Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Appel-&-hawermoutmuffins

Jul 13, 2018 | Desserts, sweet treats & baking, Kosblik 101 / Lunch boxes

Kosblik 101

Met meeste van die skole wat dié week vir die derde kwartaal heropen, is kosblik-pak van nuuts af op die agenda. Dié lekker muffins is propvol vesel en met die kombinasie van hawermout, appel, kaneel en amandels- iets wat almal sal geniet. Dit het ook niks meer nodig, soos kaas of konfyt, om mee voorgesit te word nie. 

Selfs wanneer ’n kosblik gepak word, bly dit belangrik om die ete gebalanseerd te hou, met iets uit elke voedselgroep. Dit geld vir die hele gesin. Leer ook sommer jou kinders van kleins af om nuwe smake en teksture te geniet, want dit maak jou lewe vorentoe net soveel makliker. Om jou kinders ook die beginsels van ’n gesonde leefstyl te leer is nie so moeilik nie en oor die langtermyn sal dit beslis tot hul voordeel wees. Dis juis die uitgangspunt van Cooking from the heart  se reeks resepteboeke, met basiese beginsels en praktiese inligting. Die boekies moedig ons almal juis aan om as gesin gesonde eetgewoontes te kweek en dit ’n leefstyl te maak. 

Bestanddele soos hawermout is inderdaad gesond, want dit is hoog in vesel en dit  help om jou bloedsuikervlakke en cholesterol te beheer. Ongelukkig is kinders (en heel party grootmense) minder lief daarvoor as ontbytpap. Gelukkig is daar vele ander maniere om dit deel te maak van verskillende etes. Hierdie muffins is ’n goeie voorbeeld. Hawermout is ook ideaal om in frikadelle, bobotie of viskoekies as bindmiddel te gebruik. Onthou om ook ’n voorbeeld vir jou kinders te wees en self die kosse deel te maak van jul etes. 

Pink Lady® appels is die room van die seisoen se oes. Die appel se bekende pienk blos en hartvormige handelsmerk laat mens sommer dink aan al die moeite en liefde wat in die verbouing van dié mooi, sappige appel gesit word. Ondersteun die plaaslike boere en kyk gerus vir die appels in die winkel. Hulle is nie net geskik as peuselhappie of in ’n kosblik nie, maar jy kan met groot sukses dit in slaai, verskillende soutgeregte, nageregte en natuurlik gebak, soos die muffin, gebruik word. Die soet, sappige smaak van die appels beteken ook dat minder suiker in die muffinbeslag gebruik hoef te word. Deur ’n muffin dus só met ’n natuurlike bestanddeel soet te maak, is beslis gesonder en die appel dra ook by daartoe dat die muffin veselryk en vullend is. Onthou om nie die appel af te skil voor dit gerasper word nie – ook nie vir die skyfies wat bo-op gepak word nie.
’n Lekker kosblik-wenk: as jy vir jou kinders appelwiggies wil inpak, spoel dit vinnig in water af, om te verhoed dat dit verbruin. 

Dieselfde wenk geld vir ’n halwe avokado, wat ideaal is om in ’n kosblik te pak. Sny bv. ’n donkerskil avokado met die skil, in die helfte, spoel vinnig af in water en pak dit met die gesnyde kant na onder in ’n kosblik, dan bly dit soveel langer vars. Avokado’s is ook nou in seisoen en daar word hoofsaaklik tussen groenskil (met ’n dun skil) en donkerskil-avo’s (die avo se skil word donker soos dit ryp word) onderskei. Onthou, as die avokado ryp is, is dit maklik om te kyk of die stingeltjie maklik uitgetrek kan word. Indien wel, is die ryp. Maar onthou, as ’n avo eers gesny is, word dit nie verder ryp nie, so maak seker dit is wel gereed. Terwyl die avo’s in seisoen is, kan jy maklik ’n sakkie harde avo’s koop en dit in sarsies laat rypword. Sodra dit ryp is, is dit beter om die avokado’s in die yskas te sit tot jy dit nodig het. Laat ’n avo vinniger rypword, deur dit saam met ’n piesang te sit, of in ’n stuk koerant te vou of in ‘n bruin papiersak te sit. Avokado pas by soveel geure, dat jy dit amper saam met enige gereg kan geniet. Dit bevat ook heelwat gesonde olies, dus ideaal om in etes of ’n kosblik in te sluit. Kyk gerus na meer idees en resepte met avokado’s op https://www.avocado.co.za/ en maak ’n halwe avokado, met hoender, vars groente en ‘n paar neute, ’n gebalanseerde kosblik, want onthou, die muffin is die stysel vir die été. 

Min gebak kan sonder eiers met sukses gedoen word en hierdie muffin is geen uitsondering nie. Met Nulaid se verskeidenheid eiergroottes, kan jy vir elke doel of eindresultaat die regte grootte kies. Ekstra-groot eiers werk uitstekend vir gebak, want dit dra ook by tot die vloeistof van die beslag, bind dit natuurlik saam en verleen ’n sagte tekstuur aan die muffins. Eiers is ook ’n goeie bron van verskeie voedingswaarde, soos gesonde vette, anti-oksidante, vitamiene en minerale – nog meer rede om dit op verskillende maniere in resepte te gebruik. 

Resep

Appel-&-hawermoutmuffins 

Resep aangepas uit Maak vyf/ Make five
Lewer 12 – 15 muffins 

Bestanddele

125 ml (½ k) sagte bruinsuiker

7,5 ml (½ e) gemaalde gemengde speserye

10 ml (2 t) gemaalde kaneel

500 ml (2 k) koekmeel

250 ml (1 k) volkoringmeel

250 ml (1 k) rou hawermout

7,5 ml (½ e) bakpoeier

125 ml (½ k) grofgerasperde Pink Lady® appels, met die skil aan

125 ml (½ k) gedroogde bosbessies of rosyne

80 ml (⅓ k) sonneblomolie

10 ml (2 t) vanieljegeursel

2 ekstra-groot Nulaid eiers, geklits

500 ml (2 k) karringmelk

1 Pink Lady® appel, in dun skyfies gesny en skyfies gehalveer 

30 ml (2 e) gekapte amandels

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n muffinpan deeglik met botter of olie.

2. Meng die suiker en speserye saam en hou 15 ml (1 e) eenkant. Meng die res van die suiker en speserye saam met die koek- en volkoringmeel, hawermout en bakpoeier in ’n groot mengbak. Roer die gerasperde appel en bosbessies of rosyne goed deur.

3. Klits die olie, vanielje en eiers saam. Voeg met die karringmelk by die meelmengsel. Vou die vloeistof liggies deur die droë bestanddele tot dit net deurgemeng is. Moenie te veel meng nie.

4.  Skep die beslag in die muffinholtes. Plaas 3-4 appelskyfies op elke muffin en druk liggies in die beslag.

5. Meng die res van die kaneelmengsel met die amandels en strooi bo-oor die muffins.

6.  Bak vir 30-35 minute of tot goudbruin en ’n toetspen skoon uitkom. Laat ’n paar minute afkoel en keer dan die muffins versigtig uit die pan. Laat op ’n afkoelrakkie afkoel.

Wenke

1. Pak die muffins in ’n kosblik met avokado, vars groente soos groenboontjies en tamatiewiggies, neute en oorskiet-hoenderporsies vir ’n gebalanseerde maaltyd. 

2. Dis ’n lekker vullende muffin vir kinders wat nie van ontbyt hou nie, maar iets voor skool moet eet. 

Pin It on Pinterest

Share This