Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Roerbraai met vark & appel

Aug 3, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals, Light meat, Mains, Meat

Kosblik 101

Met ’n paar basiese bestanddele kan ’n smullekker en vinnige aandete met min moeite voorberei word. En jy kan selfs die groente afwissel na gelang van dit waarvan jou gesin hou. Dié roerbraai se soet-suursousie is in ’n japtrap gereed en ’n heerlike kombinasie met die vark, appel, gemmer en ander groente. Roerbraai is nie moeilik om te maak nie en sodra die vleis en groente gesny is, is die harde werk gedoen – perfek vir ’n aandete in die week, of selfs ’n Vrydagaand.

Onthou dat roerbraai ’n vinnige gaarmaakmetode is, so kies groente en ’n sagte vleissnit wat nie te lank neem om gaar te word nie. Groente soos sampioene, broccoli en soetrissie is gewilde keuses. Dit is ook raadsaam om al die groente vooraf op te sny en die sousbestanddele af te meet, sodat alles in sarsies gebraai en dan saamgeroer kan word. Niks moet te lank gaar gemaak word of kook nie, maar beslis heeltyd roerbraai. Sny dus alles in min of meer ewe dik repies, sodat dit gelyk gaar word en party bestanddele nie nog rou is, terwyl ander dalk al oorgaar is nie. Ek sit teen die einde vinnig ’n deksel op die pan, om iets soos die groenboontjies vinnig gaar te stoom, maar al die vars bestanddele moet nog bros en ‘al dente’ wees. Nog ’n wenk vir ’n roerbraai is dat die bestanddele net met die sous bedek moet word en nie daarin moet swem nie, want dan word dit maklik oorgaar.

Aartappels is ’n lekker stysel om daarmee saam te eet en as jy klein aartappeltjies kook, is dit ook binne 15-20 minute gereed. Deesdae word aartappels as deel van ’n gesonde leefstyl gesien, maar die belangrike boodskap daarmee saam is tweeledig: porsiebeheer bly iets om beslis in ag te neem en verder moet die manier waarop die aartappels gaargemaak word, gesond bly.

As aartappels in die skil gekook word, bly heelwat van die voedingswaarde behoue. Klein aartappeltjies is ook ’n goeie keuse, want dit het ’n kleiner effek op bloedsuiker. ’n Porsie bestaan uit 2-3 klein aartappeltjies (baba-aartappeltjies) of een middelslag aartappel. Aartappels is ook ’n algemeen bekombare groente en bekostigbaar. Onthou om nie aartappels te kook tot dit blus nie, want dan absorbeer dit te veel water en word die geur letterlik ‘afgewater’. Voeg ’n klein bietjie sout by die water, want die res van die maaltyd dra by tot die geurigheid. Aartappels word ook deur die Hartstigting van SA beskou as deel van ’n geonde leefstyl, solank porsies en gaarmaakmetodes bestuur word. Lees meer daaroor op http://www.potatonation.co.za

Pharma Dynamics wil ons almal inspireer om gesond te eet en maak dit boonop met ’n stel Cooking from the heart resepteboekies maklik en prakties. Een van die beginsels van die resepteboekies , is dat tuisgemaakte kos van vars en natuurlike bestanddele, met die regte gaarmaakmetodes die fokus moet wees. Deur dus self ’n roerbraai te maak en dit nie net by ’n restaurant of wegneem-eetplek te bestel nie, het jy baie meer beheer oor dit wat in jul etes ingesluit is. Maak jou eie soet-suursousie en geniet nog steeds iets wat dikwels as kitskos beskou word. Ek kook baie gereeld met Rooibostee en dis dan ook saam met suurlemoensap en sojasous die basis van die sous. Ja, sojasous is redelik sout, maar daar is geen ander sout in die sous of roerbraai nie. Die gaarmaakmetode dra ook verder by tot die geurigheid van die ete, wat alles word liggies geroerbraai/soteer, om juis die natuurlike smake van die bestanddele te beklemtoon – ook iets wat gereeld in Cooking from the heart se resepte toegepas word.

Die soet smaak van ’n Pink Lady® Appel is ideaal om met ’n natuurlike produk, ’n soet smaak aan die roerbraai te gee, sonder dat enige suiker of heuning nodig is. Dié appels is nou in seisoen en die boere wat dit verbou doen baie moeite om die appels ekstra lank aan die bome te versorg, sodat daar genoeg tyd is om die vrugte heerlik soet te laat word. Verder behou Pink Lady® Appels hul struktuur, selfs al word dit gaargemaak – dus ideaal om in geregte te gebruik. Die skil se mooie rooi-pienk blos verdof ook nie heeltemal wanneer die appel gaargemaak word nie en dra by tot die kleurvolle gereg. My gesin is dol oor die appels, of dit nou net so geëet, in ’n kosblik gepak of as deel van ’n slaai of ander gereg is, wanneer dit in seisoen is, het ons altyd ten minste een sakkie in die yskas.

Almal weet dat vleis soms redelik duur kan wees, maar gelukkig is daar baie praktiese maniere om soms met ’n bietjie minder vleis, steeds ’n voedsame ete voor te berei. Een bestanddeel wat beslis hier ’n goeie opsie is, is eiers. Vir die roerbraai, het ek met Nulaid se ekstra-groot eiers enkeleier-omelette gemaak, dit in repies gesny en aan die einde met die res van die bestanddele deel gemaak van die roerbraai. Met ’n effens kleiner stukkie vleis en ’n eier per persoon, is daar dus steeds voldoende proteïene en sommer ook ’n hele klompie ander belangrike voedingstowwe wat deel is van die ete. Nulaid verkoop deesdae ook gepasteuriseerde eiers, wat dus veilig is vir mense soos klein kinders, swanger vroue of ouer mense wat hul immuniteit moet dophou. Kyk gerus vir die mooi nuwe verpakking in winkels.

Iets soos repies botterskorsie is nie ’n tipiese groente om in ’n roerbraai te gebruik nie, omdat dit langer neem om gaar te word en dikwels liewer gekook moet word. As jy wel van Air-dried Fruit & Veg se gedroogde botterskorsie wil gebruik, is dit ideaal. Die botterskorsie is grof gerasper en as dit bietjie geweek het, lyk dit net soos varsgerasperde botterskorsie. Dit kan dus vinnig gaar word en is ideaal wanneer jy dalk sukkel om die vars produk in die hande te kry. Air-dried het ’n hele paar soorte groente en vrugte wat met ’n winddroog-proses op ’n natuurlike manier gepreserveer word. Daar word wel géén preserveer- of kleurmiddels in die bestanddele gebruik nie, so jy kan dit met ’n geruste hart gebruik. Die gedroogde produk is ideaal vir tye wanneer jy weg is van die huis en moet kook, soos wanneer julle dalk kamp of selfs op ’n staptog is. Die botterskorsie sal ook baie suksesvol vir slaaie of selfs gebak, soos muffins, gebruik kan word.

Resep

Roerbraai met vark & appel

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3

Lewer 4 porsies

Bestanddele

180 ml (¾ k) Air-Dried Fruit & Veg se gedroogde botterskorsie

30 ml (2 e) olyf-of avokado-olie

500 g ontbeende varkskouer of -boud, in repies gesny en oortollige vet verwyder

1 rooi soetrissie, ontpit en in repies gesny

20 ml (4 t) fyngerasperde vars gemmer

1 Pink Lady® appel, met die skil, gehalveer en in dun wiggies gesny

7,5 ml (½ e) mielieblom

75 ml (5 e) sterk Rooibostee

45 ml (3 e) suurlemoensap

15 ml (1 e) sojasous

¼ witkool, in repies gesny

100 g groenboontjies, in breedte gehalveer

swartpeper na smaak

4 ekstra-groot Nulaid eiers, vir enkel-eieromelette, in repies gesny

12-16 baba-aartappeltjies, in die skil gekook tot gaar

’n klein handvol vars Italiaanse pietersielie en kruisement, grof geskeur

suurlemoenwiggies om mee voor te sit

Metode

1. Bedek die gedroogde botterskorsie met water en laat dit vir ’n paar minute week om te rehidreer. Hou eenkant.

2. Verhit helfte van die olie in ’n braaipan (soos bv. ’n AMC 28 cm Chefs Pan) en braai die varkrepies tot bruin. Skep uit en hou eenkant.

3. Verhit die orige olie en soteer die soetrissie, gemmer, botterskorsie en appel vir ’n paar minute.

4. Meng die mielieblom met ’n bietjie van die tee om ’n pasta te vorm. Voeg die suurlemoensap, orige tee en sojasous by en meng goed.

5. Roer die kool by die groente en appel in die pan en soteer vir ’n paar minute. Die groente moenie pap word nie.

6. Giet die sous in die pan en roer deur om die groente daarmee te bedek. Voeg die vleis en groenboontjies by en meng deur.

7. Bedek vir ’n paar minute met die deksel sodat die groenboontjies effens stoom, maar dit moet nog steeds heldergroen en steeds bros wees. Geur met swartpeper.

8. Roer eierrepies by en meng versigtig deur om te verhit.

9. Breek die aartappeltjies met ’n vurk en skep die roerbraai bo-op. Rond af met die pietersielie of kruisementblare en sit met suurlemoenwiggies voor.

 

Wenke

1. Indien jou pan te klein is, soteer die groente in sarsies. Meng alles dan saam wanneer jy die sous byvoeg.

2. Die enkel-eieromelette is letterlik een geklitste eier wat soos ’n pannekoek gebak word. Sien die skakel hierbo vir meer inligting.

Pin It on Pinterest

Share This