Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Aartappel-&-appelkoekies met kruie

Jul 27, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals, Sides & salads

Kosblik 101

Moenie dat die moeite om elke week vir jou gesin kosblikke te pak, jou laat moedeloos word nie. Met ’n bietjie beplanning, ’n paar basiese beginsels en ’n goeie resep, is die stryd maklike gewonne. Soos met enige ete, behoort ’n kosblik ook ’n gebalanseerde ete met iets uit elke voedselgroep te wees, want dis tog ’n maaltyd, net weg van die huis af. 

Kosblik-etes is beslis meer as net nog ’n toebroodjie. Daar is so baie wat jy in ’n kosblik kan pak om dit interessant en sommer ook gesond te maak. Die beste wenk is om jou week se etes só te beplan dat jy elemente van ’n aandete, sommer ook vir kosblikke kan gebruik. Dit spaar nie net tyd nie, maar maak die dinkwerk soveel minder. 

Vir vandag se kosblik, is aartappel-en-appelkoekies met ’n lekker bolaag op die spyskaart. Dit kan as die bygereg vir ’n aandete gemaak word, maar is net so lekker as peuselhappie. Die kombinasie van aartappel en appel is baie interessant en beide bestanddele pas by origanum, so dis sommer ekstra geurig. Aartappel en appel word beide met die skil, grof gerasper en met ’n paar bestanddele gemeng en in dan in ’n pan gebraai. Vir ’n kosblik of as peuselhappie, is dit lekker met ’n maaskaas-bolaag. Jy kan kies of jy die maaskaas met tuna of kruie wil geur of dalk net tahini (sesamsaad-pasta) wil meng, om ’n vegetariese ete voor te sit. 

Aartappels word deesdae as deel van die Hartstigting se gesonde eetplan erken. Die belangrike boodskap wat daarmee saam beklemtoon word, is dat aartappels op ’n gesonde manier gaargemaak moet word. Porsiebeheer is natuurlik ook altyd noodsaaklik. Om dit prakties te maak, kan jy reken dat een middelslag aartappel of 2-3 klein aartappeltjies ’n porsie is. Maak dit met die skil gaar om seker te maak dat soveel as moontlik van die voedingswaarde behoue bly. Aartappels is veelsydig en hierdie resep is ’n goeie voorbeeld daarvan. Dis die boodskap waarvan Aartappels SA en hul aartappelprodusente ons graag bewus wil maak. Lees gerus meer op http://www.potatonation.co.za

Pharma Dynamics het sedert 2012 ’n reeks resepteboeke, Cooking from the heart , saamgestel om ons almal op ’n praktiese manier aan te moedig om ’n gesonde leefstyl te volg. Dit is in samewerking met die Hartstigting gedoen en elke resep is deur hul dieetkundiges goedgekeur. Die resepte is met alledaagse bestanddele en bekende geurmiddels voorberei, sodat dit vir almal bekostigbaar en haalbaar is om voor te berei. Gesonde beginsels is die basis van elke resep uit die boek. 

Nog ’n praktiese plan om ’n gesonde leefstyl te volg, is om met seisoenale bestanddele te werk. Dis nie net ’n manier om die aanbevole 5-’n-dag deel te maak van jul etes nie, maar vrugte en groente wat in die regte seisoen van die jaar geëet word, is net soveel geuriger en maklik bekombaar. Pink Lady® Appels  is kraakvars en heerlik sappig en het so ‘n mooi blos, dat dit sommer nog lekkerder lyk en smaak. Onthou om die geurige appels met hul mooi pienk skil te gebruik en dit nooit af te skil nie, want soveel van die voedingswaarde en lekkerte sit in die skil. Dis die perfekte kombinasie met aartappels en kruie soos origanum en tiemie en ‘n ideale manier om op ‘n natuurlike manier ‘n soet smaak aan ‘n gereg te gee. 

Hierdie aartappel-en-appelkoekies word saamgebind met meel en dan natuurlik eiers. Met twee van Nulaid se ekstra-groot eiers word die res van die bestanddele gebind, sodat dit maklik in ’n pan gebraai kan word. Dit dra natuurlik ook verder by tot die voedingswaarde van die koekies. Eiers is een van daardie veelsydige bestanddele in ’n kombuis en kan vele verskillende funksies in resepte vervul. Dis ook nie net ’n bron van proteïene nie, maar gesonde vette, vitamiene, minerale en antioksidante wat alles nodig is vir gesonde eetgewoontes. So of jy daarmee bak, dit kook of in ’n pan braai of deelmaak van ’n gereg op ‘n ander manier, sluit eiers beslis op vele manier in jul weeklikse ete in. 

Air-dried Fruit and Veg , is ’n maatskappy vir wie gesonde eetgewoontes belangrik is. Hulle doen baie moeite om vrugte en groente met ’n winddroog-proses te preserveer, sodat soveel as moontlik van die geur behoue bly, sonder dat kleur- of geurmiddels gebruik word. Dit bevat ook geen suiker, maar behou steeds die natuurlike en bekende geur van elke vrug of groente. Hulle gebruik dit wat in seisoen is, om seker te maak dat die eindproduk ook soveel as moontlik geur het. Vrugte soos aarbeie, lemone en pynappel word dun gesny en dan uitgedroog en kan op vele maniere gebruik word. Die groente soos uie, botterskorsie en beet is ewe veelsydig om in geregte te gebruik. Vir die resep vervang dit ’n vars ui wat dit sommer makliker en vinniger maak om voor te berei, want jou oë gaan nie van dié ui traan nie, maar daar is geen tekort aan geur nie. Loer gerus op hul webwerf om te sien waar die produkte beskikbaar is. 

Resep

Aartappel-&-appelkoekies met kruie

Resep aangepas uit Maak vyf
Lewer 4—6 porsies

Bestanddele

4 medium aartappels, met die skil aan

1 Pink Lady® appel, met skil aan

30 ml (2 e) suurlemoensap

80 ml (⅓ k) van Air-Dried Fruit & Veg se gedroogde uie

60 ml (¼ k) koekmeel

2 ekstra-groot Nulaid eiers, geklits

45 ml (3 e) gekapte vars origanum of tiemie

sout en peper

45 ml (3 e) olyf- of avokado-olie vir braai

Metode

1. Rasper die aartappels en appel grof in ’n groot mengbak. Werk vinnig sodat dit nie verkleur nie. Druk al die oortollige vloeistof uit. Roer die suurlemoensap deur die aartappels en appel.

2. Voeg die res van die bestanddele by, buiten die olie, en geur na smaak.

3. Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n braaipan (bv. ’n AMC 28 cm Chef’s Pan). Skep lepelsvol van die mengsel in die pan en druk dit effens platter. Braai aan weerskante tot goudbruin. Sit ’n deksel op en prut vir 3-5 minute of tot gaar.

4. Dreineer op kombuispapier en herhaal met nog olie en die res van die mengsel. Sit warm of teen kamertemperatuur voor of pak ’n paar koekies in as deel van ’n kosblik.

Wenke

1.  Meng gedreineerde tuna met maaskaas en bedien as ’n bolaag saam met die koekies. Meng van die Air-Drieduie (sien resep) en vars origanum by die maaskaas vir ekstra geur. Of roer tahini (sesamsaad-pasta) na smaak by maaskaas vir ’n vegetariese bolaag.

2. Maak kleiner koekies en gebruik as snoephappies. Skep crème fraîche of gladde maaskaas bo-op en garneer met gerookte salm en kruie. Biltong en avokado is ’n heerlike bolaag. Probeer ook hoemoes, komkommer en kruisement, of tzatziki.

Pin It on Pinterest

Share This