te kan gebruik nie. Vir die aartappelslaai is ’n mengsel van gedroogde beet, botterskorsie en krulkool (kale) ’n kleurvolle manier om ’n krakerige element aan die slaai te gee. Die groenterepies is dun genoeg gesny, dat dit maklik deel word van die slaai, in die kruie-olie gebruik kan word en dit is selfs ’n handige peuselhappie.

Resep

Aartappelslaai met kruie

Lewer ongeveer 6 porsies

Bestanddele

Slaai

1 kg baba-aartappeltjies in die skil

sout

2-3 takkies vars roosmaryn

4-6 groot Nulaid eiers, hardgekook, en in wiggies gesny

1 skyf fetakaas, grof gekrummel

1 sprietui, gekap (opsioneel)

Kruie-olie

75 ml (5 e) olyf- of avokado-olie

10 ml (2 t) elk vars gekapte roosmaryn, origanum en Italiaanse pietersielie

varsgemaalde swartpeper na smaak

1 x 15 g pakkie Air-Dried Fruit & Veg se Veg Energy gedroogde groente

Metode

1. Slaai: Plaas aartappels met water, ’n knippie sout en roosmaryntakkies in ’n kastrol (bv. AMC 20 cm Gourmet High). Bring oor matige hitte tot kookpunt.

2. Verlaag die hitte en prut aartappels met die deksel op vir 20-25 minute of tot net sag. Laat effens afkoel. Sny elke aartappeltjie met die skil in die helfte of in kwarte, afhangend hoe groot dit is.

3. Kruie-olie: Meng die kruie en olie en geur na smaak met peper. Roer helfte van die pakkie gedroogde groente by.

4. Meng die kruie-olie met die gaar aartappels, terwyl dit nog effens warm is en laat heeltemal afkoel. Roer die res van die slaaibestanddele by. Strooi die orige gedroogde groente oor die slaai en sit dadelik voor.

5. Pak in as deel van ’n vegetariese ete in ’n kosblik of geniet as ’n ligte maaltyd of bygereg.

Wenk

1. Ander kruie, soos basiliekruid of kruisement sal ook heerlik wees saam met die aartappels.

Pin It on Pinterest

Share This